Sirkel: Griekwaland-Wes

Tak: Daniëlskuil

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 11 September 2020

 

VLVK Daniëlskuil bespreek “Sonkrag as volhoubare alternatief” op hul eerste verjaarsdag

 

VLVK Daniëlskuil-tak se eerste verjaarsdag word met kolwyntjies gevier. Voor vlnr: Niki Pretorius (Volgende Voetspoor), Hettie Krüger (uittredende Voorsitter van VLVK Daniëlskuil-tak), Gerda Fourie (Lid van VLVK Daniëlskuil-tak) en Jorietha Kirsten (Voorsitter van VLVK Postmasburg-tak). Agter vlnr: Liza Cloete (Lid van VLVK Daniëlskuil-tak), Ruby Kriel (Voorsitter van VLVK Griekwastad-tak), Machel van Niekerk (Sirkelpresident van VLVK Sirkel Griekwaland-Wes), Adri van Niekerk (Lid van VLVK Daniëlskuil-tak), Ronita Fourie (splinternuwe lid van VLVK Daniëlskuil-tak) en Martie Thiart (Lid van VLVK Postmasburg-tak).

 

Op Vrydag 11 September 2020 is die VLVK Daniëlskuil-tak se eerste verjaarsdag by die stylvolle Botha’Sig Gastehuis in Daniëlskuil gevier. Met geblomde en skoenlapper-kleredrag om lente te vier, en maskers om aan COVID-19 regulasies te voldoen, het lede van VLVK Daniëlskuil-tak, Griekwastad-tak en Postmasburg-tak bymekaar gekom om dié geleentheid te vier. Sirkelpresident, Machel van Niekerk het ook die geleentheid bygewoon.

 

Phillip Krüger van E-Kalahari.

 

Phillip Krüger van E-Kalahari het die dames meer oor “Sonkrag as volhoubare alternatief” vertel. Die gemiddelde huishouding se kragverbruik is 900 kWh per maand en veroorsaak tussen 4 en 6 ton se koolstofdioksied afskeiding per jaar.

Om te verhoed dat die aarde teen 2050 met 2°C warmer word, moet die koolstofdioksied afskeiding per huishouding afkom na 2 ton per jaar. Vir die vervaardiging van ‘n sonstelsel, word ‘n eenmalige hoeveelheid van 274kg koolstofdioksied afgeskei.

Teen R1,83 kos die gemiddelde huishouding se krag R1650 per maand of R19 800 per jaar. Met ‘n tariefverhoging van 10% per jaar oor tien jaar sal 900 kWh uitwerk op R4250 per maand of R51 000 per jaar. Dus sal jy R370 000 in tien jaar op krag spandeer. ‘n Sonstelsel wat dieselfde hoeveelheid krag opwek en vir vyftien jaar gewaarborg is, kos minder as die helfde daarvan!

Die grootste kragverbruikers in ‘n huishouding is lugversorgers, pompe en geysers.

‘n Geyser gebruik gemiddeld tussen 6 en 16 kWh krag per dag. Dit is ongeveer 30% van ‘n mens se kragverbruik. Dus is dit stap een om jou geyser na ‘n alternatief, soos ‘n son- of gasgeyser te verander. Daarna volg die ander element items, soos stowe en ketels en daarna pompe (wat swembadpompe en boorgatpompe insluit).

Die grootte vir die sonkragstelsel wat ‘n huishuiding benodig, word dan op die oorblywende kragverbruik uitgewerk. Phillip sê hy wou eers ‘n grappie oor beurtkrag maak, maar beurtkrag is ook nie meer ‘n grappie nie. Daar is twee tipes stelsels wat ‘n oplossing vir beurtkrag aan ‘n huishouding bied:

Die eerste tipe werk basies soos ‘n “UPS” vir ‘n rekenaar, maar dit kan ‘n paar items soos ‘n televisie, “wifi” en ‘n bedlampie of twee via ‘n muurprop vir drie ure aan hou.

Die tweede tipe kan alle elektriese items en die hoofligte in ‘n huis aan hou en dit kom in verskillende groottes.

Baie mense het gelag toe die Minister van Polisie, Beki Cele, sê dat ‘n mens buiteligte moet aan hou tydens beurtkrag om inbrake teen te werk, maar met sonkrag buiteligte is dit beslis moontlik. Die buitelig kom met sy eie sonpaneel en ingeboude battery en skakel homself in die aand aan, hou regdeur die nag en skakel homself weer in die oggend af.

Klein windlaaiers is ook ‘n goeie toevoeging tot ‘n sonstelsel vir die bewolkte dae wanneer die son nie skyn nie, maar die wind waai. Dit laai ook in die aand en verleng die batterye se leeftyd, omdat die batterye nie leeg loop nie.

 

 

Machel van Niekerk (Sirkelpresident van VLVK Sirkel Griekwaland-Wes).

 

 

 

Sirkelpresident, Machel van Niekerk het die toekoms van die tak met die lede bespreek, nadat COVID-19 baie van die tak se lede genoop het om te bedank, weens hul lewensomstandighede wat as gevolg van die virus se impak verander het. Sommiges het byvoorbeeld uit die Daniëlskuil-omgewing getrek.

 

Die oorblywende lede is egter baie positief oor die toekoms van die tak, wat vir eers ‘n meer informele vorm sal aanneem, wat ‘n defnitiewe bestuur uitsluit.

 

Machel van Niekerk (Sirkelpresident van VLVK Sirkel Griekwaland-Wes) het Gerda Fourie se kenteken vir haar aangesteek. Gerda was een van die stigterslede van die tak.

 

Machel van Niekerk (Sirkelpresident van VLVK Sirkel Griekwaland-Wes), Gerda Fourie (Stigterslid van VLVK Daniëlskuil-tak) en Hettie Krüger (uittredende Voorsitter van VLVK Daniëlskuil-tak).