Sirkel: Weskus
Tak: Langebaan
Studierigting: Opvoeding en Kultuur
Beriggewer: Cynthia Huysamen
Datum: 5 Februarie 2020
Vandag kon ons almal weer kinders wees, want die saal en teetafel se dekor het dit uitbasuin en wat ‘n pragtige kinderpartytjie was dit nie. Dankie Hennah Greeff vir die mooimaak en al die dames van Opvoeding&Kultuur vir die mooi en lekker eet- en drinkgoed.
Hilary Nepgen heet almal welkom en ‘n spesiale welkom aan ten minste 25 besoekers en ons gasspreker, Heinrich Gabler.
Elma Oberholzer open met skriflesing en gebed.
Dalena vd Vyver stel vir Heinrich Gabler aan die woord. Heinrich is ons huidige Mnr. Suid-Afrika en hy het besef dat die pad wat hy geloop het tot nou, as inspirasie kan dien vir kinders wat nou grootword in omstandighede soortgelyk aan syne. As jong seun het hy besef dat hul huislike lewe nie normaal is nie. Hy was bitter lief vir sy ma wat gereeld deur sy alkolispa geslaan is. Toe hy sewe was, sterf sy ma in ‘n motorongeluk en net na die begrafnisdiens, gaan sy pa oorsee werk en los hom oor aan sy eie lot. Die familie het toe besluit dat die kinders na ‘n kinderhuis moet gaan. Heinrich was natuurlik bitter oor sy pa hom nie wou hê nie en het vir jare gesmag na ‘n vaderfiguur. Deur die loop van sy lewe in die kinderhuis het hy homself uitgeleef op die sportveld hetsy dit rugby, krieket, swem of wat ookal was, want daar het hy deel gevoel van iets.
Daar was verskeie mense in sy jong lewe wat hom gemotiveer en geïnspireer het en soos meeste tieners het hy ook ‘n rebelse streek gehad. Die res van Heinrich se lewensreis tot nou het hy vir ons uitgelê in woorde en emosies so uniek aan hom. Die liefde en waardering wat hy het vir elke mens wat ‘n positiewe impak op sy lewe gehad het, straal uit hom, maar die grootste liefde is dit vir sy Hemelse Vader wat hy as sestienjarige seun as sy Verlosser aangeneem het.
Sy mooi staaltjie oor die R10,00 wat hy gewen het by die skool, waarmee hy die pastei en koeldrank gekoop en met ‘n straatkind kon deel, dra baie gewig in sy lewe,
want wat is lekkerder as om te gee – nie omdat mens moet nie, maar omdat mens kan of wil.
Heinrich is ‘n inspirasie vir enige mens en ons wens hom oneindige sukses met sy maatskappy “Up-cycle” wat gebruikte sporttoerusting by skole kry en dit dan vir minder gegoede skole skenk. Ons wens hom ook sukses met sy deelname aan Mnr. Wêreld wat eersdaags in die Fillipyne gaan plaasvind.
Ons huidige Voorsitter, Hilary Nepgen, word na 13jaar lidmaatskap in Langebaan, oorgeplaas na Strand-tak, Sirkel Kaapstad, waar sy voorheen ook 13 jaar lid was. Hilary oorhandig haar balkie aan die huidige Vise Voorsitter, Annelie (Anni) Strydom. Louna Niehaus word as Vise Voorsitter voorgestel.
Johanna Prins groet en bedank vir Hilary met staaltjies en herinneringe sedert sy in Februarie 2007 by Langebaantak aangesluit het.
Estelle du Plessis (Weskus Sirkelpresident) groet en bedank ook vir Hilary en weet dat sy ook in Sirkel Kaapstad gaan belê, soos sy hier gedoen het.
Leave A Comment