Sirkel: Paarl
Tak:Wellington
Kersfees
Beriggewer: Juanita Loubser
Datum van gebeurlikheid: 26 November 2020
Oor ‘n maand lek almal hul lippe af en is knuppeldik gesmul aan die kreunende Kerstafel se disse. Gaan dit ’n weelderige of eenvoudige Kersfees wees in 2020? Baie huise skaal af hierdie jaar en daar is tog dié wat voel Kersfees moet darem saam met familie of selfs vriende gevier word as dit kan.
Kers dekor
Kersfees is ‘n tyd vir gee en omgee, maar ook met perke .Soms met eenvoudige tafel décor kan jy soveel regkry . Met vinnige en anderse kos, kan jy as gasvrou ook lekker saamkuier om die tafel i.p.v heeldag voor die stoof staan. Ons bly in Suid-Afrika en 25 Desember is somer by ons. Daarom deel ons hierdie maand met ons tak se Kersafskeid vele idees rondom die Feestyd. Jy kan dit vir Oukersaand, Kersdag of selfs met Nuwejaar benut.
Elke sameroeper het hierdie jaar by ons afskeid ‘n Kerstafel vir haar portefeulje gedek, net soos sy wil . Beppie Altintopi het vir almal Kamma-kreef gemaak as voorgereg en dit is bedien met volgraanbrood wat beoordeel is as kompetisie-item.
Tafels gedek vir Kersfees
Thea Kritzinger het idees gedeel vir ponse.
Thea Kritzinger maak lekker pons vir die droë kele
“Onthou jy nog die ou kamma kristal bak met die bekertjies wat so langs die kant gehaak het? Die geblikte vrugtekelkie en die pynappelmoes? Vandag is vrugtepons steeds ‘n heerlike manier om almal se dors te les by die Feestafel en jy kan self besluit hoeveel skop jy daarin wil sit.”
GEMMERBIER – SANGRIA
2 x 750ml witwyn (sauvignon blanc)
1l sodawater
600 ml gemmerbier
80 ml vlierblomstroop (elderflower)
4 perskes, ontpit en in skywe gesny
Vars bessies soos kersies, framboos en aarbeie
1kg gebreekte ys
Eetbare blomme vir garnering
Meng alles saam vir die sangria. Vul ‘n groot glashouer met gebreekte ys en gooi die sangria daaroor. Garneer met eetbare blomme
LIETSJIE-EN-VANIELJEPONS
3 x 410g blikke lietsjies
1 vanielje peul se sade of 5 ml vanielje geursel
200 ml goeie Tequila (opsioneel)
1kg gebreekte ys
2 l sodawater
Plaas lietsjies met sap in ‘n middelslag pot. Voeg vanieljesade of geursel by en bring tot kookpunt. Verwyder van hitte en laat effends afkoel. Puree en druk mengsel deur ‘n sif. Plaas in yskas tot koud. Voeg tequila by en meng deur. Plaas gebreekte ys in groot ponsbak. Voeg lietsjiemengsel en sodawater by. Roer deur en sit voor.
BESSIE EN SUURLEMOENPONS
500g gevriesde gemengde bessies, ontvries
2 stingels sitroengras (llemongrass)
200 g suiker (1 koppie)
Sap en gerasperde skil van 3 suurlemoene
500 ml water
1 kg gebreekte ys
750 ml vonkelwyn (of sodawater as jy nie skop wil hê nie)
Plaas die bessies, sitroengras, suiker , sap en skil van suurlemoene en water in ‘n groot pot en bring tot kookpunt en laat kook vir 10 min.
Laat afkoel, verwyder sitroengras stingels en versap die res. Plaas in yskas tot yskoud.
Plaas gebreekte ys in ‘n ponsbak en gooi die Bessie stroop oor. Voeg die vonkelwyn of sodawater by en meng deur. Sit voor met ekstra stingels sitroengras.
WAATLEMOEN EN KRUISEMENTPONS
1 Waatlemoen geskil en in blokkies gesny
Handvol kruisement plus ekstra vir garnering
Gerasperde skil van 3 lemmetjies
125 ml wit rum
1 kg gebreekte ys
2 l lemonade
Puree waatlemoen en kruisement met ‘n staafmenger en druk deur ‘n sif om die pitte uit te kry.
Plaas in die yskas tot koud. Meng die koue waatlemoensap met lemmetjie skil en rum
Plaas gebreekte ys in ‘n ponsbak en gooi die waatlemoensap en lemonade by. Meng deur en sit voor met ekstra kruisement.
ROOIBOSTEE EN PERSKE PONS
6 sakkies rooibostee
2 liter kookwater
1 gemmerwortel
200g suiker
200 ml goeie brandewyn (opsioneel)
1 kg gebreekte ys
6 perskes ontpit en fyn gesnipper
1 l gemmerlimonade (ginger ale)
Plaas rooibostee sakkies, kookwater, gemmer en suiker in ‘n middelslag pot en bring tot kookpunt. Laat staan tot afgekoel. Verwyder die teesakkies en giet mengsel deur ‘n sif. Plaas in die yskas tot yskoud. Voeg brandewyn by en meng deur.
Plaas ys in ‘n groot ponsbak en giet die rooibostee mengsel oor. Voeg perskes en gemmerlimonade by. Meng en sit voor.
Gerda Smit ontbeen die varknek
Gerda Smit demonstreer die ontbeen van ‘n varknek en verduidelik hoe om dit Kajun-styl gaar te maak en bedien dit met ‘n pynappel blatjang.
June Smit en Juanita Loubser maak heerlike koue Hoender- & Pekanneutslaai en bedien dit op koeskoes en roketblare.
Koue hoender en pekanneutslaai op koeskoes
Laaste is mos maar altyd vir die soettand en hier word vir elke tafel ‘n Pavlova met Chantilly-room gevul en vrugte en bessies in seisoen rond dit af.
Soettand lekkerte – vrugte pavlova
Wat ‘n Feesmaal.
Almal sit om die Feestafels terwyl Karen Barnard ‘n Kersboodskap voorlees . As jy kyk na die Marktafel wat gekreun het onder soveel lekkernye en tuisgemaakte items, kon jy al jou Kersaankope ook nog doen..
Vars produkte op die Marktafel
Die lekkerte van die oggend was dat almal om die tafels kon kuier en geniet en dit soos regte Kersfees gevoel het met die uitruil-geskenkies ook nog . Op Boney-M se Little Drummer Boy en Jingle Bells kon almal sommer in die Kersgevoel kom en positief dink vir die laaste deel van 2020.
Ons sien uit na 2021!!!
Ellen Nortier, Ansie Louw en Viodie Malan reg vir geskenke uitruil
Amelia Jacobs en haar dogter Soné de Jager kuier ook saam.
Renetha Jurgens geniet die lekker kos en kry idees van décor.
Feestelik lyk Beppie se tafel so waar.
Anna Cillié geniet haarself.
Francina Marais (nuwe vise-voorsitter) neem oor by Thea Kritzinger
2021 SE BESTUUR VAN WELLINGTON VLV IS VERKIES
FRANCINA MARAIS(onder-voorsitter), KAREN BARNARD (sekretaresse), ELSA AEBI, BEPPIE ALTINTOPI, CORRIE MULLER, JUNE SMIT (tessourier), JUANITA LOUBSER (voorsitter), AMELIA JACOBS, GERDA SMIT
Leave A Comment