Sirkel: Overberg

Tak: Bredasdorp

Afsluiting

Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum: 3 November 2020

 

Olé! of dan Ja -WOL!

Die jaarafsluiting van VLV Bredasdorp tak was, soos Pierre Vlok later in hierdie berig oor WOL sê, ‘’n emosionele ding”.  Die opwinding het begin met die voorbereiding van die Spaanse tapas-geregte , die opmaak van die Agri-opleidingsaal en die opmaak van geskikte kersgeskenke – handgemaakte kerskranse –  aan die rugkant van elke oorgetrekte stoel.  Adéle Dreyer se  ‘Ball Room Latin American’ dansskool,  het die Spaanse tango kom doen en die dames se spontane “WOW!” het die middag van 3 November 2020  effektief opgesom.

Die sekretaresse, Annemi Fourie, het ‘n pittige en feitebelaaide jaarverslag aangebied waarin sy Covid-19 bedank het vir die innoverende uitdaging wat dit vanjaar aan die VLV-tak gebied  het.

Die voorsitter van VLV-Bredasdorp, Annette van Eeden,  het haar onderskei as beste voorsitter van Overberg Sirkel en die tak het 11 van die 18 konferensietrofees gekry.  “Hoe lyk dit met 12 volgende jaar?”, wou  Annette met ‘n knip-oog weet.  “Dit gaan natuurlik nie oor die bekers nie!”  Die idee is dat almal by mekaar leer want die VLV belê vanjaar en in 2021 in die vrou!

‘n Ander projek, dié van Plastiek, ons Vyand, het die volle sirkel van herwinning voltooi toe ‘n trofee van ‘n skaapkop wat deur die grafiese 3-D kunstenaar, Christelle van der Westhuizen, ontwerp is en deur Nobel fm se bestuursgroep geborg is, deur die VLV aan BKB geskenk is as toekomstige wisseltrofee vir ‘n prestasietoekenning in die wolbedryf.

Pierre Vlok, Bestuurder: Wol, Wes-streek , BKB, het die trofee namens BKB in ontvangs geneem en het onderhoudend van die rol wat plaaslike mense in die wolbedryf speel, vertel ”Ek dink aan  Anton Brink en ek dink aan Lompies.  Almal het van Anton geweet  maar Lompies is die klein vroutjie wat die krag was agter hom, Lompies was altyd daar.  Ek wil vir hulle dankie sê.  Hulle het BKB se naam hier gevestig en vir BKB is dit altyd ‘n voorreg om met wol te werk…ver voor die Bybel se tyd is daar mense wat  al met wol gewerk het.  Daar is skaap geskeer iets soos 800 jaar voor Christus met skêre wat amper lyk soos vandag se goed.  Wol was ‘n unieke kommoditeit.  Jy was ryk as jy wol gehad het. Wol is ‘n unieke stof met unieke mense wat met wol werk‘n Wolskeersel is ‘n emosionele ding.  Wolskeersel kan jy bemark by ‘n persoon as jy sy vertroue gewen het, as jy waarde toegevoeg het tot sy besigheid en as jy vir hom iets beteken het.  Dan sal hy dink daaroor want wol is ‘n emosionele ding en ek sal nog baie lank oor wol kan praat.   Voorsitter, dankie vir hierdie wonderlike trofee.  Ons sal mooi daarna kyk en die hele BKB sê vir jou baie dankie.”

Pierre Vlok, Bestuurder: Wol Wes-Streek, van BKB, ontvang ‘n trofee wat as wisseltrofee vir prestasies in die wolbedryf aangewend kan word van Projekleier, Letty-Ann Möller.  Die VLVK projek: Plastiek, ons Vyand.

 

 

 

 

 

 

 

Carin Brink, Sameroeper Landbou, oorhandig geskenke aan Annette van Eeden, uithaler voorsitter VLV Bredasdorp tak.

 

 

Theresa Stokes en Brenda Botha geniet saam tapas.

 

 

 

 

Die bedrywige Dr Visser (voor) ruim tyd in om die tapas-ete by te woon.  Sy het twee trofees (tak en konferensie) vir die mees uitstaande borduurwerk ontvang.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Tapas in oorvloed!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Carene Cooper het haarself oortref met die tapas-ete vir die afsluitingsfunksie van VLV Bredasdorp tak.