Sirkel: Overberg
Tak: Kleinmond
Afsluiting
Beriggewer: Hermien Van Zyl
Datum: 24 November 2020
Dit was amper vreemd vir die lede van VLV-Kleinmond om ‘n jaar af te sluit wat eintlik nie was nie! Maar op die datum wat geskeduleer was vir die laaste vergadering van die jaar, het 30 van die bestuur en lede by die Meating Restaurant op Kleinmond bymekaar gekom en ‘n heerlike ontbyt saam geniet. Terselfdertyd is die verkiesing van die nuwe bestuurslede vir die termyn vanaf 2021 bekragtig en ‘n toekenning is oorhandig aan die redaksie van die plaaslike koerant, die Overstrand Herald wat hulle 25ste bestaansjaar gevier het. Dis ontvang deur die redakteur, Gerard Grobbelaar, wat die VLV geloof het vir die positiewe nuus wat deur die tak se werksaamhede uitgedra word en waaroor hulle graag berig. Annie Jooste, vise-voorsitter en waarnemende voorsitter, was die seremoniemeester. Sy het die lede bedank wat deur die onderskeie portefeuljes se whatsapp-groepies met mekaar in verbinding gebly en mekaar bemoedig het. Geeneen van die lede is deur Covid-19 aangetas nie en sy het die lede geloof vir die verantwoordelike wyse waarop die pandemie hanteer word.
Van die lede sit aan vir die heerlike ontbyt. V.l.n.r. Anne Meershoek, Daphné Loots, Ans de Kock en Phillippa Marks.
Vars lemoensap, geroomde roereier, spek, beesrib en delikate skyfies!
Afgesluit met heerlike koffie en ‘n appeltertjie en ‘n geskenksjokolade vir elke lid van ons nuwe voorsitter.
VLV-Kleinmond se dagbestuur: V.l.n.r. agter staan Annie Jooste (vise-voorsitter), Hermien van Zyl (sekretaresse) en Ria Coetzee (tesourier) terwyl Louise Bruwer, nuutverkose voorsitter, voor sit.
Ria Coetzee, tesourier, saam met Jean Landman, die nuwe taksaamroeper vir Landbou&Tuinbou
Elke bestuurslid en takbeoordelaar het ’n pragtige ruiker van die nuwe voorsitter ontvang. Hier is die tak se hulp-sekretaresse, Brenda Neethling, met haar ruiker.
Alice van Rooyen, die tak se mediapersoon verantwoordelik vir plaaslike beriggewing het die toekenning aan Gerard Grobbelaar, redakteur van die Overstrand Herald, oorhandig.
Die toekenning.
Ilna Grobbelaar, beriggewer en mede-eienaar van die Overstrand Herald, het ‘n geskenkpakkie van Alice ontvang.
Hermien van Zyl, sekretaresse, het vrugtekoeke oorhandig aan Annie Jooste (op die foto) wat as voorsitter waargeneem het tot die nuwe voorsitter verkies is, en aan Louise Bruwer, die nuwe voorsitter.
Leave A Comment