Sirkel: Noord-Karoo
Tak: Murraysburg
Portefeulje: Al 6 Portefeuljes
Beriggewer: Theresa Troskie
Datum: 14 Augustus 2020
Matriekbemagtiging 2020
Al die lekker dinge waarna kinders uitsien in hul matriekjaar is die matrieks van 2020 nie beskore nie! Die Koronavirus en Covid-19 het die matrieks van 2020 beroof van alles waarna hulle al jare lank uitsien … interskole, sport, matriekafskeid, ensovoorts.
Om die 36 matrieks van Hoërskool Murraysburg aan te moedig en hoop te gee vir die res van die jaar en vir hul toekoms, het die VLV vroue van Murraysburg besluit om ten spyte van 2020 se slegte omstandighede, tog vir die matrieks ’n Bemagtigingsdag aan te bied soos wat hulle al die afgelope 15 jaar vir die matrieks doen.
Onder leiding van mevv. Theresa Troskie, Renée Swanepoel en Adri Kruger is die volgende onderwerpe behandel:
- Die opstel van ’n CV, dekbrief, aansoekbrief, voorbeeld van ’n volledige werksaansoek en wenke vir ’n werksonderhoud;
- Onderwerpe: Leer jouself ken en hoe verkoop jy jouself?
- Rollespel van ’n werksonderhoud: Jy is jou eie handelsmerk;
- Hulpmiddels op jou lewensreis: lewensvaardighede;
- Konflikhantering;
- Inligting oor beroepe, opleidingsinstellings in die omgewing en beurse;
- ’n Lys met 51 fb-groepe waarby hulle kan aansluit om werk te soek.
- ’n Gedrukte boekie met ’n voorbeeld van ’n volledige werksaansoek en die nodige inligting van al die onderwerpe wat behandel is, is aan elke leerder gegee.
Die gaskunstenaar was Edward Daniels, bekende sanger van Murraysburg. Die leerders het die sang en musiek so geniet, dat hulle sommer gou-gou saamgesing en gedans het!
Elke matriek het ’n wegneemmiddagete en snoeperye ontvang. Elkeen het ook ’n Bybel gekry om hom/haar te begelei op sy/haar lewensreis.
Groot dank aan ons borg mev. Mareli Visser asook die Bybelgenootskap van Suid-Afrika wat hierdie suksesvolle dag moontlik gemaak het.
Murraysburg se 26 matrieks by die VLV se Bemagtigingsdag.
Bemagtigingsboekie, Matrieks en gaskunstenaar, Edward Daniels.
Pret en plesier by Bemagtigingsdag vir Matrieks op Murraysburg.
Sjoe!Hoe dan nou beter om die matrieks te bemagtig?!Briljant!