Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: A Beelders

Datum: 23 Februarie 2017          

 

Vredendal se VLV het die voorreg gehad om onlangs kennis te maak met die kunstige van Lille familie by ‘n vergadering. Eerste aan die woord was die 23 jarige Johline, ‘n gekwalifiseerde juweelontwerper en goudsmid, met ‘n uitstalling van haar derdejaar ontwerpe in silwer. Sy vertel dat sy van kleinsaf kunsaanleg getoon het – dit is blykbaar diep gewortel in die familiegene – maar nie aan ‘n loopbaan in daardie rigting gedink het nie. Haar eerste keuse was ‘n loopbaan in die tandheelkunde rigting, maar sy word nie gekeur nie.

 

Omdat sy lief is vir sport skryf sy toe in vir ‘n kursus in sportbestuur maar besef na ‘n jaar dis nie vir haar nie. Tot haar pa, wat oorspronklik in die diamantbedryf was en ‘n liefde vir juwele het, toevallig wonder of sy nie in juweelontwerp sou belangstel nie. Voor sy haar oë kon uitvee was sy ingeskryf vir ‘n driejaar kursus by KSPUT, en die res is geskiedenis. Sy het nog nie eenkeer teruggekyk nie en juweelontwerp is haar passie. Sy is nou ‘n gekwalifiseerde juwelier en wil graag haar eie besigheid op Vredendal begin. Sy werk met enige suiwer metaal en gebruik enige stene wat die kliënt verlang, ook pêrels. Sy maak ringe groter en kleiner, herstel en maak juweliersware skoon.

Johline van Lille en Nonnie van Wyk.

 

Volgende was ma Mariana met foto’s en verstommende kunswerke van haar Downes sindroom seun, die 25 jarige Jan. Soos baie Downes sindroom kinders het Jan in alles om hom belanggestel, met ‘n voorliefde vir mooi en kunstige voorwerpe, maar nie op iets gekonsentreer nie. Tot sy ma besluit het om hom kunsklasse te laat neem by Cecile Gaugler, ‘n kunstenaar van Vredendal. Jan is blykbaar in die sewende hemel en kan nie ophou skilder nie, die een ” prentjie ” mooier as die ander. Hy toon beslis talent. Hulle beplan ‘n uitstalling van sy werke, en wil ook ‘n almanak vir 2018 saamstel met afdrukke van sy werke.

 

Mariana van Lille