Sirkel: Griekwaland-Wes

Tak: Daniëlskuil

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Hettie Krüger

Datum: 17 Januarie 2020

 

Lewensafrigter motiveer VLVK Daniëlskuil-tak

 

VLVK Daniëlskuil-tak se eerste byeenkoms vir die jaar was propvol motivering, interessante inligting en wonderlike samesyn.

 

Pamflette met inligting oor VLVK is tydens die geleentheid aan lede en besoekers uitgedeel. Dit is ‘n wonderlike hulpmiddel om nuwe lede mee te werf.

 

Philippa Swart, lewensafrigter van Hotazel en eienaar van Daydreams, What If… het die dames kom motiveer vir 2020. “Ek geniet baie wat ek doen,” sê sy met ‘n vonkel in haar oë. Sy het in Februarie 2016, na 36 jaar se werk, begin doen wat sy graag wou doen die dag wat sy sou aftree. Vandag, na vier jaar, wonder sy waarom sy dit nie vroeër gedoen het nie.

 

Lewensafrigter, Philippa Swart van Daydreams, What if… tydens haar besoek aan VLVK Daniëlskuil-tak.

 

Sy sê: As ons klein is droom ons daarvan om te studeer, ‘n goeie man te kry, ‘n mooi huis en kinders. Jy help jou man om te kom waar hy moet wees. Dan doen jy dieselfde vir jou kinders. Dan is jou kinders groot. Hulle en jou man is waar hulle graag wou wees, en jy wonder skielik: “Wie is ek?”, want jy het heeltyd jouself en jou drome onderdruk.

Nou wil jy jouself en jou drome vind. Dit lei soveel maal tot egskeiding. Praat van die begin af met jou man en jou kinders oor jou drome en wie jy regtig is. As jy nie kan uitleef wie jy regtig is nie, kom jy tot niks.

 

Philippa se praatjie hieroor was getiteld: “Voel jy goed in jou klere?” Kyk jy onmiddellik af na jou klere wanneer jy hierdie vraag hoor? Die samelewing het ‘n voorskrif van hoe jy moet lyk, maar maak dit regtig saak of jy in ‘n nommer 10 of ‘n nommer 24 rok pas? Die samelewing druk ons in ‘n boksie. Is die eerste ding wat jy vir iemand vra wanneer jy hulle ontmoet: “Watter grootte klere dra jy?” Nee, dit is nie!

 

Vra jouself die vraag: “Wie is ek? Met of sonder my klere?” Is mens nie die heel gemaklikste in jou pajamas nie? In jou pajamas is jy net jouself, sonder voorgee. Jy wys jou emosies (hartseer) en niemand sien jou nie – net jou heel naaste mense. Dan begin jou dag en jy vra jouself: “Wat trek ek vandag aan om ‘n indruk mee te maak en raakgesien te word?” Jy kleur jou gesig in en maak jou hare mooi vir die buite wêreld.

 

Die lekker gevoel van mooi lyk, kom egter van binne af. Jy trek daardie stywe vormdrag onder jou klere aan… “Buro van standaarde,” sê Liza Cloete van VLVK Daniëlskuil-tak spottend. Jy lyk professioneel. Dit is die beeld wat jy vir die wêreld wys, maar jy steek jou hartseer weg as jy by die deur uitstap.

 

Wie is jy in jou kleredrag? Hoe voel jy? Jy kom vanaand by die huis. Jou man sê julle moet ‘n belangrike bestuurder by ‘n skemerkelkie ontmoet. Jy wil hê dat jou man bevorder word en dat jou man raakgesien moet word. Jy wil graag sexy lyk – jy dra skeone wat druk en die maerste nommertjie in jou kas. Jy lewe vir jou man, maar jy moenie jouself vergeet nie. Na die skemerkelkie kom jy stokflou by die huis, want jy was heeldag besig om iets voor te gee wat jy nie is nie.

 

Hoe kan jy goed voel in jou klere as jy daar sit en weet: “Dit is nie ék wat hier sit nie.” Dit maak jou innerlik siek, want ons wil so graag hê al die mense moet van ons hou. By VLVK is almal unieke en kreatiewe mense. Almal se koppe werk verskillend.

 

Is jy tevrede met wie jy is? Wees tevrede met jou glimlag, jou gedagtes, elke situasie, elke rok en elke broek. Leef jouself uit vir die mens wat jy is! Wat is jou drome? Is jy tevrede met wat jy het? Wil jy nog ‘n klerereeks uitbring? Wil jy ‘n geel sportmotor ry of is jy tevrede met die voertuig wat jy nou ry.

Praat met jou man oor jou drome.

Uit Philippa se eie getuienis vertel sy dat haar droom was om met mense te werk. Daar het toe ‘n ander geleentheid oor haar pad gekom en sy het vir haar man gesê: “Maar ek wil dit nie doen nie.” Hy antwoord toe: “Jy hoef nie. Doen dit wat jy wil doen.”

Dit is toe dat haar besigheid, ‘Daydreams, What if…’ begin het. “Daydreams – My daydreams came true.” “What if – you will get more than you bargain for!”

 

Philippa het besef: “Ek moet my drome uitleef, sodat ander hulle drome kan uitleef.”

 

Philippa bied verskeie lewensveranderende seminare aan en kan gekontak word by 082 854 1083.