Sirkel: Overberg

Tak: Villiersdorp

Gebeurtenis: Sirkelkonferensie

Datum: 11 Maart 2020

Beriggewer: Hermien Van Zyl

 

 

Die 87ste Konferensie van Sirkel Overberg het vanjaar op Villiersdorp plaasgevind en die + 100 konferensiegangers is met tipiese Villiersdorpse gasvryheid in die Eurekasaal ontvang. Nie padwerke, vrugtelorries, beurtkrag of Maartmaand se hitte kon die VLV-lede van die Overberg laat wegbly nie. Ds Koos van Niekerk het reeds met die opening van Konferensie die grondslag gelê wat die VLVK-tema “Belê in Vroue” bied, om te fokus op vrouekrag. Hy het die vyf susters in Numeri se grondtransaksie gebruik om die konferensiegangers daarop te wys hoeveel bedingingsmag vroue het as hulle saamstaan. Die groeteboodskappe van Ben Klindt, Hoofbestuurder van Villiersdorp Koöperasie en Cornie Swart, president van Agri Wes-Kaap het aangesluit hierby. In die woorde van Cornie Swart  “Waar die rol van die vrou nie belangrik geag word nie, daar verloor ‘n gemeenskap.”

 

 

 

 

 

 

 

 

Annette van Eeden van Bredasdorp en die nuwe sirkelsaamroeper vir Landbou & Tuinbou het vir Cornie Swart bedank vir sy volgehoue pogings om sirkel Overberg by Agri Wes-Kaap geaffilieer te hou.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Elsa Winckler, romanskrywer van Bettysbaai, was die gasspreker, en sy het gefokus op die rol wat die liefde in vroue se lewens speel. Sy het die vier pilare van die liefde as uitgangspunt geneem vir die belegging in verhoudings, nl die geborge liefde van die uitgebreide gesin, die vriendskapsliefde van mense wat saamwerk, die liefde in ‘n verhouding en die Goddelike liefde waar ‘n mens lief het, ten spyte van.

 

 Letty-Ann Möller (links) van Bredasdorp, sirkel Overberg se nuutverkose saamroeper vir Openbare Sake bedank die gasspreker, Elsa Winckler.

 

 

Cecile Jonkheid (regs) van Kleinmond, sirkelsaamroeper vir Opvoeding & Kultuur het die Dankie Persoon-toekennings aan Hanneke Strydom (links) en Gesina Loubser oorhandig.

 

Sirkel Overberg se Dankie-persone was die drie vroulike skoolhoofde in die onmiddellike omgewing van Villiersdorp, nl Gesina Loubser, skoolhoof van die Hoërskool De Villiers Graaff op Villiersdorp, en Hanneke Strydom van die Hoërskool Overberg en Geraldine Simon van die Laerskool Swartberg, beide skole op Caledon. ‘n Eretoekenning is ook aan Corrie Fourie oorhandig wat ná 21 jaar as sirkelsaamroeper vir Leefstyl uittree.

 

 

 

Marené Roux was die gaskunstenaar wat die konferensiegangers betower het met die lieflike “Lied van die Boland” deur die Worcesterse musikant, Johan Groenewald. Sy was ook die begeleier vir die samesang.

 

 

 

 

 

 

 

 

Louis van As besig met sy demonstrasie om die foto-album te maak.

 

 

 

Louis van As, een van die blommebeoordelaars, het almal, ná die heerlike middagete met wyn, geborg deur Villiersdorp Kelder, wawydwakker laat oplet hoe stel hy ‘n baie besondere foto-album saam.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bredasdorp was die algehele wenner van die kompetisie-afdeling met die verowering van die Hugo-trofee. Hermanus was tweede en Villiersdorp derde. Ita van der Merwe, Tygerberg se sirkelpresident was ‘n eregas en het die trofeë oorhandig.

 

Sirkelpresident Rienie Ludick (links) saam met Johlene Viljoen (middel) die voorsitter en Mareen de Wet, sekretaresse van die gasvroutak, Villiersdorp.

 

 

Annette van Eeden (links), voorsitter van die Bredasdorp-tak ontvang een van die vele trofeë, ook die Hugo-trofee vir die meeste punte, wat die tak verower het van Ita van der Merwe, Sirkelpresident Tygerberg, wat die oorhandiging gedoen het.

 

 

Magda Marais (middel), voorsitter van Hermanus, ontvang die Mosko-trofee vir die mees uitstaande artikel in die Kookkunsafdeling van Ita van der Merwe terwyl Corrie Fourie, uittredende Leefstylsaamroeper toekyk.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ben Klindt, Hoofbestuurder van Villiersdorp Koöperasie en een van die borge van Konferensie met die Mosko-trofee wat die koöperasie ( toe nog die Villiersdorpse Moskonfyt & Vrugtekoöperasie) in 1964 aan sirkel Overberg geskenk het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Peggy van Druten, 92-jarige deelnemer van VLV-Hermanus by haar rangskikking wat ‘n derde plek verower het. Die tema was Kleurvol – In die Kol!

 

 

Hermien van Zyl (links), Sirkelpresident 2001 – 2014 en Annatjie Liebenberg(middel), sirkelsekretaresse 2004 – 2019 het die eretoekenning en ‘n geskenk aan Corrie Fourie oorhandig.