Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Anneline Beelders

Datum : 20 Oktober 2016

 

 

Elna Esterhuyse, ‘n fisioterapeut, het op Vredendal se VLV vergadering verduidelik hoe maklik ‘n mens jou kan vasloop in digitale verslawing. Die hedendaagse onontbeerlike selfoon, T V, die sosiale media soos Face Book, en noem maar op, het so ‘n onlosmakende deel van ons bestaan geword dat ons nie eens bewus is van wat dit aan ons doen nie. Ons kan nie meer praat, lees of skryf nie, beweer sy, want die fabulous shows op T V is so awesome, dis unbelieveable, om net ‘n voorbeeld te noem. Om nie van die taalafkortings op selfoon sms’e te praat nie. Dit is maar die oortjies van die seekoei. Vandag se mens is skynbaar verlore sonder sy selfoon. Selfs in ‘n byeenkoms sit mense met hul selfone teen hul ore geplak, blykbaar belangriker as om met mekaar te gesels. Of hulle is so besig om ‘n mooi verskynsel in die natuur met die selfoon af te neem dat hul vergeet om dit net te geniet. “Ons het opgehou om te leef ” sê sy. Die gemiddelde persoon word 150 keer per dag, dit wil sê 12 keer per uur blootgestel aan selfoonoproepe. Navorsing dui aan dat volgehoue blootstelling aan digitale stimuli dieselfde effek op ‘n bepaalde deel van die brein het as kokaïen. Die invloed op ons liggaamshouding is net so verwoestend. ‘n Skeef gegroeide rug van eenkant toe leun om die selfoon te antwoord terwyl iets anders gedoen word, of afgesakte abdomen en hangskouers van lê-sit voor die TV is algemeen en lei ook tot onverklaarbare hoofpyn as mense ure voor die TV deurbring. Sy beveel aan dat mense na ‘n halfuur se kyk eers opstaan. Kinders wat toegelaat word om onbeperk TV te kyk word dikwels blootgestel aan afbrekende en ongesonde kykstof wat angs en emosionele probleme kan veroorsaak. Face Book word weer maklik ‘n ongesonde meningsvormer en kan mense onnodig blootstel. Hoewel die digitale media van onskatbare waarde is, moet mense versigtig wees om nie verslaaf te raak daaraan nie. Dit word aanbeveel dat ‘n jong kind nie voor twee jaar T V kyk nie en nie voor agt jaar rekenaar speelgoed kry nie. Marietjie Nel, Geregistreerde Pastorale Terapeut se wenk was dat jong kinders op hul speelstoele voor die TV sit wanneer hul kyk. Sy demonstreer ook ‘n asemhaling oefening om ontslae te raak van TV spanning.

 

vredendal-2de

 

 

 

 

 

 

 

Pat de Waal, Elna Esterhuyse en Sanet Ras.