Sirkel: Worcester

88ste Konferensie te Bonnievale

Beriggewer: Zelda van Heerden en Alta Britz

Datum: 11 Maart 2020

 

Opening: Ds Jakkie du Preez  lees voor uit Ester 4. Mordegai vra dat Ester die koning om genade moet smeek vir haar volk, die Jode.  Ester wou dit eers nie doen nie maar Mordegai laat weet vir haar: Ester 4 v 14 – “As jy in hierdie tyd gaan stilbly, gaan uitkoms en redding vir die Jode van ‘n ander plek af kom. Jy en jou mense sal dan uitgewis word.  Wie weet, of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!” Ds du Preez sluit af deur te sê ons moet dalk almal êrens ‘n Ester  wees.

 

Die spreker vir Opvoeding en Kultuur, Thia Wentzel, het saam met haar man die Bonnievale Outisme Sentrum gestig. Die sentrum is nog in sy babaskoene, maar hulle het ‘n dringende behoefte gehad om iets op die been te bring waar hulle volwasse outistiese seun versorg  en gestimuleer kan word op ‘n manier wat sy menswaardigheid respekteer. Tans is daar 3 mans (ingesluit hulle seun) wat hier versorg word. Hulle het groot planne om die sentrum uit te brei om voorsiening te maak vir ‘n paar huise op die perseel waar volwasse outistiese persone versorg kan word.

 

By Leefstyl het Liesel Pieterse van die besigheid, Flambojant, vir ons die mooiste tafels kom dek. Sy praat oor die Pantone kleure wat die jaar baie gewild is. Sy moedig ons aan om weer ons etes, saam met ons geliefdes, aan tafel te geniet.

 

Werner Botha van Aid Call 24/7 is aan die woord vir Openbare Sake. Hy demonstreer twee veiligheidssisteme. Die een is ‘n “Care-phone” wat soos ‘n selfoon werk en in die huis is. Die foon skakel direk na hulle dienssentrum toe deur, al jou inligting is op hulle sisteem. Hulle reël dan van hulle kant af dat hulp so vinnig as moontlik by jou uitkom. Die ander sisteem kan soos ‘n waterdigte horlosie aan jou pols of om jou nek gedra word. Die sisteem werk deur net die knoppie te druk of te praat. Hierdie is definitief een van die “aid call” sisteme wat almal moet ondersoek.

 

Die hoogtepunt van die dag was toe Karen van Wyk, ‘n vorige Mev SA kom praat het oor die tema “Belê in ‘n vrou”. Hoe wonderlik was dit nie toe sy ook begin deur te sê dat sy, soos ‘n Ester, gekies was om op die perfekte tyd op die regte plek te wees, sodat sy gebruik kan word om  God se naam, internasionaal, groot te maak. Haar passie was om ‘n verskil in jong meisies/dames se lewe te maak deur hulle verhouding met God te versterk en te bou.

 

Haar verhaal begin deurdat sy sê dat sy, vanaf sy 7 jaar oud was, graag Mej SA wou word en ‘n kroon wou dra. Dit is al wat sy gespeel het as kind. Met baie draaie kom haar lewe by die stadium dat sy voor die deur staan om die besluit te neem of sy gaan inskryf vir Mev SA. Sy het baie getwyfel of sy moes inskryf. Sy het vir die Here gesê dat sy voel dat, op die ouderdom van 47, is dit dalk te laat vir haar om van haar droom om ‘n kroon te dra, ‘n werklikheid te maak. Vyf  verskillende mense  het  op verskillende tye vir haar gesê sy moet inskryf vir Mev SA. Sy het ingeskryf en gewen! Later word sy die Mev Afrika kroon aangebied, sonder dat sy daarvoor  ingeskryf het, die persone wat Mev Afrika reël, het aangedui dat hulle haar gekies het omdat hulle wil hê dat sy Afrika by “Mrs Global” moet gaan verteenwoordig.

 

Na baie twyfel kry sy die woord van die Here af: Jesaja 6v8 – “Toe het ek die Here hoor vra: Wie kan ek met ‘n boodskap na my volk stuur? Wie sal vir ons gaan? Ek het geantwoord: Here ek sal gaan! Stuur my!”

 

Sy wen “Mrs Global”.  Sy was 20 jaar ouer as die ander “Mrs Global” deelnemers. Die kroon wat sy  wen gee toe vir haar ‘n platform om haar passie, om alle vroue ‘n kroon te laat dra vir God, verder te neem en ‘n magdom jong vroue en plaaswerkers te bereik. Soos Ester, het God haar op die regte tyd, op die regte plek gesit.

 

Afskeid word geneem van Elize Lotriet wat sekretaresse van die Sirkel was. Elsa Lombaard is in haar plek verkies. Hanlie van Schalkwyk  neem die Landbouportefeulje  by  Ann Lee Pieterse oor en  Sonja Neethling  die Kuns- en Kultuurportefeulje by  Zelda van Heerden

 

 

 

 

 

Thia Wentzel

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Karin van Wyk

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hanlie van Schalkwyk, Ann Lee Pieterse, Elize Lotriet, Elsa Lombaard, Zelda van Heerden, Sonja Neethling

 

 

Tafels

 

 

Voorportaal

 

 

Rangskikking