Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Hettie du Plessis-Krüger

Datum: 11 November 2020

Tafeldoek versier met selfgemaakte stempelblok

Hettie du Plessis-Krüger het op Saterdag 7 November 2020 ‘n kursus in papiermaché en die maak van stempels in Vryburg bygewoon. Dié kursus is deur Petro Ollewagen van Vryburg VLV-tak aangebied. Beide items het betrekking tot 2021 se nasionale VLVK kompetisies. Die tema vir 2021 is “Bekoring van kleur en tekstuur.” (Meer oor die papiermaché maskers elders op dié webwerf).

Hettie het op haar beurt, tydens Kuruman VLV-tak se jaarafsluiting op Woensdag 11 November 2020, terugvoering oor dié kursus gegee.

In die Handvlyt-afdeling, kan VLV-lede ‘n tafeldoek versier deur ‘n selfgemaakte stempelblok te gebruik. Die kompetisie gaan meer oor die stempelblok as oor die tafeldoek. Die stempelblok moet die lid se eie handewerk wees.

Een of meer stempelblokke kan op ‘n tafeldoek gebruik word. Voordat jy begin, beplan hoe groot die stempel moet wees. Die grootte van ‘n stempelblok kan wissel tussen 5cm x 5cm en 20cm x 20xm.

Die voltooide tafeldoek moet 100cm x 100cm groot wees en toepaslik vir ‘n ontbyt- of stoeptafel.

   

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die stempel moet op ‘n stewige basis aangebring word. Kurkproppe, houtblokkies, leë blikkies, ensovoorts werk goed.

Die motief word met ‘n kuns- of matmessie gekerf uit spons- of rubberagtige materiaal, soos ‘n uitveër.

Afvalstukkies kan ook bruikbaar wees – Petro Ollewagen het byvoorbeeld ‘n rosie gevorm uit al die afvalstukkies wat sy gehad het.

A4 sponsvelle werk die heel maklikste. Dit sny maklik. Jy kan meer as een laag gebruik. Teken jou ontwerp daarop, knip dit uit, plak dit met Clear Bostik op die stewige basis en druk dit af op jou tafeldoek. Die “raam” / blok moet nie saam afdruk nie. Dit is dus raadsaam om meer as een laag spons te gebruik of om ‘n dikker stuk van die uitveër te gebruik.

 

Die meer gevorderde metode om jou eie stempel te maak, is natuurlik lino-sneewerk.

Onthou dat die stempel in spieëlbeeld afdruk.

 

 

 

‘n Mens dink dalk aan effekleurige materiaal vir die tafeldoek, maar Petro het op 7 November ‘n paar voorbeelde van gekleurde materiaal gewys wat selfs meer indrukwekkend is. Hierdie spesifieke blomme is met een spons stempel afgedruk – sy het die spons ‘n bietjie gebuig om die blomme verskillend te laat lyk.

 

 

 

 

 

 

 

 

Deur die stempel eers in ‘n donkerder kleur af te druk en dan effens verder met ‘n ligter kleur af te druk, kan mens ‘n skaduwee-effek skep. ‘n Mens kan ook verskillende kleure op een stempel verf en dit dan so afdruk.

 

 

Een stuk kleedstof het sy as hande afdrooglap gebruik terwyl sy lapverf gedoen het. Daardie stuk lap se buitengewone kleure en patrone het ‘n fantastiese agtergrond vir stempelwerk gemaak!

Kuruman VLV-tak beplan vir Woensdag 25 November om 14:30 ‘n stempel-werkswinkel by JAMSS.