Sirkel: SWD

Tak: Klein-Brakrivier

Studierigting: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Lydie Terblanche

Datum: Julie 2020

 

SLANGE: WEES VERSIGTIG MAAR NIE VERSKRIK NIE

 

Noem net die woord “slang” en mense spaander, maar dalk kan die ingeligte persoon tog meer diskresie gebruik, in plaas van net die slang se kop te “vermorsel”. Die Kleinbrak-tak leer hierdie maand meer oor slange.

 

Jy kan sê slange hoort in die natuur en nie in jou tuin nie. Hou dan ingedagte dat slange se natuurlike prooi knaagdiere, akkedisse, paddas, voëltjies en ander slange is. Dit behoort dus te verstane te wees dat indien hierdie ‘prooi’ in jou tuin bly, dit slange sal lok. Dink byvoorbeeld aan visdamme, dit lok paddas, paddas lok slange en as die visdam, omring met jou gunsteling struike onder jou venster is, kan die slange in jou huis beland. Dieselfde vir voël-, hoender- of haas hokke, dit kan slange lok. Voeg hierby donker- en verwaarloosde plekke soos jou deurmekaar garage of -tuinhuis, houtbalke met grasdakke, stapels sink- of asbesplate, bourommel, vuurmaakhout, gras-, kompos-, rommelhope, struike en rotstuine wat die slang as ‘n veilige skuiling sal beskou. Daar bestaan nie hulpmiddels om slange af te skrik nie, die beste is om jou omgewing netjies te hou. Weet ook dat die enigste slang wat jou moontlik as ‘n prooi sal sien, ‘n volwasse luislang is, ander slange sal jou net aanval wanneer hulle bedreig voel.  Indien jy nie ‘n slangkenner is nie, moet nooit met jou kaal hande aan ‘n slang vat nie, party maak net asof hulle dood is.

 

Wanneer jy ‘n slang gewaar – staan eers doodstil, moet geen skielike bewegings maak nie en beweeg dan stadig weg van die slang af (vier meter is ‘n veilige afstand). Indien die slang in jou huis is, moet jy die vertrek se deur toemaak en ‘n handdoek of koerantpapier onder die deuropening indruk sodat dit nie onderdeur kan seil nie. Bel die plaaslike slangvanger en hou jou diere en kinders buite die huis. Indien moontlik moet die slang se bewegings deur die kamer se venster dopgehou word. As jy braaf genoeg is, sal ‘n handdoek of kombers oor die slang help om hom stil te hou tot die slangvanger opdaag.

 

Nie-gevaarlike slange wat in die Suid-Kaap voorkom, sluit in: Bruin huisslang; Olyf huisslang; Spikkel (‘spotted’) huisslang; Herald slang (Rooi-lippie); Gevlekte skaapsteker; Molslang; Bergadder; Slakvreter; Bruin Waterslang; Wes-Natalse Groen slang; Eiervreter; Karoo Sandslang; Harlequin Slang (Gevlekte Kousbandjie); Blindeslang; en die Kaapse erdslang. Daar is egter net ses slange wat as gevaarlik of uiters gevaarlik kwalifiseer:

 

  1. Pofadder: kort gesette slang, driehoekige kop, duidelike chevrons op rug wat agtertoe wys, sis en blaas, kom op grond voor, snags aktief, kleur wissel, mannetjie se stertgedeelte is langer as die wyfie s’n.
  2. Kobra: Oog het ronde pupil, breë kop, as gekonfronteer word, lig dit die bolyf en maak ‘n breë bak nek, bedags en vroeg aand aktief, kleur wissel.
  3. Boomslang: kort gesette kop, groot oë met ronde pupil, as gesteur word blaas dit die nek en bolyf op, meeste van die tyd in bome, bedags aktief, kleur wissel, in Suid-Kaap is die mannetjies gewoonlik groen bo en gelerig onder, wyfies is lig tot olyfbruin.
  4. Rinkhals: Het dikwels ‘n swart pens met wit bande oor die keel, kan helfte van liggaam van die grond lig, maak bakkop soos kobra, verdediging: spoeg, maak of dit dood is, pik. Lê graag in son en bak.
  5. Nagadder: Kop het ‘n duidelike chevron op wat na voor wys, kort kop met geronde snoet, middelgrootte oë met ronde pupille, krul op en sis as gesteur word, verkies klam plekke naby standhoudende water.
  6. Koraalslang: Gewoonlik snags aktief, lig bolyf en maak bakkop, swart ringe om lyf met geel tot koraalrooi bande tussenin, duidelike swart omraamde band oor elke oog tot by bek.

 

Wat moet jy doen:

  • Indien mens of ‘n dier in die oë gespoeg word deur ‘n rinkhals, moet die oë onmiddellik deeglik met enige vloeistof uitgespoel word
  • Identifiseer die slang wat gepik het
  • Ontbloot die bytplek
  • Verwyder ringe, horlosies of enige ander materiaal wat normale swelling kan verhoed
  • Moenie sny of druk nie
  • Moenie aan die wond suig nie
  • Hou die lugweg oop
  • Moenie elektriese skokbehandeling toepas nie
  • Hou die slagoffer stil en kalm
  • Moenie alkohol ingee nie
  • Immobiliseer die ledemaat
  • Wend ‘n drukverband aan (slegs nie-spoeg kobras en mambas)
  • Toerniket (slegs vir nie-spoeg kobras en mambas)
  • Neem slagoffer na die naaste hospitaal

 

 

Nagevors deur Lydie Terblanche