Sirkel:  SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Elize Locke

Datum: 30 Augustus 2016

 

Die dames van VLV-Voëlvlei het op Dinsdag, 30 Augustus 2016, geluister na mev Isabel Kotze, Voorsitter van die Gouritsmond Bewaringstrust.  Sy het hulle toegespreek en ‘n skyfievertoning gelewer van die Trust se beplanning en uitstalling by die pas afgelope Cape Floral Kingdom Expo wat in Bredasdorp plaasgevind het.

 

Die Gouritsmond Bewaringstrust het hierdie jaar vir die eerste keer aan die uitstalling deelgeneem.  Hul het ‘n area van 9×9 vierkante meter gevul met plante uit die Gouritsmondarea. Sommige van die plante kom slegs in die Gouritsmondarea voor.  Die 3 dames en 1 heer het 2 dae gewerk om die plante eers in bottels en blikke te plant en toe teen die nagemaakte berghang staan te maak. Hul uitstalling het ‘n model van die Gouritsrivier asook die kuslyn ingesluit. Mien Naude, wat Voëlvlei op die Gouritsmond Bewaringstrust verteenwoordig, was deel van die groep wat aan die uitstalling gewerk het.

 

Die Cape Floral Kingdom Expo is ‘n jaarlikse instelling wat Fynbos as ‘n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse Bewaringsekonomie uitbeeld.  Die doelwit is om ‘n basis te voorsien vir almal wat waarde heg aan ons land se Fynbos.  Hierdie binneshuise uitstalling beslaan ‘n area van 8000 vierkante meter, wat die grootste is in die wêreld.  Die bestuur van die Gourtismond Bewaringstrust beplan om in 2017 weer deel te neem.

 

20160819_105500_resized

 

 

20160819_105449_resized