Sirkel: Overberg
Tak: Bredasdorp
Studierigting: Landbou en Tuinbou, Kunste en Handvlyt
Beriggewer: Letty-Ann Möller
Datum: 6 Oktober 2020
VLV Bredasdorp-tak: ‘Show & Tell’
Bredasdorp het die voortou geneem en baie leersame en interessante virtuele aanbiedings tydens grendeltyd voorgesit. Annette van Eeden, voorsitter van VLV Bredasdorp-tak, bedank haar bestuurspan vir hul innoverende idees.
Bestuur: Voor vlnr – Brenda Botha, Letty-Ann Möller, Annette van Eeden, Lorraine du Toit, Carene Cooper en Barbara Mandy. Agter vlnr – Alerina Augustyn, Annemi Fourie en Carin Brink.
Die maak van halwe maskers met die papier mâché tegniek is deur Carene Cooper tydens die vergadering gedemonstreer. Na dese kan enigeen dit baasraak.
7 Oktober is Wêreldkatoendag, gevolglik is inligting oor die voor-en nadele van katoen deurgegee. Katoengewasse was aanvanklik giftig vir mense om te eet, maar sedert 2017 is dit geneties gemanipuleer sodat mens wel katoensaad kan eet. Katoen is veelsydig – vesel én voedsel. ‘n Nadeel van die katoengewas is dat dit baie water nodig het. Sonder katoen kan mens ook nie. Dink net aan die immer gewilde denims en T-hemde, rokmateriale en lakens.
17 Oktober is die Wêreldbond van Plattelandse Vroue (WBPV) dag en ‘n virtuele staptog word beplan. Daar is ongeveer 9 miljoen lede in 70 lande en die hoofkantoor is in London. Die huidige voorsitter is Magdie de Kock van Suid Afrika! VLV-lede is outomaties lid van die WBPV.
Op 24 Oktober doen die Animal Anti-Cruelty League(AACL) tuinbesoeke vir fondsinsameling. Inskrywingsgelde beloop R50. Dames is aangemoedig om dit te ondersteun. Kim Finsham reël dit.
Oktobermaand is borskankermaand en ‘n mens behoort jouself maandeliks te ondersoek om vroegtydig knoppe te identifiseer. (Mans kan dit ook kry). Wat rooi ligte laat flikker is die feit dat 28% van almal teenwoordig in die vergadering reeds borskanker gehad het. Nuwe gevalle is gerusgestel met die bevestiging van die oorweldigende suksesvolle herstel hiervan na afloop van behandeling. Tekens van borskanker sluit in: Swelling van die bors, vel dimpeling, pyn in die bors, tepel intrekking, sensitiewe vel om die tepel wat rooi, droog en jeukerig is en ‘n afskeiding anders as melk. Ook swelling van kliere. ‘n Uitstekende spesialis is tydens die vergadering aanbeveel vir mammogramme en chirurgie.
Show & Tell
Lede het spontaan ingeval by die voorstel van ‘Show & Tell’ oor aktiwiteite tydens grendeltyd! ‘n Verskeidenheid handvlytartikels is uitgestal. Marina Blight het haar ‘Altered Books’ bespreek.
Marina Blight vertel hoe ‘Altered Books’ werk.
Annetjie de Beer het vertel hoe sy bygehou het met haar 3 jaar oue kleinseun se kleuterskoolrooster en Lorraine du Toit het haar vindingryke verftegnieke gewys. Verder is daar geborduur, gebrei-en gehekel.
Daar is van die selfoon se storiesamestellingstegniek gebruik gemaak om die ervaring met lede wat nie kon bywoon nie te deel. Selfs diè wat daar was het die 30 sekonde videogreep geniet.
Die volgende VLV vergadering is om 11:00 op 3 November 2020 in die Landbou Opleidingsaal. Dit sal die vorm van ‘n tapas-ete aanneem. Terloops, tapas het ontstaan deurdat die manne in die kroeg ‘n snytjie brood op hulle wynglas neergesit het om die vlieë uit te hou.
Annette van Eeden, voorsitster van VLV Bredasdorp-tak is aan die woord. Regs sit die sekretaresse, Annemi Fourie.
Tesourier, Barbara Mandy, gee terugvoer.
Carene Cooper demonstreer die maak van maskers met papier mâché tegniek.
Lorraine du Toit, vise-voorsitster, gesels oor borskankermaand – Oktober.
Carin Brink , sameroepster Landbou, deel inligting oor die tuinbesigtigingstoer.
‘n Trotse ouma, Annetjie de Beer, wys hoe sy haar kleinkind se kleuterskooltake bygehou het.
Rosemarie Maytham wen die prys vir die mooiste hoed.
Leave A Comment