Sirkel: Griekwaland-Wes
Tak: Daniëlskuil
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Beriggewer: Hettie Krüger
Datum: 17 Januarie 2020
VLVK Daniëlskuil-tak leer rangskik met loof
Lizzy Cloete by haar voltooide rangskikking.
Lizzy Cloete van Lime Acres het die dames van die VLVK Daniëlskuil-tak, tydens hul eerste byeenkoms vir 2020, touwys gemaak om ‘n indrukwekkende rangskikking – sonder enige blomme, slegs met loof, te maak. Dit was ter voorbereiding van die loofrangskikking-kompetisie tydens VLVK Sirkel Griekwaland-Wes se Konferensie wat op 10 Maart 2020 in Niekerkshoop gehou word.
Lizzy het voorheen ‘n Bloemiste besigheid besit. Sy sê ondervinding het haar alles geleer wat sy van rangskik weet. Sy voel mens het ‘n voordeel op die platteland, juis omdat alles nie so maklik bekombaar is nie – dit gee ‘n mens die geleentheid om baie meer kreatief te kan dink. As jy net bietjie rondom jou kyk, sal jy besef hoe baie goed daar is wat jy kan gebruik – selfs ‘n pampoen of ‘n koolkop…
Lizzy besig met voorbereiding vir haar rangskikking.
Hoewel sy slegs blare in die demonstrasie gebruik het, sê sy die basiese beginsels van blommerangskikkings geld steeds – ‘n mens moet iets hê wat die aandag trek en iets wat ‘n bietjie die spasie kan opvul. Dit werk die beste as jy ongelyke getalle in jou rangskikking gebruik – herhaal byvoorbeeld drie fokuspunte op verskillende hoogtes.
Lizzy Cloete demonstreer hoe om met loof te rangskik.
Gebruik eerder vlesige, was-agtige blare soos ivy as sagte blare – dit hou baie langer in ‘n rangskikking. Knip lelike dele van blare af. Blare wat ander kleure as groen in het, byvoorbeeld geel of pienk, helder die andersins eentonige rangskikking dadelik op.
Lizzy se rangskikking van nader, met onder-voorsitter, Carlene Stoffberg, in die agtergrond.
Lizzy verkies om isolation tape eerder as bloemiste kleefband te gebruik. ‘n Mens kry dit heel gepas in groen ook. Vlas is baie veelsydig. ‘n Mens kan daarmee vleg, jy kan die oasis daarmee toedraai of jy kan ‘n strik of ‘n kruis daarmee maak. Jy kan ook ‘n koepeltjie daarmee vorm, deur albei punte in die oasis te druk.
‘n Voorbeeld van hoe vlas vir ‘n koepeltjie en ‘n strik gebruik kan word.
Dit is belangrik om jou rangskikking vooraf te beplan. Daar is nie ‘n reg of verkeerd met blommerangskikking nie. As dit vir jou werk, is dit reg. Deesdae se rangskik styl verskil baie van destyds se “stywe” styl.
Nog ‘n wenk wat sy gee is: As jy blomme in ‘n pot sit, haal die onderste blare af, want dit is gewoonlik die blare wat verrot.
Die dames was baie beïndruk met dié interessante demonstrasie. Die van hulle wat voor die tak se ontbinding in 2003 aan VLVK Daniëlskuil-tak behoort het, sê ‘n mens leer altyd so baie by ‘n VLVK-byeenkoms en daarom is dit so goed dat daar nou jong vrouens aan die nuwe tak behoort.
Leave A Comment