Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Portefeulje: Opvoeding & Kultuur
Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger
Datum: 11 November 2020
Hoe Kuruman lede die grendeltyd beleef het
Die grendeltyd het sy voordele én nadele gehad. Tydens ‘n gesamentlike byeenkoms van Kuruman VLV-tak se verskillende studierigtings, het lede hul ondervindings gedeel.
Noeline du Toit het die geleentheid geopen deur uit Filipense 2 voor te lees.
Filipense 2:4-5
“Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”
Saamroeper vir Opvoeding & Kultuur, Erika Sieberhagen vertel waaroor haar studierigting gaan – onder andere jeugopvoeding en senior burgers.
Volgende Voetspoor, Ilzé Strydom deel haar grendeltyd ervaring as tiener.
“Dit was vreemd om die familie heeldag te sien, elke dag. Na die grendeltyd was ek en my vriende nader aan mekaar, omdat ons mekaar nie kon sien nie. Ek het gesien dat skoolwerk eintlik baie moeilik is as jy dit op jou eie moet doen. Ons sê nie genoeg dankie vir ons onderwysers nie.” Ilzé het al die onderwysers wat die geleentheid bygewoon het opreg bedank vir die werk wat hulle doen.
Lavina Schoeman vertel hoe die inwoners van die Heuwelsig Aftreeoord en die Mimosahof Tehuis vir Bejaardes die grendeltyd ervaar het.
“Ons was regtig-regtig ingeperk. Dit was eintlik onhanteerbaar. Die wat in die woonstelle en huise gebly het, kon net een maal per week dorp toe gaan. Dan moet jy onthou om alles te doen – soos plaasmense. Vir die mense wat in die ouetehuis self is, moes dit verskriklik erg gewees het, want vir lang tye kon daar niemand ingaan om hulle te besoek nie. Ons is almal so lief vir ons kinders en ons kleinkinders, maar hulle kon nie vir ons kom kuier nie. Die tralie-kuiers was maar die algemeen. Dan sit die mense weerskante van die tralies, met maskers, en kuier maar so. Apteke en winkels het darem medikasie en inkopies afgelewer. Die inwoners van die ouetehuis self het baie vereensaam. Wanneer hulle weer besoekers kan ontvang, moet ons maar almal moeite doen op wel by hulle te gaan kuier.”
Leave A Comment