Sirkel: Overberg

Sirkelkonferensie

Beriggewer: Letty-Ann Möller

Datum: 11 Maart 2020

 

Liefdestaal – Elsa Winckler

Elsa Winckler, openbare spreker en bekende skrywer, het na aanleiding van 45 jaar se getroude lewe met haar jeugliefde, haar verskeidenheid romantiese boeke en haar lewenservaring  ‘n geloofwaardige boodskap met erns en humor oorgedra.  Haar liefde vir tale en kommunikasie het haar ‘n gesogte spreker gemaak tydens die afgelope VLV Overberg Sirkelkonferensie van 11 Maart 2020 op Villiersdorp.

 

Die eerste van vier Griekse woorde vir die liefde wat sy uitgelig het, was eerstens storgi – empatie; die vermoë om ‘n gevoel van “’n veilige nes” te skep.  Die ander drie woorde is philia – vriendskapsliefde, eros – die romantiese ‘spark ‘ en agapé – die Goddelike liefde waarna Romeine 13 verwys.

 

Storgi, oftewel die gevoel van veiligheid, is ‘n baie basiese behoefte. Die akademikus, Maslow verwys ook hierna.  As ons storgi met agape kombineer belê ons in ‘n veilige gemeenskap.

 

Die VLV belê vanjaar in die vrou.  Dit sal goed wees om te fokus op die vrou se reg om geborge, gekoester en bemin te word.  Hierdie basiese menseregte omhels al vier woorde waarna Elsa Winckler in haar konferensietoespraak verwys  het.

 

Die spreker, Elsa Winckler (links) by VLV Overberg Sirkelpresident, Rienie Ludick.