Sirkel: Paarl
Tak: Wellington
Portefuelje: Gesondheid
Beriggewer: Karen Barnard
Datum: 13 Junie 2019
Orgaanskenking is ‘n onderwerp wat baie wil vermy, maar ons kan ‘n groot verskil maak.
Sandra Venter, betrokke by orgaanskenking en spesifiek weefsel skenking, het ons meer kom vertel.
Slegs 0.02% van Suid-Afrika se bevolking is tans geregistreer as orgaanskenkers. Meer as 3600 persone wag jaarliks vir organe. Slegs sowat 100 orgaanskenkings word jaarliks in Suid-Afrika gedoen. Sowat 5% van die Suid- Afrikaners kan jaarliks organe skenk.
Ons kan betrokke raak deur gratis te registreer by die Orgaanskenkings vereniging van Suid-Afrika. Persone kan registreer as: Orgaanskenkers, en/of Weefselskenkers of Volliggaam skenkers.
Organe, naamlik hart, lewer, 2 niere, 2 longe en pankreas van ‘n persoon kan slegs gebruik word as die persoon se hart nie gaan staan het nie. Pasiënte wat breindood verklaar is se organe kan gebruik word. Famiie moet toestemming gee ongeag of jy geregistreer is al dan nie. ‘n Lewende persoon kan 1 nier, bloed of beenmurg skenk.
Weefsel word geskenk nadat die pasiënt dood is. Dit is moontlik binne 48 uur en beenweefsel selfs tot 5 dae na die afsterwe. Weefsel wat geskenk kan word is kornea, vel, been en hartkleppe. Boonste laag vel van die rug, arms en bene word geoes. Pasiënte met ernstige brandwonde se lewens word gered deur die vel oor die wonde te plaas sodat die gebrande vel onder dit kan genees. Langbene van arms en bene word uitgehaal en vir orthopediese en neurochirurgiese prosedures gebruik. Lededmate kan so gered word.
Volliggaam skenking word gedoen as die persoon sy liggaam vir navorsing skenk by ‘n universiteit of tersiêre instelling. Die liggaam kan vir 12 maande gebruik word.
Persone wat geskik is as skenkers:
- Alle ouderdomme. Ouer as 80 jaar raak die gebruik van organe en weefsel laer.
- Gesonde persone sonder kanker en ernstige oordraagbare siektes( HIV en Hepatitus)
- Elke persoon en situasie word egter individueel geëvalueer.
Die pasiënt wat wag vir ‘n orgaan of weefsel en sy familie stap ‘n moeilike pad.
Ons kan almal ‘n verskil maak deur te registreer.
1 Skenker Kan 7 lewens red
Tot 50 persone kan voordeel trek.
Leave A Comment