Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 19 Februarie 2020

 

Dit was ‘n laaaaaaaaaang tydsverloop sedert Acqua in November van 2019 afgesluit het en die Kwa-Kwa’s weer oë op mekaar kon werp in Februarie 2020. Die Kersseisoen het gekom en gegaan, kuiergaste het hulle ry gekry, die jongspanne het die skoolbanke betrek en toe eers kon die Acqualede laer trek.

 

Nie alleen was dit die tak se eerste vergadering in ‘n nuwe vergaderingstuiste nie, dit was ook die eerste geleentheid van die nuwe jaar om brood te breek en gesellige Acquasamesyn te ervaar.

 

‘n Verskeidenheid van wyne, wat met die regte kos en smake gekombineer is, het natuurlik ook bygedra tot ‘n baie gesellige aand. Ronelle Wright van Le Barrique het haar meesterlik van haar taak gekwyt om die gaste in te lig oor die wynkultuur.

 

Die maak en drink van wyn dateer terug na ongeveer 6000 jaar v.C. Die landgebiede wat as die mees waarskynlike bronne van oorsprong gereken word val binne die hedendaagse Iran en Georgië.

 

Wyn word in drie afdelings of soorte verdeel. Daar is natuurlike wyn, wat wit, rooi of rosé kan wees, met ‘n alkoholinhoud van hoogstens 13%. Die aanwesigheid van koolsuurgas bepaal of die wyn stilwyn, vonkelwyn of perléwyn (half-vonkelwyn) is.

 

‘n Alkoholinhoud van maksimum 20% in gefortifiseerde wyne verseker dat die wyn langer behoue bly. Dessertwyn, sjerrie, port en vermoet is gefortifiseerde wyn. Die proses van fortifikasie is wanneer brandewynspiritus of suiwer wynspiritus by natuurlike wyn gevoeg word om sodoende die alkoholinhoud te verhoog.

 

Gedistilleerde wyn, met ‘n alkoholinhoud van meestens 43%, word verdeel in brandewyn en wynspiritus. Die spiritus word gebruik vir die maak van likeurs.

 

Met aankoms het elkeen ‘n glasie vonkelwyn met ‘n spookasem bedekking gekry. Die benaming sjampanje mag slegs gebruik word vir vonkelwyn wat in Frankryk volgens die methode champegnoise berei is. Die metode is vernoem na die Franse Benediktynse monnik, Dom Pierre Pérignon. Hy het die tweede gistingsproses, wat veroorsaak dat klein borreltjies met die oopmaak van die bottel vrygestel word, ontdek. Vonkelwyn kan van wit-, rooi- of roséwyne gemaak word.

 

Die eerste wyn wat geproe is was‘n droë witwyn met skyfies Hoender Ballotine. Die hoender was gevul met spinasie en bedek met ‘n soet-suur sousie. Indien wyn geen suiker bevat nie word dit droog (sec) genoem. Halfsoet, ook semi-soet of effe-soet genoem, is wyn wat ‘n klein hoeveelheid suiker bevat.

 

‘n Rosé, semi-soet, is perfek gekombineer met ‘n visgevulde vol-au-vent en ‘n skerp mango atjar.

 

Rooiwyn word uitsluitlik van swart druiwe gemaak. Die rooi doppe gee nie net kleur aan die wyn nie, maar is ook verantwoordelik vir die wyn se kenmerkende aroma en boeket. Rooiwyne in Suid-Afrika word in ligte en vol rooiwyne ingedeel.

 

‘n Ligte rooiwyn is gekomplimenteer deur filodeeg-sigaartjies gevul met gevlokte beesvleis en voorgesit op ‘n bed van mikro-kruie.

 

‘n Stukkie kruisskyf op fyn aartappels met Jullienne groente en ‘n rooiwyn jus was die perfekte pasmaat vir die vol rooiwyn. Dit is noodsaaklik dat die gewig en tekstuur van die wyn ooreenstem met dié van die kos wat saam met dit genuttig word. Dit is ook belangrik dat die temperatuur van die wyn reg moet wees. Rooiwyn is op sy beste as dit teen ‘n temperatuur van 14-18°C gestoor word.

 

 

Daar is vyf basiese smake wat die karakter van ‘n wyn beïnvloed. Sout, soet, suur, bitter en umami is die verskillende smake. As die kos soet of suur smake het, sal dit die wyn tem. Wyn se geur sal egter versterk word deur soet of umami smake. Die beste is om jou te laat lei deur die smake op die bord, wanneer jy besluit op die karakter van die wyn wat jy saam met dit wil geniet. Sodoende word die beste van beide na vore gebring.

 

Die proe-en-pas ervaring is afgesluit met ‘n soet dessertwyn, geproe saam met ‘n tertjie gevul met grenadella en meringue.

 

Acquatak is baie bevoorreg om steeds, in die nuwe lokaal, uit die hand van sjef Jeanine Botha te kan eet. Sy stap al ‘n lang en baie smaaklike pad met die tak. Sy en haar span van Simply Dine was die lokaal-spysenier by die tak se vorige vergaderingstuiste. Gelukkig het sy saam met die tak ‘n nuwe tuiste gevind by die Westview Sportklub.

 

Die tak vergader in die aand. Na die agenda afgehandel is word daar, afhangend van die spreker en/of aand se program, saam ete genuttig. Om te kan aansit vir ‘n ete, wat nie deur jouself voorberei is nie, is mos darem ‘n groot lekkerte. Elke vrou het so ‘n bederfaand van ongekompliseerde vroulike samesyn nodig. Boonop hoor, sien of ervaar ‘n mens iets wat jy nog nooit vantevore beleef het nie. Om ‘n VLV-lid te wees, meer nog ‘n Acqualid, is ‘n voorreg. Wie kan nee sê vir ‘n uitgebreide vriendekring, uitstekende kontakbasis, ‘n platform om goedheid en guns aan die gemeenskap te betoon en die geleentheid om bemagtig te word?

 

Synde ‘n nuwe lokaal en die feit dat dit Acqua se eerste samekoms van die jaar was, is daar gróót gegaan met die dekor. Lynley Cusens, van Floral Creations and The Hire Warehouse, het die dekor goedgunstiglik aan Acqua verskaf.

 

Tafels en stoeloortreksels was in swart en wit gedoen. Middelplasings, in goue bottels, was ‘n verskeidenheid van loofblare. Elke gas het ‘n Lindt sjokoladeballetjie as funksie-gunsie gekry. Dit het ook, so in die maand van die liefde,‘n tikkie rooi na die tafel gebring. Servette, wit linne (vir die skoot) op die swart tafels en swart op die wit tafels, was met ‘n polkadot of streep papierservet gekombineer. ‘n Papierservet (vir die mond) bring kleur en sagtheid na die individuele sitplekplasing. Dit komplimenteer ook die tafeldekor.

 

Acqua se afskop was ‘n baie gesellige aand. Die lokaal, tafeldekor, wyne, kos en elke vrou teenwoordig was in ware Acquastyl skougehalte.