Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Kunste en Handvlyt
Datum: 11 November 2020
Beriggewer: Theresa Troskie
Murraysburg se Kersvergadering was vanjaar in die vorm van ’n Kersmark. Agt stalletjiehouers het hul produkte kom uitstal en verkoop en die middag saam met die VLV lede geniet. Die wêreld het gewemel van die jong mammas en kindertjies! Altesaam 42 lede en gaste het die geleentheid in Paul en Jeanette Avenant se pragtige tuin bygewoon en dit was voorwaar ’n besondere geleentheid in die hartjie van Murraysburg!
Ds. Luané MacLachlan het ons op koers gebring met ’n kort, kragtige kersboodskap uit Lukas 1 met die tema “Immanuel, God met ons. Kom staan op die rots, naamlik God, en kry nuwe uitsig.”
Murraysburg Voorbereiding, onder leiding van Elsjé Krüger, het ons vermaak met sang, terwyl hulle op slaginstrumente tydhou. Soos altyd was dit ’n fees om te luister en hul gesiggies dop te hou!
Elana Grobler het die nuwejaarsvoornemens wat lede in Januarie neergeskryf en in ’n bottel gegooi het, uitgehaal en voorgelees … helaas baie van ons wat in Januarie gesmag het na ’n slanker voorkoms, se wens het toe nie waar geword nie!
Adri Krüger, sameroeper van Kunste en Handvlyt, het ’n demonstrasie gedoen van verskeie engeltjieversierings vir die kerstafel, huis of kersboom. Soos dit ’n goeie onderwyseres betaam het sy gesorg dat daar skêrtjies, gom, blinkers en karton was, sodat die kinders elkeen met ’n pragtige, selfgemaakte engeltjie kon huis toe gaan.
Vier lede was vanjaar 100% teenwoordig. Hulle is elkeen beloon met ’n geskenkie. Drie lede het diensjaarknopies ontvang. Ons is trots op lede wat vir jare lank getroue en lojale VLV lede is! Maryn de Klerk en Wilna Pienaar is vanjaar reeds vir 20 jaar lede en Grada Retief is vanjaar al vir ’n volle 45 jaar ’n lid!
Renée Swanepoel het weer eens vir ons ’n pragtige takpublikasie vir 2021 saamgestel. Lede kan nooit wag om hul nuwe takpublikasie by die Kersvergadering te ontvang nie! Mag Murraysburg VLV se “Onderonsie” nog lank lewe!
Renée Swanepoel bedank die bestuur wat altyd, sonder verskonings en klaagliedere, gereed is om hul kant 100% te bring, met die pragtige seënwens uit Breyten Breytenbach se Seisoen in die Paradys:
“Mag daar altyd ’n lig brand in julle huis
mag die paddas julle onthou
mag die appels aljaar soeter word
en die druiweprieel groener.
Mag julle vriende wyn saambring vir die kuier.
Mag die huis wat julle betrek, deurtrek bly
van die geur van sederhout en malvablare.
Mag die walle van julle slote nie te gou inkalwe
en instort nie
sodat die water nog helderder daarin kan vloei.
Mag die sterre en die berg en die stilte
oor julle en julle gesin bly waak
nou en môre en môre se aand
en elke van daardie dae se nag.”
Die geliefde Adrie Conradie het die bedankings op haar kenmerkende prettige manier gedoen. Sy het besluit om by die Munisipale Verkiesings in 2021 te sorg dat ons bekwame VLV voorsitter ten minste sal staan as burgermeester van Murraysburg!
Leave A Comment