Sirkel: Middelland
Beriggewer: Lynette Martin
Datum: 19 November 2020
Huldeblyk
Natania Schmidt (nee Kleynhans)
25 Desember 1966 – 30 Oktober 2020
Natania is op 25 Desember 1966 gebore en sy is die enigste kind van oom Kaai en tannie Mathilda Kleynhans van Despatch. Sy was in 1984 in matriek, Hoofmeisie van Hoërskool Despatch en slaag matriek met ‘n A gemiddeld; studeer Drama aan die Universiteit van Stellenbosch vanaf 1985; Voorsitter van PEAAT (oudste amateur toneelvereniging in SA) vir etlike jare en was bekend in kuns en dramakringe in Port Elizabeth.
‘Triomf is in 1997 deur Elzabe Kritzinger en Natania Kleynhans vir die verhoog verwerk en deur ’n semiprofessionele geselskap in Port Elizabeth opgevoer. Volgens Herman Wasserman (Die Burger, 8 Julie 1997) het dit moed geverg om die bekroonde en omstrede roman as ’n verhoogstuk te verwerk.’ Triomf is in 2003 by die KKNK opgevoer en Huppelkind in 2001.
Sy was ‘n gesogte spreker gedurende die Kersseisoen om tafelversierings/decor te demonstreer en dinees en teepartytjies aan te bied. Hierdie funksies en alle funksies deur haar aangebied was okkasies wat altyd onthou sal word en sy het menigte VLV-lid gefassineer met haar “uit die boks” idees veral met tafeldecor. Sy was geensins bang om kleur te gebruik nie – daarvan kan al haar vriende getuig wat die voorreg gehad het om by haar aan huis te kuier.
Natania se verbintenis met VLV het in die laat 1990’s gebeur. In 2005 is sy as Voorsitter van VLV Acqua verkies en hierdie amp het sy neergelê aan die einde van September 2020. Gedurende haar VLV loopbaan het sy elke liewe vrou wat sy ontmoet het begeester, bepraat, beywer, oortuig dat hulle hulself die geleentheid een keer per maand moet gun om ‘n samekoms van VLV Acqua by te woon. Almal is op hul naam geken en onthou – dit is maar één van die wonderlike gawes van haar.
Nog ‘n gawe was dat sy met oorgawe gebid het by geleenthede en sy het talle versoeke ontvang om juis dít by vriendinne se begrafnisdienste te doen – sy het altyd gespot dat sy ‘n ‘professionele bidder’ sal word.
Natania het nie net voetspore gelaat in VLV Acqua nie, maar ook in Sirkel Middelland waar sy as Gesondheidsaamroeper (2007 – 2011) en later as Bemarker gedien het. Funksies soos Bra’s and Beads (2007/8/9) was spoggeleenthede, asook die 2012 VLVK-Tienerkok aangebied deur Sirkel Middelland by Hoërskool Despatch, om maar net ‘n paar te noem.
Dinge na aan haar hart was bejaardes – meer as 12 bejaardes by die Buffelsfontein Aftreeoord is gereeld besoek, bederf en elkeen se spesifieke omstandighede is in aanmerking geneem. Die projek gaan nog steeds aan. Nog ‘n passie van haar is die dierekinders – die projek om kos, geld en kombersies aan Domestic Animal Care te skenk, gaan voort.
‘Natania was vir 15 jaar, vanaf 2005 Voorsitter van VLV Acqua en watter voorreg was dit nie vir ons om so ‘n dinamiese persoon aan die stuur van ons sake te hê nie. VLV Acqua tak het diep voetspore in die gemeenskap van Nelson Mandela Metro gemaak. Daar was so baie suksesse, prestasies en projekte wat in hierdie 15 jaar vermag is. Hoe lekker was dit nie om te kan deel in hierdie kosbare herinneringe nie. Daarom was Acqua een van die grootste takke in VLVK en dit was alles te danke aan Natania. Die vroue van VLV Acqua is dinamies, ingelig en diensbaar. Ook dankbaar. Dankbaar om ‘n verskil te kan maak. Nie net in haarself nie, maar in die lewens van diegene rondom haar. Wanneer haar maandelikse nuusbrief in jou eposse lê, maak jy eers ‘n koppie koffie, en sit rustig om dit te geniet. Jy geniet elke oomblik, want sy het so ‘n gawe gehad met woorde.’ Fredalene Snyman, Voorsitter, VLV Acqua.
Haar verbintenis met VLVK is versterk met haar aanstelling as die eerste VLVK Webmeester in 2009 tot en met 2014. Haar keurige, korrekte en beskrywende Afrikaans op die webblad is en bly ‘n advertensie vir VLVK. Haar groot taak was om die VLV-lede die korrekte manier van ‘n berig skryf en aanstuur na haar vir plasing op die amptelike webwerf te leer. Haar geduld om die stappe te verduidelik in leketaal gedurende Kongresse het na vele jare vrugte afgewerp. Sy het summier jou berig geïgnoreer indien dit nie aan die vereistes voldoen het nie!
Sestien jaar gelede het die ongeneeslike aftakelende siekte VS (veelvoudige sklerose ook beter bekend as MS in Engels) oor haar pad gekom. Sy het geveg; teruggeveg teen terugslae wat met tussenposes hul verskyning gemaak het, maar was altyd positief en blymoedig. Die elektriese rolstoel was die afgelope 5 jaar haar “mode of travelling”. Menigte onderonsies gehad met die deurkosyne wat sy summier met ‘n botteltjie “Tip-Ex” weer reggedokter het. Sy het ‘n hekel in mense gehad wat altyd laat was en hier het sy Heinrich goed oor die vingers getik as hy nie betyds was nie.
Sy was ‘n formidabele vrou met ongekende lewensvreugde wat ieder en elk se lewens aangeraak het.
Natania ons gun jou dolce far niente (salige niksdoen) Vriendin!
Leave A Comment