Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Theresa Troskie

Datum: 8 Februarie 2017

 

 

Soos gewoonlik het die sprankelende Susanna van der Merwe weer vir ons ’n interessante en heerlike spyskaart voorberei!  Sy skop af met 6 oefeninge om jou oë fiks te hou en ook ’n bietjie te laat rus:

 

  • Fokus naby en dan weer ver. Beweeg jou duim van ver na naby jou oë terwyl jy daarop fokus;
  • Knip jou oë meer gereeld:
  • Masseer jou wangbene, sinusholtes en word bewus van jou oogholtes en oogkaste;
  • Fokus 3 meter van jou af en maak met jou oë die vorm 8, eers kloksgewys en dan weer antikloksgewys sodat al jou oogspiere kan werk;
  • Bedek oë met handpalms en ontspan oë en hele gesig;
  • Hou jou duim omhoog en beweeg hom stadig van jou oë af weg en weer stadig terug – laat jou oë in en uit “zoom”;

 

Hierna deel sy gesondheidswenke vir die gebruik van suurlemoene in jou huis.  Suurlemoen is ryk

aan Vit. C en is dus baie gesond.  Dit is ook ryk aan kalium wat hartgesondheid bevorder.

Koue water gevul met suurlemoenskyfies is baie verfrissend. Suurlemoen is laastens goed vir

prostaatmoeilikheid en help om vroue se metabolisme te versnel.

 

Susanna behandel ook 4 slaapposisies en wat dit van jou persoonlikheid verklap:

 

  • As jy op jou rug slaap, is jy dalk gereserveerd, kunssinnig, het jy ’n hoë verwagting van mense en loop jy jou paadjie reguit!
  • Sou jy in die fetusposisie slaap, is jy dalk skaam, sensitief, weldeurdag, maar moet jy nooit onderskat word nie!
  • Lê jy graag op jou maag en slaap met jou hande onder jou kussing, is jy dalk ’n sosiale en ontspanne mens!
  • Is jy ’n “hugger” as jy slaap, is jy dalk geheg aan familie, het jy sterk familiebande, is jy geloofwaardig, kan mense op jou staatmaak, is jy lojaal en ’n goeie vriend/vriendin.

 

 

Aan die hand van ’n artikel wat in die Burger verskyn het, behandel Susanna die onderwerp Vroue

en hul blaasprobleme. Spesifieke probleme en oplossings word uitgelig.   Die goeie nuus is dat

daar behandeling beskikbaar is wat hierdie probleme kan oplos!

 

Susanna gee ook inligting oor die regering se voorstel vir suikerbelasting in die toekoms.  Hierdie

belasting gaan gebruik word om siektes wat deur te veel suiker in die dieet veroorsaak word, aan

te spreek, bv. diabetes en hartvatprobleme.

 

Hierna stel Susanna haar spreker, Dr. Roman van Murraysburg Hospitaal, aan die woord. Hierdie

pragtige, vriendelike, jong vrou, vertel kortliks iets van haar grootwordjare, studiejare aan US, haar

twee jaar internskap en hoedat sy uiteindelik op Murraysburg beland het vir haar een jaar

gemeenskapsdiens. Voorts gee sy inligting oor haar werk by die Murraysburg Hospitaal en die

kliniek.  Die grootste frustrasie is afstand van behoorlike hulpbronne, hulp en toerusting

vir baie siek pasiënte. Verder die lang wagtye vir pasiënte by die kliniek a.g.v. pasiënte wat nie

opdaag nie, ander wat sonder afsprake opdaag, ander wat opdaag as hulle siektes reeds so ver

gevorder het, dat niks meer vir hulle gedoen kan word nie. Chroniese pasiënte wat nie hul

medikasie reg en gekontroleerd neem nie, of nie hul behandeling voltooi nie, is nog ‘n kopseer vir

die twee dokters.

 

 

Die voorsitter vertoon ’n kort video, The tale of two Brains, oor hoe die brein van ’n man en dié van  ’n vrou verskil.  Mans dink en belewe dinge in  aparte kompartemente terwyl vroue baie meer emosioneel op dinge reageer.  Ons kan maar net ons hande saamslaan en lag!

 

Johanna van der Merwe en klein Ailene Avenant bedank Dr. Roman wat
as spreker opgetree het.