Sirkel:Paarl

Tak: Slot van die Paarl

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 6 Junie 2017

 

 Die gesondheidsgasvroue saam met die gasspreker, Liz Rautenbach, op linkerhand.

 

Die Gesondheidsvergadering begin gepas met 1 Tim 4:8 Om jou liggaam te oefen, het wel ‘n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.

 

Fil 4:8 Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.

 

Ons hoor by Liz Rautenbach van die preserveermiddelvrye, suikervrye en glutenvrye produkte wat sy vervaardig by Gracious Bakers in die Paarl. Vetsug is die siekte van die tyd, want ons eet  te veel gluten en suiker. Daar is 400milj mense wat diabetes het. Een uit elke drie mense gaan diabetes kry a.g.v. suiker, verfynde koölhidrate, brood, kitskosse, hamburgers ens. Hulle gebruik die macadamia neut se meel en glad nie amandelmeel nie agv die hoë koste. Voeding het so verander; wat jy voorheen moes vermy, is nou toelaatbaar. Ons moet dus sorg dat ons ingelig bly!

 

Ons hoor by Bokka Wagenaar baie interessante inligting oor hidrobreking en skaliegas.

Hidrobreking is die proses waar gate, tot kilometers diep, vertikaal en horisontaal in die rotslae geboor word. Daar word dan ’n mengsel van water, chemikalieë en sand onder hoë druk in die gate gepomp om die rots te breek en sodoende die gas vry te stel.

Skaliegas is ’n fossielgas  wat in diep rotslae onder die oppervlakte voorkom. Die gas word as brandstof ontgin deur hidrobreking.

 

Nadelige gevolge van hidrobreking:

*Dit sal die grondwater besoedel en in ’n land waar water skaars is, is dit ondenkbaar.

*Dit kan aardbewings veroorsaak, veral op foutlyne.

*Die sosiale gevolg is dat die omgewing waar die gas ontgin word, al die nadelige gevolge ontvang, terwyl die voordele elders in die industrie behaal word.

*Groot probleme ontstaan by deurlopende toesighouding by die projekte. Om die winsgewindheid te verbeter, word hierdie water (wat vir die proses benodig word) soms losgelaat in natuurlike varswaterbronne of word selfs teruggepomp in die grond.

*Die omgewing is dus die groot verloorder en groot vrektes kom voor onder veral grasvreters in die VSA. Giftige gasse word orals deur die grond vrygestel en uiteindelik word die lug ook so besoedel dat voëls en ander diere ook vrek of wegtrek. Die chemise en radioaktiewe samestelling van die lug is ook bevorderlik vir die vorming van kankers by mense.

*Die lewensduur van so ’n gat kan baie kort wees en moet dan weer hidrolies gebreek word om dit die moeite werd te maak.

 

Die ontwikkelaars is gewoonlik pro-aktief met vrywarings en dit is moeilik om skade van hulle te verhaal. Gegewe al die nadele vir die omgewing en dat dit net tot voordeel van enkeles is, is hidrobreking nie in die belang van die breër bevolking nie. Wanneer die bron uitgeput is, verlaat die ontwikkelaars die gebied en los die mense, wat ’n bestaan daar moet maak, met al die negatiewe gevolge vir baie, baie jare daarna.

 

Soos altyd het ons baie geleer met die bywoning van ons maandelikse VLV-vergadering!

 

 

 

 

 

 

Die tak skenk droë produkte vir die sopprojek van die Saamstaanklub (armoedeprojek)