Sirkel: Middelland

TaK: Acqua

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 8 Februarie 2017

 

Hierdie jaar kan nou maar sy loop neem. Die Kwa-Kwa’s het om ‘n paar mooi gedekte tafels vergader, brood gebreek, mekaar en die VLV onder oë geneem, ‘n demonstrasie bekyk, baie gelag en sonder ophou gesels. 2017 het met ‘n groot gedawer begin en as dit ‘n vooruitsig is van die jaar wat voorlê, gaan Acqua ‘n treffer-jaar beleef!

  

Die eerste vergadering van die jaar is altyd gulde geleentheid om die VLV (soos die Vereniging in die volksmond bekend staan)en VLV-lidmaatskap onder die loep te sit.  Tegnologie word ingespan om lede met behulp van ‘n PowerPoint-aanbieding die hoe, waar en wat van die VLV te wys. Ou, jarelange lede vind net soveel baat by so ‘n kykie na hoe sake in mekaar steek by die VLV, as nuwe of voornemende lede. Gepraat van nuwe lede, Acqua het niks minder as 4 nuwe lede by die ledetal gevoeg so met die wegspringslag nie.

 

Die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland (VLVK) is ʼn vrouevereniging wat die opheffing en ontwikkeling van die vrou as belangrike rolspeler in die huis en gemeenskap ten doel het. Lede is doelgerigte vroue wat hul verwysingsraamwerk wil verbreed en deur lidmaatskap toegerus word om ‘n verskil in hul families en die gemeenskap te bewerkstellig.

 

Die eerste ding wat mense natuurlik vra, nadat jy vir hulle verduidelik het waarvoor die akroniem VLV staan, is Landbou? Wat het julle met boerdery te doen? Dis ‘n wanopvatting dat ons nodig het om boervrouens te wees of op die platteland te woon om ‘n VLV-lid te wees. Die klem het van verbouer na verbruiker geskuif.

 

Toe VLVK in 1929 gestig is, het die prentjie natuurlik baie anders gelyk. Dit was voor die Groot Depressie en voor die platteland se ontvolking. In die verloop van 88 bestaansjare het die boervroue in ons vereniging al hoe minder geraak en die stedelike en professionele vroue al hoe meer.

 

VLVK het ‘n hoofkantoor in Stellenbosch. ‘n Gebou in die Georgiaanse boustyl wat in 1978 vir die skamele bedrag van R1 van die Stellenbosch Munisipaliteit gekoop is. Die hoofkantoor, bekend as Jubileumhuis, huisves ook ‘n argief met volledige geskiedenis van elke tak en alle gebeurtenisse onder die VLV-vaandel. Die enigste Tekstielmuseum in Afrika, meer bekend vir die asemrowende borduurstukke en style, as ‘n verskeidenheid tekstiele, is ook in Jubileumhuis te vinde. Die Emily Hobhouse kantversameling, op permanente bruikleen van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein, word in die museum uitgestal. Elke VLV-lid behoort een of ander tyd die drumpel van Jubileumhuis oor te steek.

 

Die kenteken, tema, projek, boom van die jaar, WBPV en affiliasies met Landbouverenigings is aan die gaste voorgehou. Die onderskeid tussen kongres en konferensie, wanneer watter geleentheid plaasvind, wie die leiding neem en wie dit bywoon, is uiteengesit. Die H&H en die webwerf, VLVK se elektroniese voetspoor, is onder algar se aandag gebring. Elk van die ses studierigtings, aan die hand waarvan vergaderings gereël word, is onder oë geneem. Taksake en beplande projekte is toegelig. Die verdeling en gebruik van ledegeld is verduidelik. VLVK en hoe die vurk in die hef steek by die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland, met klem op die werksaamhede van Acqua-tak, was die onderwerp van die aand.

 

Marius de Vries het sy voorliefde vir en vaardigheid met papier demonstreer. Rose vir Valentynsdag? Sommer ‘n hele toring vol uit ‘n verskeidenheid tipes papier is liggewig, maklik om te maak, bekostigbaar en ‘n lus vir die oog. Elke vrou het haar hand gewaag aan die “rol” van ‘n roos – net om self te ervaar hoe maklik dit is om iets fraai te skep.

Die aand se samesyn was net so smullekker soos die ete wat bedien is. Acqua is aan die gang, gereed vir alle gebeurlikhede en opgewonde oor alles wat 2017 inhou.