Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: A Beelders

Datum: 15 Junie 2016

 

By ‘n onlangse VLV-vergadering op Vredendal was die lede so bevoorreg om insae te kry in die produkte en werkverrigtinge van drie dames, elk ‘n kunstenaar in eie reg. Die gemene deler was die passie waarmee elkeen haar kuns en vaardighede beoefen.

 

Soos Mientjie van den Heever, een van die kunstenaars dit uitdruk, “as jy voluit gaan vir die talent wat die Here jou gegee het, is dit vir jou vervulling en ‘n doel in die lewe. En jy dien daarmee die Here en jou medemens”.

 

Esta Marais maak sepies – om mee te was. Van praktiese boerseep tot kunssepies, gegeur en gekleur. Die maak van seep dateer glo uit die tyd van die Romeinse Ryk, toe die higiëniese waarde daarvan besef is. Dierevet en as was die hoofbestanddele. Die Engelse was die eerste nasie wat seep kommersieel vervaardig het. Boerseep was die trekboere se reinigingsmiddel, ook gemaak van dierevet en as, sommer asbos of gannabos as dit moet. Haar boerseepresep, in 1948 by ‘n familielid geërf lui as volg: twee koffieblikke vet ( 750 g elk), ‘n wynbottel vol water ( 750 ml) en 500 g bytsoda. Die vet word warm gemaak en die bytsoda en water gemeng. Die bytsoda maak die water warm. Sodra dit dieselfde temperatuur het as die gesmelte vet word die twee gemeng. Dan volg die roerdery – soms tot twee ure lank. Wanneer die mengsel soos dik vla lyk is dit reg om in die vormpies gegooi te word. Sy maak haar fyn sepies van gliserien wat in ‘n kastrol op die stoof gesmelt word voordat gegeurde olie en kleursel bygevoeg word. Sy verkies organiese kleurmiddels soos borrie, beet, suurlemoen ens. Olyfolie maak glo ‘n besondere seep maar neem 8 dae om seep te word.

 

 

Nadia Tredoux van Waterval, Vanrhynsdorp het haar pragtige leerartikels uitgestal, van handsakke te kus en keur en enige ander denkbare tipe sak tot juweliersware soos armbande en oorbelle van leer. Jy kan haar alles oor leer vra, van die soorte tot die verskillende kwaliteite, die afwerking, wat waarvoor gebruik word en wat om te vermy. As jy ‘n leerbank vir jou huis koop maak seker die leer is “fullgrain “. Sy verduidelik o.a. die vereistes vir ‘n praktiese gebruikersvriendelike handsak.

VLV 02

 

Mientjie van den Heever toor met klippe. Sy verf hulle, plaas blomafdrukke met ‘n spons daarop en verander elk in ‘n kunswerk. Sy laat dit so maklik lyk, en vertel hoe haar huishulp saam met haar gewerk het, en toe haar eie klein besigheid begin het wat nou vir haar ‘n handige inkomste lewer. Sy maak blomme uit eierkartonne en haar vindingrykheid om versiersels uit weggooimateriaal te tower is  verstommend.

VLV 01

Mientjie van den Heever en Esta Marais

 

Al drie die dames bied kursusse aan en kan gekontak word.