Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Kunste En Handvlyt

Beriggewer: Theresa Troskie

Datum: 19 Augustus 2020

 

Janet Kingwill is ’n boervrou van Murraysburg, maar ook ’n bekende kunstenaar. In 2016 is sy deur ’n vriendin uitgedaag om 5 kunswerke in 5 dae te maak en dit dan op facebook te vertoon.  Op daardie stadium het sy gevoel dat haar kuns nie groei nie en hierdie was ’n uitdaging aan haarself om te verbeter.  Dit het gelei daartoe dat sy onlangs 1 000 kunswerke voltooi en op facebook ten toon gestel het!

Oral waar hulle gegaan het, het sy geskets of geskilder en dit het stelselmatig haar dagboek geword.  Dit was egter veel meer as om dagboek te hou, want saam met elke kunswerk het belewenisse van die omgewing of mense gegaan.  So het sy bv. een oggend voor sonsopkoms en voor die besoekers opgedaag het in Rome die Trevi-fontein gaan skilder.  Terwyl sy besig was, het ’n Italianer langs haar die jawoord gevra en Janet kon in hul vreugde deel!  Kuns het baie meer as net kuns geword!

Sy het onder andere akriel, waterverf, olieverf en pastelle gebruik.  Sy het geskilder op eendeiers, lino, met steenkool, ink, Indiese ink, koffie, wyn, ink en bleikmiddel en beetsap!  Sy het op teesakkies, vuurhoutjiedosies geskilder en  massiewe doeke van 9,5m x 5m beskilder.  Deurgaans het sy besef dat die manier waarop sy na dinge gekyk het, verander het.  Sy het geleer om te kyk en anders te sien.

Dwarsdeur die Grendeltyd het sy in 72 kunswerke haar vrese, frustrasies, woede en humor oor sekere situasies uitgebeeld.  Ou vriende het op facebook kennisgeneem van haar werke en weer met haar kontak  gemaak.  Plaaslik is sy deur Tuis genader vir ’n artikel.  Kunstydskrifte het kennisgeneem en haar “kunsreis” begin volg.  Sy het ook ’n groot, suksesvolle uitstalling met 150 geraamde kunswerke en talle ander werke gehou waar baie van haar werke verkoop is, maar wat ook vir haar baie vreugde gegee het!

Adri Kruger,sameroeper van Kunste en Handvlyt, het buite 4 stasies opgestel.  Sy verduidelik aan die vergadering wat pendulumkuns behels. Dit word ook “collaboration art” genoem.  Lede kry elkeen ’n A4 tekenblad wat in groepe van 4 of 6 onder ’n pendulum geplaas word.  Die pendulum (boonste deel van 2l coke bottels) word met verf gevul en  aan ’n tou geswaai.  Soos hy swaai loop ’n verfstraal uit en vorm interessante sirkelpatrone.  Elkeen kon sy deel van die kunswerk huis toe neem.  Almal het dit baie geniet!

Helen Botha, ’n ywerige groenteboer, vertoon twee besondere groentemandjies wat sy ontwerp en uit hout en growwe gaas gemaak het. Wanneer jy groente of vrugte in die tuin gaan pluk, word dit in die mandjie geplaas en net so onder die kraan afgespoel.  Die water loop deur die gaas uit en maklik-maklik is jou groente pragtig skoon voordat jy in die huis ingaan!  Die mandjies is te koop teen R190 elk.

 

Janet Kingwill, kunstenaar van Murraysburg en Adri Kruger, aanbieder en sameroeper van Kunste en Handvlyt.

 

 

 

 

 

 

 

 

Helen Botha by haar handgemaakte groentemandjies.

 

 

 

 

 

Murraysburg VLV lede besig met pendulumkuns tydens Kunste en Handvlyt vergadering.