Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: In Memoriam

Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger

Datum: 19 November 2020

Sarie Leyden, ‘n geliefde lid van die Kuruman VLV-tak het op Saterdag 7 November 2020, 13 dae voor haar 85ste verjaarsdag, wat op 20 November 2020 sou wees, gesterf.

                     

Sarie Leyden by 2018 se VLV Sirkel Kalahari Konferensie in Vryburg.

 

Sarie Leyden by ‘n VLV-vergadering met haar gebak- en ‘uit my tuin’-inskrywings.

 

Sarie het in November 2003 by Kuruman VLV-tak aangesluit en was dus vir 17 jaar lid van dié tak. Sy het gereeld aan kompetisies deelgeneem op tak- en sirkelvlak. Sy het byvoorbeeld vir 2020 se konferensie nog ‘n smokrokkie gemaak, twee kantagtige kussingslope gebrei, twee fantasie diertjies gehekel en ‘n laslap drasak gemaak!

 

Sy het ook graag VLV konferensies, kongresse en inligtingsdae en kursusse bygewoon.

Sarie Leyden in die middelste ry, tweede van regs tydens Sirkel Kalahari se 2016 Konferensie in Reivilo.

Sarie Leyden, tweede van links in die heel voorste ry by Sirkel Kalahari se Inligtingsdag wat in Vryburg gehou is in 2018.

     

Kussing kursus          Sarie Leyden op die punt van die tafel en heel regs in die voorste ry by ‘n Kussingkursus wat in 2017 in Kuruman aangebied is.

2017 Kongres Langebaan. Sarie Leyden heel regs in die voorste ry by die VLVK Kongres wat in Langebaan aangebied is in 2017.

Sy was in 2017 nog saam na die kongres in Langebaan. Die kosbare herinnering van Voorsitter Marianne Vorster wat vir Tannie Sarie in ‘n rolstoel oor keistene stoot, was vir lede kenmerkend van daardie kongres.

Sarie was van 21 September 2020 tot haar afsterwe op 7 November 2020, in Bloemfontein in verskeie hospitale.

Sy is aanvanklik opgeneem vir toetse in Busamed Privaathospitaal. Sy het swak en moeg gevoel en haar hande en voete het opgeswel en sy wou graag weet wat die oorsaak daarvan was. Die toetse het ongeveer ‘n week in die hospitaal geneem.

Sy het in die hospitaal geval en haar heup gebreek. Twee dae later het sy ‘n heupvervanging gehad. Alhoewel die operasie ‘n sukses was, het haar hart ‘n knou gekry. Sy het in Busamed ICU gelê.

Sy is oorgeplaas na MediClinic ICU, omdat daar ‘n hartteater en kardioloë is. Hulle het haar daar gemonitor en medikasie vir haar hart gegee. Sy het longontsteking in albei longe opgedoen, maar haar gesondheid het heelwat verbeter.

Sy is uitgeplaas na Stirling Healt Care Cente se Step Down-eenheid. Sy was twee dae daar, toe haar hart ‘n groot terugslag kry.

Sy is gehaas na Netcare Privaathospitaal ICU – die enigste hospitaal wat op daardie stadium ‘n bed in ICU beskikbaar gehad het weens COVID-19. In totaal was sy vir 14 dae daar. Hulle het die longontsteking behandel en haar gesondheid het weer baie verbeter.

Die professor het haar vir 48 uur met ‘n holter hartmonitor getoets. Sy het toe bevind dat die hart vir lang tye ophou klop het. Op Vrydag 6 November 2020, het hulle vir haar ‘n pasaangeër ingesit. Die operasie was ook suksesvol, maar op Saterdagmiddag 7 November 2020, het haar longe finaal ingegee en het sy ophou asem haal.

Sarie het twee kinders en drie kleinkinders gehad. Haar seun, Thys Leyden, sy vrou Adéle en hul dogter Adelaide woon in Deben. Haar dogter, Sarita Roux en Sarita se man, Dawid, het twee kinders, Lourense en Lené. Sarita, Dawid en Lené woon in Kuruman. Lourense het in 2016 praktiese opleiding as joernalis by Kathu Gazette ontvang. Hy werk tans in Vietnam.

 Daar is op Saterdag 14 November 2020 ‘n troosdiens vir Sarie Leyden by die NG Moedergemeente in Kuruman gehou. Lede van Kuruman VLV-tak het eetgoed bygedra en die diens bygewoon. Die diens is ook via Facebook Live uitgesaai: https://www.facebook.com/gloudie.bam/videos/10221100182907914

Sarie was ‘n geliefde, lojale VLV-lid. Kuruman-tak onthou haar met liefde en groet haar met diepe hartseer.

Sarie Leyden in groen by ‘n Openbare Sake vergadering in 2017.

 

 

Sarie Leyden, tweede van regs in die agterste ry, by Kuruman VLV-tak se jaarafsluiting in 2018.