Sirkel: Overberg
Tak: Gansbaai
Studierigting: Landbou en Tuinbou
Beriggewer: Marianna Mostert
Datum: 8 September 2020
Jippie!!!!
Ons kan vergader in een lokaal – ons gesels oor “microgreens”
8 September 2020. Eindelik breek die dag aan dat ons saam met Landbou en Tuinbou kan kuier. Nog ‘n geskiedkundige dag vir VLV Gansbaai. Ons het toestemming om onder streng COVID-19 Regulasies tog in een lokaal vergadering te hou. Ons is so opgewonde soos ‘n klomp laerskool dogtertjies wat op ‘n uitstappie gaan. Kyk net na die foto van ons Voorsitter, Rienie Ludick met die onderskrif:
“Kyk hoe bly en stout is iemand oor ons vergadering.
“Geduldig wag ons lede buite die deur”
Die bestuur is aangenaam verras oor die lede se opkoms, 30 van ons 60 lede.
Een vir een voltooi elkeen die noodsaaklike inligting op die lys met haar eie pen, koors word geneem met die “koorspistool” en siedaar, ons is reg vir die vergadering. Met die regte spasie tussen die stoele, maskers op die gesig en hande gesaniteer kan die vergadering begin. Nou verstaan ons hoe kosbaar samesyn is, wat dit beteken om verwyder te wees van mense vir wie jy omgee en VLV Dames is ‘n familie wat omgee vir mekaar.
Die vergadering open met die lees van ‘n pragtige lente gedig. Ons gasvroue van Landbou en Tuinbou onder leiding van Sharon Bales stel ons gas vir die middag aan die woord.
‘n Onderwerp wat ons almal verras. “Microgreens.”
Ons spreker Erna Esterhuizen links op die foto, voer ons mee na ‘n werêld van voordele oor gesonde voeding wat “Radish Microgreens” ons bied. Dit is een van die voedsaamste groentesoorte wat jy in jou tuin of in houers kan plant. Sy vertel ons van die wonderlike gesondheids voordele asook die voedingswaarde wat daai klein plantjies het:
- Ondersteuning van die Spysverteringskanaal, omdat dit hoog aan vesel inhoud is wat hardlywigheid teenwerk asook die bloedsuikervlakke bestuur.
- Hou die bloeddruk onder beheer omdat dit die liggaam voorsien van “potassium.”
- Bevorder die basiese immuniteitstelsel van die liggaam omdat dit Vitamine C verskaf.
- Bevorder ‘n gesonde vel. Die “Phosphorus”, “Zink” en Vitamiene C verhoed uitslag van die vel, droogheid en hou ook puisies in toom.
- Hou die liggaam gehidreer. Hierdie is te danke aan die hoë voginhoud van die plant.
- Bevorder en help bestuur gewig. Dit het ‘n vullende effek op hongerpyne.
- Beskerm die lewer, niere en bestuur diabetes. Dit verlig ook versteuring van die Respiratories sisteem.
Sy lei ons op die pad om dit self te kan kweek en vertel hoe dit gedoen moet word. Illustreer alles waaroor sy praat. Volgens haar is daar heelwat videos beskikbaar op ”YouTube” waarna ‘n mens kan kyk. Die produk wat jy oes, het ‘n raklewe van omtrent twee weke en dit neem plus-minus 6dae vandat jy die saadjies gesaai het totdat jy dit kan oes. Jy kry ‘n groot verskeidenheid van variëteite, sy het met radyse begin. Hierdie groen blaarjies kan in slaaie, op broodjies of sommer net so as ‘n “snack” geëet word.
Sy vertel ons haar storie hoe sy “Microgreens” ontdek het gedurende grendel tyd. Hierdie is ‘n besigheidgeleentheid. Baie arbeidsintensief, maar baie bevredigend.
Na hierdie leersame praatjie stel Annetjie Liebenberg ons weer voor aan die twee bome van die jaar.
Essenhout (Ekebergia capensis) wat baie goed in ons area groei. Sy vertel ook vir ons dat sy een het wat onder haar kamer venster groei en dat die blomme wat dit voortbring nes jasmyn ruik. Elke jaar as dit blom, ruik haar slaapkamer heerlik. Jy kan ook konfyt kook van die vruggies.
Die ander booom is die Kremetart boom (Adansonia digitate). Hierdie boom kom nie in ons area voor nie, maar is ‘n pragtige boom wat baie oud word, tot 3000jaar. Een van die noem-name van die boom is die “Up-side-down tree”. Dit beskryf eintlik die boom uitstekend omdat dit presies lyk of die vertakkings van die boom eintlik wortels kan wees.
Na die bespreking word daar ook ‘n vasvrae gehou om seker te maak ons het goed geluister en dit was pret om te sien hoe die dames meeding vir daai geskenkie, ‘n heerlike blok sjokolade.
Senerita van der Walt het herstel van COVID-19. Hier deel sy haar ervaring en was bereid om van die lede se vrae te beantwoord omdat sy eerstehandse ondervinding van die virus het. Sy was baie siek en was opgeneem in intensief waar sy behandeling teen die virus ontvang het. Sy vertel dat daar baie emosies deur jou kop gaan en al wat jou dra is gebed. Die wete dat mense vir jou omgee en dat hulle jou opdra aan die Here is wat jou staande hou. Sy is vining aan die herstel en ons dank ons Hemelse Vader daarvoor.
‘n Vol en besige vergadering sluit af met elkeen wat ‘n spekboom plantjie vanaf Sharon Bales en haar gasvrouens ontvang. Sien spekboom plantjies regs op foto langs Sharon.
Myne ( Marianna Mostert s’n) is klaar geplant in my man se tuin, met ‘n naambordjie by as herinnering:
VLV Gansbaai, 8 Sept. 2020. “Heerlike dag van samesyn”
Leave A Comment