Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Landbou en Tuinbou

Beriggewer: Ada Gericke/Elize Locke

Datum: 20 Maart 2020

 

SAPREC besoek VLV Voëlvlei:

Die lede van VLV Voëlvlei was bevoorreg om deur Carol Nalton, stigter van die Seevoël- en Pikkewyn Rehabilitasiesentrum, Simoné Kleinhans en René Hodges ingelig te word oor hulle werk.

In die streek wat strek van Stilbaai tot Wildernis is hulle verantwoordelik vir die rehabilitasie van siek, oliebesmette en beseerde seevoëls.  Verskillende spesies, en veral ook bedreigde spesies soos die malgas en pikkewyn word deur SAPREC behandel op hulle terrein by Mossdustria. Met die hulp van ‘n veearts en vrywillige helpers, word voëls gevoed, medikasie toegedien, skoongemaak, geopereer, van mikroskyfies voorsien en weer in hulle natuurlike habitat vrygelaat.

 

Vlnr: Simonè Kleinhans, Renè Hodges en Carol Nalton van SAPREC

 

Die baie interessante praatjie en ‘Powerpoint’-aanbieding het die lede opnuut bewus gemaak van die algemene publiek se  verantwoordelikheid ten opsigte van besoedeling.  Plastiek, vishoeke, vislyn, die gevaar van die uitroeiing van vis, en weggooikos wat deur meeue opgetel word, is opnuut onder die aandag gebring.  Mense behoort bedag daarop te wees, en moet veral ook seker maak dat vis in restaurante wel op die groen lys is voordat hulle dit bestel.

 

Seevoëls, soos mense, kry ook siektes soos malaria (deur muskiete!), bosluiskoors en voedselvergiftiging. Bloedtoetse word gedoen om oorsake vas te stel.  Hulle is ook dikwels blootgestel aan robbyte en benodig soms operasies.

 

Die vrylating van die voëls is ook baie spesifiek. Pikkewyne word by Fransmanshoek, meeue by Nautilus en malgasse by Danabaai vrygelaat.  Vir die pikkewyne moet daar altyd ‘n volwasse voël saam met die jonges wees.  Hulle word ook nooit individueel vrygelaat nie, maar altyd in ‘n groep.

 

Omdat die organisasie van donasies afhanklik is, is die VLV-dames ingelig dat dinge soos geldelike bydraes, veral vir die aankoop van sardyne vir voedsel, sowel as ou handdoeke, skottelgoedseep en ‘cable ties’ altyd welkom is.   Die opbrengs van die marktafel (R600) is aan SAPREC geskenk. VLV-dames is ook uitgenooi om die terrein te besoek waar hulle hartlik verwelkom sal word deur een van die permanente pikkewyn-inwoners in ‘n pragtige swart en wit verepakkie!

 

Tien dames word vereer vir hul gesamenstlike 365 lidmaatskapjare aan die VLV.

 

Vlnr:  Elize Pienaar (55jaar), Rena Gibbons (15 jaar), Cathy Klaassen (15 jaar), Christine Beytell (15 jaar), Arieta Swart (70 jaar), Jemien Smalberger (20 jaar), Yvonne Meyer (55 jaar), Johanna Marais (60 jaar).  Afwesig Rika de Villiers (35 jaar) en Mariaan Deerans (25 jaar)

 

Arieta Swart het ‘n sertifikaat en diensjaarknopie ontvang vir 70 jaar lidmaatskap.  Arieta het in Januarie 1950 as twintigjarige dame aangesluit by die VLV in Leeu Gamka.  Sy vertel dat sy as nuwe onderwyseres bang was om aan te sluit en nou 70 jaar later is sy bang dat sy ‘n vergadering gaan misloop!  Arieta was lid by verskeie takke en het ook op die bestuur van sommige takke gedien.

 

Tydens die 86ste Konferensie van Sirkel SWD, gehou op 4 Maart 2020 in  Oudtshoorn het Voëlvlei 9 eerste plekke behaal.

 

Annemarie van der Merwe het 1ste plek behaal vir Breiwerk en haar gebreide artikel is ook aangewys as die mees uitstaande in die Leefstyl afdeling.  Johlene Muller en Elmarie Engelbrecht het ook 1ste plekke behaal vir Borduur- en Hekelwerk,

 

Elmarie Engelbrecht se olieverfskildery van ‘n Plaashuis het 1ste plek behaal en is aangewys as die mees uitstaande artikel op Konferensie.  Elmarie se pastelwerk het ook ‘n 1ste plek behaal.  Ada Gericke se Ballade is aangewys as beste Woordkuns, Johlene Muller se Vyekonfyt en Marie van Rensburg se Vrugtelekkers was die wenners in hul afdelings.   Hierdie dames, asook ander inskrywings het daartoe bygedra dat VLV Voëlvlei weereens die trofee vir die tak  met die Meeste Punte verower het.

 

    Vlnr:  Annemarie van der Merwe, Elmarie Engelbrecht, Marie van Rensburg, Johlene Muller