Sirkel: NOK

Tak: Dordrecht

Studierigting: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 21 Oktober  2020

 

Uiteindelik is die Covid inperkingsreëls ‘n bietjie verslap en kon die VLV-lede weer saamkuier!

Insette vir 2021 se Program is bespreek en Bestuursverkiesing gehou.  Veiligheid op plase en in huise is bespreek, o.a. buite-kameras en diefwering. Daar is besluit om ‘n resepteboekie saam te stel wat vir takfondse verkoop sal word. Lede word genooi om resepte met niks meer as 5 (VYF) bestandele nie in te stuur.

Lede kon spog met projekte wat hulle tydens die Grendeltyd gedoen het. Verfwerk en Dot-painting was die gewildste. Lenie Fourie het gedemonstreer hoe om klippe as tuinversierings te versier. Dit is een van die kompetisies vir volgende jaar se konferensie en moet net met kolletjies (“Dot-painting”) in ten minste 3 verskillende kleure versier word. Verf eers die klip met ‘n donkerkleurige akrielverf – nie olieverf nie. Druk dan kolletjies met die agterkante van ‘n pen, koki of kers. Seël die verf dan met Modge podge, want dit moet buite kan staan.

Ten slotte het Antoinette van Pletzen afgesluit met ‘n Potpourri-vasvra waar elkeen agterna ‘n prys as beloning kon kies! Vrae soos watter dier verskyn op watter geldnoot in SA, wat is verskillende lande se hoofstede, en wat is ons nasionale simbole, het almal laat kopkrap. Het jy geweet dat Appletiser, Mrs Balls Blatjang, Kreepy Krauly swembadskoonmakers, Pratley Putty, Computicket, en die sementdolosse langs die see alles deur Suid-Afrikaners uitgevind is??? Die vinnigste dier op land is die Jagluiperd, die stadigste dier is die Slak, die insek met die vinnigste vlerkslae is die Muggie (1000/sek teenoor die muskiet se 600!), die grootste soogdier is die Blouvin-walvis, die grootste dam in SA is die Gariep, die grootste hawe is Richardsbaai, die enigste rivierhawe is Oos-Londen, die kleinste land in Afrika is Swaziland, Japan is die oudste land in die wêreld, die wêreld se langste rivier is die Nyl, en Botswana is (saam met Australië) die wêreld se grootste produsent van diamante.

Lenie Fourie (links) hou ‘n skildery deur haar dogter Gerda vas, terwyl Ninke Venter ‘n Dot-painting vashou wat deur Martha Schmidt gemaak is. Agter hulle is nog projekte op die kas.