Sirkel: SWD
Tak: Voëlvlei
Beriggewer: Elize Locke
Datum: 24 Oktober 2020
90 JAAR IN LEWE, 68 JAAR IN VLV
Ons afsluiting by Gourikwa (naby Gouritsmond) was ‘n raserige affêre! Dit was ‘n blye weersiens na ons laaste bymekaarkom in Maart!
Daar is weggedoen met prysuitdelings en net gekuier. Andrieshia Radyn open ons middagkuier met ‘n stukkie geskryf deur Petra van Wyk van Grootdrink oor haar vriendinne wat haar laat dink aan kruie en speserye. Soos Andrieshia lees, herken ons elkeen ons vriendinne in tiemie, roosmaryn en swartpeper.
Ons vier saam met Tannie Arieta Swart haar lewe.
Mev. Arieta Swart, inwoner van Gouritsmond, het op 19 Oktober haar 90ste verjaardag gevier en ons loof haar vir haar besondere bydrae oor ‘n tydperk van 68 jaar.
As jong onderwyseres is sy ‘gedwing’ om by die VLV aan te sluit, aangesien sy op Leeu-Gamka, ‘n klein plekkie, begin het en alle vroue op die klein dorpie daaraan behoort het. Deur die jare het sy uitgeblink in blommerangskikkings, houtsneewerk, borduurwerk en by uitstek, skilderwerk.
Mev. Swart is steeds ‘n aktiewe lid van Voëlvlei VLV.
Haar orgideekwekery is nóg ‘n groot liefde en sy is ook veral gesteld op die bewaring van die omgewing. Sy is steeds ‘n lid van die Gourits Bewaringstrust.
Daarby was sy vroeër ‘n kranige hengelaar en spog met ‘n kabeljou van 44kg wat sy met ‘n 11kg lyn na 3 ure se gespook uitgetrek het!
Arieta Swart is voorwaar ‘n vrou op wie Voëlvlei VLV met reg trots is.
Heerlike nagereg
Leave A Comment