Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Leefstyl

Sameroeper: Suzette Hanekom

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 10 Augustus 2016

 

Die Kwa-Kwa’s was so goed as binne-in die Koekedoorstoor. Wilandi Esterhuyzen, die 5de finalis om die Koekedoorstoor te verlaat, was die gasspreker tydens Acqua se Leefstylvergadering.

 

Wilandi

 

Sy noem haarself ‘n bakkende koffiedrinker, kombuis- en keramiekontwerper en ‘n opgewonde Koekedoor 2 deelnemer.

 

In Koekedoor 2, die werklikheids-bakkompetisie op Kyknet, was daar elke week van die 10 deelnemers verwag om aan die hand van ‘n spesifieke tema hulle allerbeste gebak voor te sit. Elke kandidaat het net een einddoel voor oë gehad, om die baie gesogte titel van Suid-Afrika se heel beste bakker te verower.

 

Wilandi. ‘n interieurontwerper en argitek, het vertel van haar pad tot in die Koekedoorstoor en voor die sewe kameras wat ten alle tye op elke finalis gefokus was. Dit was baie interessant en insiggewend om, by wyse van spreke, saam met haar agter die menger en voor die stoof te staan.

 

Wilandi en haar man het vir 6 maande in Grahamstad gebly en dis daar in ‘n klein en baie ou kombuis wat sy besef het dat die kombuis nie die produk bepaal nie, en dat bak ‘n sport is wat mens tot in jou oudag kan beoefen. Bak, sê sy, is baie harde werk, en kophou en uithou moet hand aan hand loop.

 

Om te bak is baie soos om ‘n gebou te doen, reken sy. Dis ook ‘n klomp elemente wat op sekere maniere saamgevoeg word om die struktuur te vorm. In plaas van beton, klip en water, is dit melk, meel en eier. Sand en suiker het ook baie dieselfde eienskappe… En daar word selfs nog gepleister en geverf. Dis bloot net die medium wat verskil.

 

Acqua het ‘n heerlike en vrolike aand saam met die borrelende Wilandi geniet.

 

Gaste het aangesit by tafels wat die bak-tema van die aand weergegee het.

IMG-20160811-WA0001  IMG-20160811-WA0005   IMG-20160811-WA0004 IMG-20160811-WA0000