Sirkel: Cradock
Tak: Hofmeyr
Portefeulje: Openbare Sake
Beriggewer: Teresa Opperman
Datum: 18 Januarie 2020
HOFMEYR VLV en HUGS OF HOPE hou deftige tee.
Hofmeyr VLV en Hugs of Hope het die afgelope naweek ‘n uiters suksesvolle deftige tee in die Kerksaal gehou. Tydens die openingsrede is hoogtepunte uit 2019 aangehaal, waaronder die vier toekennings waarmee Hugs vereer is. Die doel van hierdie geleentheid was egter ook om presteerders met sertifikate te beloon, en om ‘skills development’ tentoon te stel deur aan beginners by Hugs die geleentheid te gee om ook hul eie deftige teetafels te dek, hul eie gaste te nooi en as gasvroue by ‘n publieke geleentheid op te tree. Altesaam 104 gaste het die geleentheid bygewoon, en die 13 gasvroue wat elk ‘n tafel beman het, het gaste van Cradock, Molteno, Steynsburg, Tarkastad, Schoombee, Hofmeyr en Middelburg genooi om by hul tafels aan te sit. Die tema was “Toeka tot nou” en gaste was uitgedaag om hul oudste uitrusting op te diep en aan te trek. Talle treffende uitrustings uit die jaar toet is vertoon, en tydens die modeparade is nog ‘n klomp ou uitrustings, wat uit Hugs se store kom, vertoon. VLV vroue het as modelle oopgetree en die teetafels is ook beoordeel deur Dada de Jager van Hofmeyr VLV.
Louise Geyer het as gasspreker opgetree en haar tema : Vormdrag van Toeka tot nou, het almal se stoutste verwagting oortref. Menige gas sal met nuwe insig onderklere aankoop.
Emma Roux het as Senior Lid van die Gemeenskap wat Hugs ondersteun en reeds 60 jaar ‘n VLV lid is, ‘n toekenning van erkenning ontvang, so ook Desiré Schofield wat in die kombuis betrokke was, voordat sy ‘n pos by Laerskool Hofmeyr aanvaar het. Brenda du Plooy het ook erkenning ontvang vir die wyse waarop sy haar werk by Hugs doen. Tafelpryse het gegaan aan Annerien van der Merwe (VLV Voorsitter 2020) vir Deftigste Tafel en Tafel waar die meeste gaste volgens Tema aangetrek het. Die tafel van Bettie Brown het die toekenning ontvang vir die vrolikste, joligste tafel, terwyl die tafel van Ellen Arendst die toekenning as deftigste beginner tafel ontvang het.
Hofmeyr Hugs of Hope het in samewerking met Hofmeyr VLV, ook ‘n proeflopie gehad gedurende 2019 waar inwoners van Twinsville uitgedaag is om hul tuine te verfraai, hul huisies mooi te maak en Twinsville papier- en plastiekvry te verklaar. Die toekenning vir die netjieste kleurvolste huis, die mooiste tuintjie, die netjieste omgewing,het gegaan aan Bettie Brown vir die werk wat sy rondom haar huis en in die straat waar sy woon verrig, in samewerking met haar drie tienerdogters.
Elisma de Jager van Simply Sprout Bemarking en aktiewe lid by Hofmeyr VLV en Hofmeyr Hugs of Hope, het haar toekenning ontvang vir opleiding voltooi by Southern Hemisphere en daarna het sy die nuwe Hugs webwerf en Webwinkel bekend gestel. Die Hofmeyr Hugs of Hope webwerf is reeds aktief en die webwinkel het Maandag ‘n aanvang geneem.
Alecia Vermaak
Nastasha Vermaak
Brenda du Plooy
Anelda Herselman
Nastasha Vermaak
Elisma de Jager
Emma Roux (82) het self ook ‘n teetafel gehad by die geleentheid. Sy het die toekenning ontvang as die Senior Hofmeyr VLV lid wat nog aktief betrokke is by die VLV, en ook as Senior gemeenskapslid wat nog betrokke is by Hofmeyr Hugs of Hope, waar sy haar woning oopgestel het vir pakkies wat afgelaai word, en sy stuur ook gereeld Muffins vir tee.
Sharon Keyter en Dada de Jager. Sharon is ‘n oud-inwoner van Hofmeyr en Dada de Jager, hier met ‘n rokkie aan wat haar eie ma ook gedra het in haar vyftigerjare, het die beoordeling van die teetafels gedoen namens Hofmeyr VLV.
104 gaste het die Hofmeyr NG Kerksaal lekker gesellig volgemaak.
Die wen-teetafel was die tafel van Annerien van der Merwe (Hofmeyr VLV Voorsitter)
Leave A Comment