Sirkel: Kalahari

Tak: Vryburg

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Carien Van Niekerk

Datum: 6-7 Februarie 2019

 

 

Leesfees:

 

As deel van Sirkel Kalahari se projek Handjies Vat wat fokus op vroeë kinderontwikkeling, het VLV Vryburg gedurende September 2018 stories gaan voorlees by verskeie skole se gr R klasse in Vryburg.  Dit was ‘n ongelooflike voorreg om te sien hoe die kinders die stories geniet. Al die skole het uit hul pad gegaan om die projek by hul besige programme in te pas.  Vir die VLV en die skole was Afrikaans belangrik en die lees/voorlees van stories ‘n fokuspunt.

 

Na ‘n radiogesprek met die Vriende van Afrikaans, is besluit om die projek tot nuwe hoogtes te neem en voorleeswerkswinkels aan te bied.  Chareldine van der Merwe (projekbestuurder VVA) moes eers Vryburg op die kaart opsoek en ten spyte van ver afstande het hul ingestem tot ‘n besoek.  Daar is besluit om skole uit te kies met Afrikaans as hooftaal, maar ook word dit as eerste addisionele taal aangebied, nl. Pikkewouters, Vryburg Voorbereidingskool, Colinda Primêre skool en Heidi Leersentrum.  Pikkewouters was eerste aan die beurt in September en hulle het ‘n boekskenking van R2000 ontvang van Lapa Uitgewers.

 

In Februarie 2019 word 1114 leerders vanaf Graad R tot 3 bereik, te same met hul personeel.  Chareldine van der Merwe, Mandie Ehlers (ATKV) en Dokka Swart (Doen en Leer) bied by elke graad boekopvoeding aan en lees ‘n storie of twee.  Dokka doen bietjie oogoefeninge en middellynkruisingbewegings met die kinders.  Hierdie sessies is so geniet deur al die kinders en hul wou net langer bly. Dokka het in 20 minute vyfjarige kindertjies geleer om tot 8 sinne te lees.

 

Twee aande is voorleeswerkswinkels en demonstrasies aangebied vir die personeel, ouers, grootouers en oppassers en meer as 120 ouers is so bereik. Chareldine het benadruk hoe belangrik voorlees is vir kinders jonger as 6 jaar en ook hoe mens dit kan interessant en opwindend maak.

 

Vryburg was baie bevoorreg dat die VVA en hul vennote, Afrikaanse Onderwys Netwerk, drie boektrommels geskenk het ter waarde van R8000 elk.  Hierdie trommels gevul met Afrikaanse boeke is geskenk aan Graad R klasse by die Voorbereidingskool, Colinda Primêr en  Heidi Leersentrum.  Die kinders was so opgewonde oor die inhoud van die trommel en ons weet hul gaan elke boek waardeer.

 

Die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwys Netwerk, Daan Potgieter, asook Yolandé de Nysschen en me Wilna van Rooyen (verantwoordelik vir vroeëkinderontwikkeling) het ook die aanbiedings bygewoon by die Voorbereidingskool. Daar was geleentheid vir die skoolhoofde om in gesprek te tree oor samewerking tussen die skole en die AON, wat fokus om op ‘n praktiese manier Afrikaanse onderrig by skole te ondersteun, te bou en te ontwikkel.

 

Die Vrouelandbouvereniging in Vryburg kyk met dankbaarheid terug op hierdie Leesfees en die sukses waarmee dit uitgevoer kon word.  Daar is ‘n verskil gemaak in plaaslike skole en die belangrikheid van lees is benadruk en dan ook veral in Afrikaans – vir verskeie leerders is dit moedertaalonderrig maar vir ander hul eerste addisionele taal.

 

Carien van Niekerk en Esta Twigge van VLV Vryburg by die logo van Vriende van Afrikaans

 

 

Gerhard Kuhn, Hilette Bouwer en Marina Smit (Vryburg Voorbereidingskool), Yolandé de Nysschen, Chareldine vd Merwe (ATKV), Daan Potgieter en Wilna v Rooyen (AON)

 

Beatrice Oliphant, Mandie Ehlers, Esta Twigge, Maria Mosoeu, Chareldine vd Merwe, Faith Kruger en Sannie Anthony van Heidi Preprimer