Sirkel: Paarl
Tak: Wellington
Boks vir ’n Boervrou
Beriggewer: Juanita Loubser
Datum van gebeurlikheid: 2019/2020
Pak ‘n Boks vir ‘n Boervrou in die Droogte, SA.
Na ‘n jaarlikse kongres in Augustus 2019 waar afgevaardigdes bymekaarkom van die Vroue Landbou Vereniging van Kaapland(VLVK), het ons as Wellington VLV besluit om ons laaste kwart van die jaar toe te wy aan Landbou. Deur in Boervroue in landbou te belê en bokse te pak vir Droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika. Boervroue wat nie kongres kon bywoon a.g.v finansies, Boervroue wat self werk saam met hul mans om lone laag te hou. Boervroue wat eerder die ekstra geldjie vir ’n haarsny of ‘n vogroom opoffer vir voergeld of vir die kinders in die huis.
Wat as ‘n gedagte begin het om te kyk hoeveel bederfbokse bymekaar gemaak kan word in die Boland en dan uit te reik, het vinnig ontplof en soos ‘n veldbrand regdeur Suid-Afrika versprei. Almal wil ‘n Boks vir ’n Boervrou pak vir Wellington VLV.
My en ons sekretaresse (Karen Barnard) se fone het onophoudelik gelui vanaf begin Oktober 2019. Gou het ons besef dat hier het ons ‘n Voetspoor gelê onder Suid-Afrikaners om onvoorwaardelik saam te staan. Bokse is gepak van oral in Suid-Afrika en bymekaar gemaak voor dit Boland toe gestuur is. Mense van oorsee (Italië, Australië en regoor Afrika en Europa) het aanlyn-aankope gedoen en laat aflaai by ons, waar ons dit dan vir hulle pak en opmaak in koerantpapier. Ja dit was die vereiste, want koerantpapier kos minimaal en het soveel gebruike weer in en om die huis. Op die hierdie manier lyk al die bokse ook dieselfde verpak. Die idee was ’n 6-bottel wynboks/skoenboks grootte gepak met bederf items, maar jy mag ook iets ingooi vir die huis of die boer op die plaas. Bokse se groottes het gewissel van nr.2 skoenboks tot letterlik appelboks grootte. Die Suid-Afrikaners wil net gee.
Bygesê het daar ongelooflik baie ander projekte uit ons projek ontstaan waar skole,kerke en onafhanklike groepe net saamgestaan het en begin uitreik het na die droogtegebiede op hul eie. Vir ‘n slag het ons land gegons oor wat pak jy en wanneer pak jy jou boks en vir ‘n slag is die plaasaanvalle en negatiwiteit agtertoe geskuif.
Boksinnames vir ons projek is gesluit op 1 November 2019 en is dan vanaf die versamelpunte na die Boland versend, waarvandaan elke boks dan ‘n Boervrou se naam gekry het en gestuur is na ‘n kontakpersoon in daardie gebied wat dit versprei. Sommige areas het erken dat hulle nie bokse nodig het nie en wou nie name beskikbaar stel nie, maar ons het op ander maniere hul name bekom. Net om agterna die wonderlikste bedankings terug te kry. Die trane het menig maal geloop met briefies en sms’e. Boervroue het met hierdie projek geleer om minder trots te wees en geleer om te ontvang. Dit is moeilik as jy altyd die gewer was en nou nie meer kan uitdeel nie. Boervroue in Suid-Afrika het besef dat mense wat hulle nie eers ken nie, omgee.
Met die vinnige groei van die getal bokse het ons meer as een verspreidingspunt geîdentifiseer en daar is 7000 bokse vanaf Kimberley( Anekke Kruger) versprei, 5000 bokse vanaf Bloemfontein(Gerda Pienaar) en dan ook 1500 en 4000 bokse onderskeidelik vanaf Volksrust (Veronica Serfontein) en Limpopo( Agri SA Limpopo). Dan is daar 17 000 bokse in die Boland ontvang en versend deur ons as Wellington VLV. Ons tak het 60 lede en is ‘n uitstekende span saam. Die wat nie meer buk en raakvat-werk kan doen, het name geskryf of briefies gevou om bo-op elke boks die “Langbeenbossie-ruiker” vas te plak. Ander het eetgoed aangedra terwyl daar bokse gewerk is in NG-Kerk Wellington Noord se saal. Bokse moes gesorteer word in groottes en bymekaar gesit word vir die distrikte. Groot werk wat met soveel liefde deur elke Wellington VLV-lid gedoen is. Sommige gevalle het lede se gades of kinders ook hand bygesit en selfs mense van die omgewing.
Hierdie projek het uit die hart begin en die hele SA het soveel vertroue in ons as tak geplaas dat ons net deurgedruk het. In Oktober en November 2019 het sommige van die verspreidingspunte welkome reën ontvang en diep in ons harte het ons gehoop ons kon van dit met elke boks inpak en saamstuur die droogte in.
Ons is dankbaar aan Samaritane wat oor ons pad gekom het en gehelp het met vervoer van hierdie bokse na die boervroue. Aptekor Sneldiens op Citrusdal wat die hele Namakwaland,Boesmanland tot in Kalahari help aflaai (meer as 18ton), ShopriteSA wat N1 langs ‘n paar dorpe se bokse afgegee het met hul trok. Sekere takke van Postnet, ITT , Aramex, Globe Flight en Courier Guy wat ook teen spesiale tarief gehelp het. Dan was daar Johan Koch wat net opdaag met ‘n bakkie en wa. Hy wil laai en op ‘n uitreik gaan om die boere te gaan bemoedig.So ook Charl van der Merwe. Isak Visagie van Simondium wat saam met nog jong manne ook talle Karoo dorpe se bokse op hul eie gaan afgee het. Afgetrede mense wat ‘n skaaptrok reël en laai om boervroue te verras in die Oos-Kaap en Klein Karoo. Dit is net ongelooflik hoe hulp vanuit alle oorde gekom het om te help. Ons eie VLV-lede het gegaan en koek en tee geniet saam met sommige Boervroue met die afgee en uitdeel van bokse. Ons kon net ‘n paar dorpe se bokse self gaan afgee.
Ons kon ook vervoer betaal nadat Agri Weskaap, Prisma Packaging , Pioneer SA en ook anonieme skenkers brandstofbydraes gemaak het.
Boervroue regoor Suid-Afrika het bokse ontvang in Noordkaap, Oos-Kaap, Suid-Kaap, Wes-kaap, Limpopo, Noordwes en dele van Natal wat erge vloede gehad het en boere talle verloor het in daardie stadium. Ongeveer 11 700 boervroue het bokse ontvang. Ja, ons was so bevoorreg om meer as een boks per boervrou te kon uitdeel. Elkeen met haar naam voorop om dit ekstra spesiaal te laat voel en in daardie vrou te belê.
Deur te belê in ons boervroue , het ons ook belê in die rots van die huis. Die Versorger, die Ma , die Vrou wat moet moed inpraat en die drade bymekaar moet trek in tye van swaarkry en ook verlies. Hierdie bederfbokse het weer Hoop gebring in Plaashuise om te bly Glo. Glo in jou as landbouer, glo in jouself om vorentoe te kyk. Glo dat die reën op die regte tyd gestuur sal word.
Die VLV het deur die jare al baie bygestaan vanaf hul stigting in 1929 in Franschhoek. Die VLV het depressiejare, droogtetye, aardbewings, oorstromings en selfs die Tweede Wêreldoorlog deurstaan en volstaan as vereniging Vroue wat altyd net daar is en wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Wellington VLV word nou in 2020 ‘n volle 90 jaar oud. 90 jaar word gesimboliseer met GRANIET. Ons glo dat met hierdie projek het ons ‘n rots geskep, ‘n hoeksteen waar daar bewys is dat ons omgee vir ons landbou om ook te wys wat landbouers beteken in Suid-Afrika. ‘n Rots of vrou wat vas en sterk sal staan.
Boervroue het ‘n onskatbare bydrae gemaak tot die ekonomie tot dusver. Hulle het innoverend gedink en gedoen. Die vrou met visie knyp nie haar oë toe teen die werklikhede van die dag nie. Sy is ‘n vrou met integriteit en altyd eerlik en opreg. Die vrou met visie gee meer van haarself as van haar goed. Sy is nie ‘n slagoffer nie, maar ‘n vegter vir haar omgewing en omstandighede.
Wellington lede:
June Smit, Elsa Aebi, Juanita Loubser,(voorsitter) Karen Barnard(sekretaresse), Elsabe Du Plessis, Jackie Loubser, Ezla Ritter en Anna Cillié
ITT lewer af in Adelaide-Oos-Kaap
Shoprite laai ‘n trok wat N1 – langs afgelaai is en ook in die Oos-Kaap
Ek wil afsluit met ‘n paar briefies en foto’s van ontvangers:
Jong getroude Danél Moller van Carnarvon
Liewe Wellington VLV Vroue en die Engele wat boksies pak.
Ek stel die boodskap al van Kersfees af uit want ek kry nie die regte woorde om vir julle te sê Dankie vir wat julle almal vir ons doen en beteken nie. Dankie is so ‘n klein en eenvoudig woorde om te sê. Ons het die laaste pakkie wat ons ontvang het net mooi ‘n dag voor kersdag gekry saam met ‘n boks vir ons 4jarige dogtertjie René. Dit was een van die beste kersgeskenke nog gewees of eintlik die enigste. Elke item in daai boks was so spesiaal gewees en kosbaar. Baie dankie dat julle oor ons pad gekom het en die droogte leefbaar te maak. Ons is ewig dankbaar vir elkeen van julle.
Liefde uit Kenhardt, Die Nolte’s
*
“Ek dink die droogte het n paar fases van emosies in ons vroue. Eers ontkenning dat dit ons ook raak, dan erkenning dat ons nie meer alles kan bekostig nie, dan skaam om te ontvang, dan dankbaar om te ontvang, en dan skaamtelose openlike dankbaarheid om te kan ontvang. In alle fases gee ons nog steeds ook graag. Dis vrou wees. Of dalk boervrou wees. Ons wil weereens vir julle baie baie dankie sê, vir hierdie wonderlike gebaar. En groete vir die ander vroue.”
*
“Met ‘n knop in ons kele, duisende dankies vir die bederfpakkie wat ons ontvang het. Dit was so ‘n emosionele en verslae oomblik. Jul sal nie weet wat die impak daarvan op ons daaglikse bestaan het nie. Dankie vir jul liefde en omgee, weet dit word opreg waardeer. Ons kan nie meer alleen teen die droogte baklei nie, maar hier kry ons weer HOOP. Kliprand”
*
“Thank you so much to you and all the ladies for your kindness and generosity. I have just received my boxes and want to cry because of the love and care.
My husband has been wanting hot chocolate but we just can’t buy that luxury at this stage. In the box was our favourite : Nomu Skinny Hot Chocolate. We were blessed far beyond what we expected or imagined but God knew.
We were out of earbuds that my husband uses to clean his contact lenses. But he must use Dove and in the box was Dove earbuds.
My son and daughter in law have been on the farm with us. She didn’t get a box because they don’t belong to a farmers’ association but I got 3 boxes so there was more than enough for us all. So many of the things she needed were in the boxes. The exact make that she uses.
Some of the things we are going to share with the ladies on the farm as we didn’t know what we were going to do for them for Christmas. Now they can also be blessed.
Thank you for your obedience to the Lord. It must be so encouraging to hear how God directed the boxes to the right people.
May you all be abundantly blessed and reap a rich reward as you have given of your time and energy and resources to bless others.”
*
Baie baie dankie vir die oulike pakkies wat ons boervrouens op Kenhardt ontvang het hierdie week. So ‘n lekker Kersfees bonus pakkie.
Dankie ook vir my matriek dogter se pakkie, sy was baie verras & opgewonde oor die geskenk & ingenome met die inhoud. Veral oor die mooi kleur lipstiffie.
Ons waardeer opreg.
Geseënde Feesgroete.
Maryna, Michael van Niekerk.
Droogte ken nie perke
Namakwaland gestuur deur Mari Mostert
Laaste sê:
Dankie Suid-Afrika en dankie aan elkeen wat ‘n boks gepak het. Ons land en sy mense kan ‘n verskil maak deur te glo in mekaar en self ‘n verskil probeer maak. Daar is altyd Iemand in Beheer en met hierdie projek het Hy gesorg dat die regte boks by die regte plaashuis oopgemaak word.
Geskryf deur :Juanita Loubser – VLV Voorsitter Wellington
Hi, ek weet nie eens waar om te begin of hoe om dankie te se nie. Ek het vanmiddag weer my boks gekry en ek het letterlik vir ‘n halfuur net gesit en staar sonder om ‘n woord uit te kry. Ek het nog nooit in my ganse lewe so ‘n verrassing gekry nie. Dis met oneindige nederigheid wat ek kom dankie sê vir so ‘n spesiale boks. Dis soooo amazing om so bederf te word. Ek weet nie hoe om dankie te sê nie. Maar baie baie dankie. Daai dankie kom uit my diepste diepste wese. Die Here is oneindig goed vir ons. Ek sal laat weet as die reën geval het by ons. Baie baie dankie vir al die heerlike lekker ruik goedjies. Ek is oorstelp van vreugde. Eendag is eendag wil ek in lewende lywe vir julle, by die vlv kom dankie sê en vertel wat dit alles aan ‘n vrou se hart doen in droogte tyd. My ander maatjies moet nog hul bokse kry. Ons bly ver uitmekaar maar elkeen sal hare kry. Baie baie dankie Lea Visser van Nouswes
Susan Fourie van Kleinbegin-NK
“Ai dit is ‘n lekker bederf vir ‘n Boervrou. Nogmaals baie dankie. My man is net so opgewonde.”
Goed geskrewe- en volledige artikel oor belangrike projek – wel gedaan. Groetnis Lydie (namens Kleinbrak-tak)