Sirkel: Middelland
Tak: Aberdeen
Portefeulje: Landbou & Tuinbou, Openbare Sake & Leefstyl
Beriggewer: Christelle Nel
Datum: 14 Oktober 2020
Aberdeen VLV se Oktober 2020 byeenkoms was ‘n hoogtepunt na maande van geen vergaderings nie a.g.v. die Covid-19 inperking. Die vroue kom bymekaar op die plaas Eenzaamheid in die Graaff-Reinet distrik by Stephanie Theron. Dis ‘n heerlike warm lentedag na die erge koue, waar ons omvou is met berge reg rondom. Daar word vergader in die koelte van ‘n reuse ou akkerboom in die lapa.
Lea van der Vyver verwelkom die lede, asook een besoeker. Elna van Niekerk, Saamroeper Landbou & Tuinbou, open met ‘n stukkie om ons net weer te herinner aan ons EEN GROOT LEIER, nl Jesus Christus. God kan jou nie help, as jy nie na Hom toe kom nie. Ons vergeet so maklik om ons na Hom te wend as ons in ‘n krisis is.
Na bespreking van ‘n paar VLV sake, neem Stephanie Theron lede op ‘n begeleide toer deur die lemoenboord waar ons die heerlike geur van die bloeisels kan geniet en interessante feite gedeel word. Klimaat en reënval speel ‘n baie belangrike rol in hierdie bedryf. Daarna wys sy die gastehuis/jagters-eenhede en vertel van die veranderinge wat gedoen is om die ou buitevertrekke te omskep.
Lea van der Vyver wen die gelukkige trekking van die dag. Elkeen het eetgoed gebring en verversings word keurig op die stoep van die jaghuis voorgesit, waar daar heerlik verder gekuier word.
Foto 1 & 2: Handhawing van sosiale afstand terwyl ons belangrike sake bespreek
Jaghuis
Groepsfoto: Agter vlnr: Elise Steynberg, Christelle Nel, Stephanie Theron, Lizé de Jager, Carina Esterhuizen & Karen van Rensburg. Voor vlnr: Lea van der Vyver, Elna van Niekerk & Suzanne Lategan
Gastehuis
Teetafel en saamkuier
Pragtige huis op die plaas
Leave A Comment