Tak: Prieska
Sirkel: Noordwes-Kaap
Portefeulje: Gesondheid
Beriggewer: Erika Lubbe
Datum: 12 Februarie 2020
VLV Prieska se nuwe VLV-jaar het ten spyte van die droogte op ‘n hoë noot afgeskop! Nie net is die laaste reëlings van die komende Konferensie in diepte bespreek nie, maar die Gesondheidsaamroeper, Liz-Maré Lubbe, het ook vir Mariska van Wyk, ‘n plaaslike radiografis, aan die woord gestel om oor borskanker te praat.
Borskanker is ‘n kwaadaardige gewas wat ontstaan weens die ongekontroleerde en onbeheerste groei en vermenigvuldiging van ‘n sel in die bors wat ‘n reeks mutasies (veranderings) ondergaan het. Hoewel die gewas aanvanklik net die bors affekteer, kan borskanker versprei wanneer selle uit die gewas ontsnap en deur die bloed en limfstelsel versprei na ander dele van die liggaam soos die longe en skelet, waar dit vermenigvuldig en ander gewasse vorm. Dié proses word metastase (uitsaaiing) genoem.
Simptome
‘n ongewone knop in die bors
‘n verandering in die grootte of vorm van die bors
afskeiding uit ‘n tepel
onnatuurlike rimpeling of veranderings in die kleur en tekstuur van die vel
‘n ingetrekte tepel, of skubagtigheid en afskilfering van die vel om die tepel
swellings in die bo-arm of in die armholte
pyn, ongemak, swelling en ‘n warm gloed in die bors.
Voorkoms van en sterftes weens borskanker
Borskanker is die algemeenste kanker by vroue. Een uit elke twaalf vroue loop die risiko om in haar leeftyd borskanker te ontwikkel. Borskanker wat vroeg opgespoor en behandel word, het ‘n beter kans om genees te word as gevorderde kanker.
Risikofaktore
Geslag
Die feit dat ‘n vrou ‘n vrou is, is die grootste enkele risikofaktor vir borskanker. Mans kry ook borskanker, maar dit is baie seldsaam.
Ouderdom
Namate ‘n vrou ouer word, styg haar risiko om borskanker te ontwikkel. In Suid-Afrika is daar ‘n toename in die aantal jonger vroue wat borskanker ontwikkel.
Familiegeskiedenis
Die risiko om borskanker te ontwikkel is groter met bloedverwante (aan die moeders- en vaderskant) wat borskanker gehad het. ‘n Vrou se risiko om borskanker te ontwikkel verdubbel as haar ma of suster borskanker gehad het en is nog groter as die ma of suster die siekte voor menopouse ontwikkel het.
Genetiese faktore
Vyf tot tien persent van alle borskanker hou verband met mutasies (veranderings) in sekere gene. Daar is gevind dat twee gene, BRCA1 en BRCA2, ‘n rol speel as ‘n vrou een van dié mutasies van een of albei haar ouers geërf het. Dit verhoog haar risiko om borskanker te ontwikkel. 50 tot 60 persent van alle vroue met die oorgeërfde mutasies ontwikkel borskanker teen die ouderdom van 70 jaar.
Persoonlike geskiedenis van borskanker
Vroue wat kanker in een bors gehad het, het ‘n groter kans om ook kanker in die ander bors te ontwikkel.
Ras
In Suid-Afrika is wit- en Indiërvroue se risiko om borskanker te ontwikkel baie hoër as dié van ander vroue.
Hormonale faktore
Die vroulike hormoon, estrogeen, speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van borskanker. Daar is gevind dat menstruasie op ‘n vroeë leeftyd en menopouse op ‘n latere leeftyd die borskankerrisiko in vroue verhoog. Hoewel geen deurslaggewende bewyse gevind is dat hormoonvervangingsterapie ná menopouse die borskankerrisiko verhoog nie, het studies daarop getoon dat daar ‘n geringe kans is dat die gebruik van hormone vir langer as tien jaar ná menopouse die borskankerrisiko kan verhoog.
Kindergeboorte
Borskankerrisiko hou verband met die ouderdom waarop ‘n vrou vir die eerste keer swanger raak en geboorte gee. As sy vir die eerste keer swanger geraak het ná die ouderdom van 35, is haar risiko om later borskanker te ontwikkel, drie keer hoër as dié van ‘n vrou wat voor haar twintigste verjaardag ‘n baba gehad het. Vroue wat geen kinders gehad het nie, se risiko is ook hoër.
Lewenstyl
Drink- en eetgewoontes asook oorgewig kan bydra tot ‘n groter borskankerrisiko. Navorsers het in studies getoon dat daar ‘n besliste verband is tussen alkoholinname en borskanker. Die inname van twee drankies per dag kan ‘n vrou se risiko om borskanker te ontwikkel met tot 25 persent verhoog. Alkohol-inname verhoog die sirkulasie van estrogeen. Vroue wie se gewig vanaf hul 18de jaar met 20 kg of meer toeneem se risiko verdubbel, want hoe swaarder ‘n vrou is, hoe hoër is haar estrogeenvlak.
Vroeë opsporing
Vroeë opsporing/diagnose van borskanker is lewensbelangrik vir geslaagde hantering. Hoe kleiner die gewas wanneer dit opgespoor en verwyder word, hoe beter is die kans dat dit nog nie versprei het na ander dele van die liggaam nie.
Daar is verskillende maniere waarop ‘n vrou haarself deur vroeë opsporing kan beskerm.
Dit sluit in:
Mammografie
‘n Mammogram is ‘n spesiale laedosis-X-straalondersoek van die sagte borsweefsel. Die X-straalfoto, wat die weefselmassa in die bors duidelik sigbaar maak, word dan op wit of blou papier ontwikkel. Dit stel die dokter in staat om enige afwykings, kwaadaardigheid of ander abnormaliteite in die borsweefsel te identifiseer. ‘n Ervare spesialis kan op dié manier gewasse identifiseer terwyl dit nog baie klein en nie eens met die vingers voelbaar is nie. ’n Vrou moet vanaf veertig jaar elke jaar ’n mammogram laat doen en ook ’n kliniese borsondersoek ondergaan.
Ultrasoniese klankgolwe
Ultrasoniese klankgolwe (sonar) word toenemend as hulpmiddel gebruik.
Selfondersoek
‘n Vrou moet haar borste maandeliks self ondersoek vir ongewone tekens soos ‘n knop, bloeding of afskeiding uit die tepels. As ‘n vrou enige abnormaliteite of veranderings in haar borste ontdek, moet sy dadelik haar dokter daarvan vertel.
Kliniese ondersoek
Vanaf die ouderdom 40 of 45 jaar moet vroue jaarliks ‘n kliniese borsondersoek deur ‘n ervare dokter laat doen. Vroue van 20 tot 40 jaar kan dié ondersoek elke drie jaar laat doen. Die dokter ondersoek die borste om vas te stel of daar enige veranderings in die vorm of grootte is en saam daarmee ondersoek hy ook die armholtes.
Behandeling
Borskanker in enige stadium
Om vas te stel of die kanker versprei het, word die kliere onder die arm verwyder vir patologiese ontleding. As daar kankerselle in die kliere teenwoordig is, is dit ‘n aanduiding dat die kanker versprei het. Dié prosedure word vir alle stadiums borskanker gebruik as rigtingwyser vir verdere behandeling.
Vroeë borskanker
Behoudende chirurgie is geskik vir vroeë borskanker of borskanker in situ (kanker wat tot die voering van die klein buisies beperk is). Dit behels slegs die verwydering van die knop in die bors en die limfkliere onder die arm en nie die verwydering van die hele bors nie. Dié behandeling word opgevolg met ‘n kursus bestraling.
Gevorderde borskanker
Die behandeling van gevorderde borskanker (borskanker wat versprei het) is nie soseer op genesing gerig nie, maar op die doeltreffende beheer van die siekte en die lewensgehalte van die pasiënt. Dit behels gewoonlik chirurgie (‘n mastektomie of knopuitsnyding), bestraling en chemoterapie. Die dokter kan ook hormoonterapie soos tamoksifeen gebruik om die pasiënt se estrogeenvlak te verlaag. Chemoterapie verwys na middels wat gebruik word om kankerselle te vernietig. Die middels word gewoonlik binne-aars toegedien, maar kan ook mondelings ingeneem word. As chemoterapie ná chirurgie toegedien word, kan dit verhoed dat die kanker weer opvlam. Bestraling of radioterapie word gebruik om kankerselle te krimp of te vernietig. Eksterne bestraling word meestal gebruik om borskanker te behandel. Dit kan voor chirurgie gebruik word om die gewas te krimp, of ná chirurgie om kankerselle wat moontlik agtergebly het, te vernietig.
Louisa Badenhorst wat as lid aangesluit het.
Spreker en radiografis, Mariska van Wyk; Gesondheidsaamroeper, Liz-Mare Lubbe
Leave A Comment