Sirkel: Noordwes-Kaap

Tak: Prieska

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Erika Lubbe

Vergaderingdatum: 18 Julie 2018

 

 

TEMA: Local is lekker! Die doel van hierdie tema is om nader aan ons huis (Prieska) te soek na besienswaardighede, talent en produkte.

 

Wat ‘n interessante vergadering wat in die plaaslike NG Kerk se konsistorie gehou is! Die lede teenwoordig het spoedig agtergekom dat hulle vandag die toeriste in hul eie dorp is toe Nadia Muller, Taksaamroeper van Openbare Sake, hul op ‘n ‘besigtigingstoer’ deur Prieska geneem het.

 

Die eerste besienswaardigheid was die NG Kerk met sy pragtige orrel.

 

Op 6 Desember1919 is die hoeksteen van die teenswoordige kerkgebou deur ds. W. J. du Toit gelê en kon die gebou op 20 Augustus 1921 ingewy word. Grootgeword in die Westelike Provinsie en met ‘n voorliefde vir die ou Kaaps-Hollandse boustyl, het die leraar gesorg dat al die gewels en selfs die pragtige toring met ‘n Hollandse gewel-effek gebou sou word. Hierin is die toring seker uniek in Suid-Afrika. Omstreeks 1952 is die orrel herbou en gemoderniseer en ook so versterk dat dit die kragtigste orrel in die Noordweste geword het.

 

Ds. DJ Muller, ‘n baie begaafde en veelsydige musikant en sanger, het die werking van die orrel aan ons verduidelik. Hy het o.a. ook genoem dat die meeste voorste orrelpype gewoonlik slegs vir vertoon (die estetiese) daar geplaas word. Die orrelpype wat die klank voortbring is net agter die voorstes geleë. Die lede (behalwe Corrie Liebenberg, Takvoorsitter, wat ‘n heupvervanging ondergaan het) het die geleentheid aangegryp om tussen die orrelpype te gaan staan om die werking van die blaasbalke en die werklike orrelpype gade te slaan terwyl DJ ons met die pragtigste orrelspel sprakeloos gelaat het. Hy sluit ons kerkbesoek af deur die sing van Sonvanger. Dit was voorwaar ‘n hoendervleis belewenis!

 

Nadia neem ons op ‘n verdere ‘reis deur Prieska’ deur die plaaslike produkte wat in Prieska en omgewing verbou en gemaak word aan ons uit te lig uit haar keurige uitstalling. Die produkte sluit in: vleis (wildjagters), pekanneute, pekanneutmeel, gouestroop, sultanarosyntjies, pistachioneute, vars eiers daagliks voorsien, druiwe (wyn), heerlike vars tuisgebak: beskuit, koekies en verskillende soorte fudge, bv. tradisionele-, Marmite-, melktert-, peppermint crisp– en grondboontjiebotter fudge. Dan is daar ook die verskillende handwerk, bv. kralewerk, houtgravering, brei- en hekelwerk.

 

In die Niekerkshoop- en Prieskadistrik kom tieroogklip met die beste kwaliteit in die wêreld voor en dié twee dorpsdistrikte is die grootste uitvoerders van tieroogklip in die wêreld. Dit verskaf werk aan baie inwoners. Ook die florende diamantmyne verskaf werk aan baie inwoners.

 

Dan is daar Oranjerivier Voere (ORV) se voerpilfabriek, wat tydens die afgelope groot en uitgestrekte droogte in ons land, oortyd moes werk……

 

Prieska is die enigste in ons streek waar mielies en koring direk afwisselend op dieselfde grond geplant word en daar nog steeds top opbrengste afgehaal word.

 

Die Munisipaliteit/stadsaal het ‘n klipversameling van die verskillende klipsoorte wat in ons streek voorkom. Prieska is deel van die klip-tuinroete (klippe en kokerbome) wat strek vanaf Victoria-Wes (N10) tot in Namibië.

 

In die museum van Prieska word die eerste/oudste motorhek in SA ten toon gestel.

 

Die natuurwonder, Wonderdraai, buite Prieska: Die Oranjerivier vloei sowat 10 km in ’n noordelike rigting waarna dit min of meer dieselfde afstand weer suid vloei. Die Wonderdraai begin waar die Brakrivier by die Oranjerivier aansluit en die strook plaas wat deur die rivier aan albei kante begrens word, is sowat 1 km wyd. Die grondgebied van die Wonderdraai word as ’n natuurlike wildskamp benut, asook as besproeiingsirkels.

 

Talentvolle mense in Prieska is daar volop. Om maar net drie te noem:

Wicus van Deventer – die eerste Koekedoortjie in SA

DJ Muller – musiek en sang

Barbara Smit – skrywer, digter, skilder en gerekende skaakspeler wat ons skoliere in skaakspel

onderrig

 

Hierdie interessante vergadering het ons met ander oë na Prieska laat kyk en ons inspireer om Prieska met reg te waardeer vir die kosbaarhede wat hier aangetref word en beskikbaar is.

 

Die ware orrelpype agter die vertoonorrelpype

 

Ds. DJ Muller, spreker en musikant, tydens sy optrede

 

 

Plaaslike produkte vlnr: Pekanneute, Lowerland-wyn gemaak van die wingerde van die plaas, Lowerland, droogtepille (ORV), Pastori beskuit, – koekies en – fudge, Goue stroop, vars eiers van Moeder Hen en houtgravering op penne wat met hout omhul is.

 

Plaaslik vervaardigde krale-, hekel- en breiwerk

 

Van Barbara Smit se boeke.