Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Landbou & Tuinbou En Leefstyl

Datum: 14 Oktober 2020

Beriggewer: Elana Grobler

 

Jenny Ballantyne  , Ronelle van den Bosch en Louw Kruger is Murraysburgers wat ‘n passie deel vir die weldstand van diere, veral  in die agtergeblewe  deel van Murraysburg.  Hulle is deel van  die “ Murraysburg Animal Welfare” span.   Saam met ‘n span gemeenskaps-veeartse van Beaufort-Wes, onder leiding van ‘n veearts,  Jaco Pienaar (ook ‘n Murraysburger!) is hul besig om stadig maar seker ‘n groot verskil te maak aan die welstand van die diere in Murraysburg dorp en omgewing.  Twee dae elke maand is  uitgesit vir  ‘n dierekliniek in Murraysburg.   Een dag doen hul  sterilisasies en kastrasies  en die ander dag  is ‘n  kliniek dag.  Hierdie dienste word gratis aangebied.

Hierdie nie-winsgewende organisasie is dus afhanklik van fondse.  Jenny Ballantyne is betrokke by die reël van, o.a. verblyf, borge, en inspuitings;  Ronelle van den Bosch is in beheer van die kliniek,  reël afsprake en sorg dat alles vlot verloop tydens kliniek dae en Louw Kruger hanteer weer die veearts deel van die kliniek dae.  Die diens is nie net tot die dorp se diere  beperk nie.  Die arbeiders op plase kan ook hul diere op diè dae bring om behandel te word.

 

Elizma Steenkamp deel haar droom “Karoo Spirit” met die lede .  Haar passie vir die Karoo en wat die Karoo het om te bied, kom duidelik na vore terwyl sy praat oor wat die Karoo vir talle gejaagde siele kan beteken.  Die feit dat die leefstyl eenvoudiger en minder gejaagd is, maak dit die ideale plek vir gesinne en vriende om weer innerlik verkwik te word.  Die voorstel is om ‘n webtuiste op die been te bring wat as ‘n soort gids sal dien waar verblyf, aktiwiteite, ‘n aanlyn winkel, belangrike datums, ‘n safari ketting en dies meer alles beskikbaar sal wees.  Volgens haar is die tyd nou reg vir hierdie tipe blootstelling aangsien dit lankal nie meer gaan oor die “survival of the fittest” nie, maar dat mense moet saamstaan om saam groter hoogtes te bereik.  In die tye waarin ons nou leef, waar binnelandse toerisme weer nuwe hoogtes gaan bereik, is hierdie die ideale geleentheid.

Chrisma van der Merwe is ‘n boervrou van Murraysburg wat al baie blootstelling gehad het op o.a. Radio Pretoria FM en in tydskrifte soos Landbouweekblad, Platteland en  Vrouekeur.   Sy was ook al op die voorblad van die Advertiser, die plaaslike koerant en gaan ook een van die dae op die Kyknet program, Kwêla verskyn.  Haar storie is ‘n storie wat ander inspireer .  Sy het bekendheid verwerf met haar  produk FAT SHEEP wat alreeds landwyd verkoop word.  Sy het nie in sak in as gaan sit toe die droogte knel nie.  Sy het alles probeer om haar man te help om die kontantvloei aan die gang te hou en so is FAT SHEEP gebore.  Met die 100 tot 200 bestellings wat maandeliks  inkom , waarvan “Vettie” nog steeds die gewildste is, moes sy hulp inroep.  Vernuftige hekelaars van oraloor het begin help.  Party hekel net bene, ander ‘n ander deel en dan moet alles weer terugkom Murraysburg toe om vasgewerk te word.   Hiermee help haar vriendin Carine van Heerden.  Carine verwys  glimlaggend na haarself as die persoon agter die skerms.  Ten spyte van grendeltyd, stadige diens en nog  ander struikelblokke wat oor haar pad kom, is sy ‘n vegter wat nie tou opgooi  nie en so het sy nie net haar eie nie, maar ook vele ander se lewe beter gemaak met die inkomste wat hul uit die skapies verdien.   Haar geheim lê in haar veggees en die feit dat sy haar produk gedurig vernuwe. Met ‘n verskeidenheid van skapie fietsryers, ballerinas, gordynwegbinders, trooskombersies en nog vele meer hou sy die publiek heeltyd nuuskierig oor wat volgende op die lys is.  Haar grootste bestelling op een slag was 360 skapies vir Afrivet vir hul Afri Tags.  Daar is nog ‘n paar nuwe vooruitsigte in die pyplyn en nog hope idees.

Hierdie dinamiese vrouens het ieder en elk wat die vergadering bygewoon het opnuut inspireer.

Dorees Pienaar wenner van Krans uit tuin- kompetisie ter viering van Tuindag wat 11 September plaasgevind het.  Sy is ‘n bewys dat ‘n mens nooit te oud is om aan die VLV aktiwiteite deel te neem nie. Dorees is al 63 jaar lid van Murraysburg VLV, hier gebore en getoë, hier getrou en nou nog baie aktief. Sy is nou 86, maar sal eerder van ‘n leer afval of van ‘n fiets af as om aan enige ander siekte te sterf! Geen chroniese medikasie, slegs kankerbossie.

 

 

 

 

 

 

 

Dr. Ninke Voigts en dr. Suzaan Steyn. Ronelle van den Bosch, Jenny Ballantyne en Louw Kruger.