Women Walk the World gehou op Kuruman

 

Women Walk the World gehou op Kuruman

Posted by VLV in Kuruman Tak, News 03 May 2014

Sirkel: Kalahari
Tak: Kuruman
Beriggewer: Petro Spangenberg
Datum: 3 Mei 2014

Op 3 Mei het Kuruman se VLV-lede by Mimosahof Tehuis vir Bejaardes bymekaargekom en gehelp dat almal wat mobiel genoeg is  buite in die heerlike herfsweer kon stap. Daar was tien bejaardes in rolstoele en genoeg helpers het beurte gemaak om te stoot.

SONY DSC

Net voor die optog en stappery begin word die rolstoelmense reggekry vir die wegspring!

 

Women Walk the World is ‘n wêreldwye aksie van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue en word jaarliks so na as moontlik aan 29 April gehou. Dit is hoofsaaklik om bewustheid te kweek en geld in te samel vir arm lande waar vroue nie so bevoorreg is soos ons nie.SONY DSC

Janet West dra die VLVK-vlag. Sy is sekretaresse by die ACVV.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat die uitstappie daar gehou word en die getalle van deelnemers het meer as verdubbel. By die omdraaipunt het Mev Annetjie Nel wat ook ‘n VLV lid is by haar aftreehuisie gewag met heerlike eetgoed en vrugtesap. Die bene was behoorlik lam teen die tyd en die ruskans is terdeë geniet.

Die stap is bygewoon deur ‘n New Zealandse burger, Johan Strydom, broer van Janet West, Kuruman lid wat haar hele familie gebring het om saam te stap. Janet dien op die bestuur van die ACVV en is baie betrokke by die tehuis. Die bestuurder van die tehuis, Ronél du Plessis was baie behulpsaam om al die reëlings te tref sodat almal betyds reggekry is vir die groot uitstappie.

Marianne Vorster se dogter, Inone, is ‘n student en het met haar kamera rondgeloop en foto’s geneem. Heel gou het sy agtergekom dat die meeste bejaardes graag foto’s wil laat neem en sy moes behoorlik bontspring om almal af te neem!

SONY DSC

Oom Louis Fourie stap moedig voort en Ronél du Plessis stap saam met Tannie Marie Lombaard, Annemarie Kleynhans in die rolstoel.

 

Hierdie jaar is klem gelê op die oppassers en versorgers van diegene wat bedlêend geraak het. Almal is gevra om meer ondersteuning te bied en ‘n lys van versorgers is saamgestel. Fondse is ingesamel deur twee pannekoekbak sessies sodat dit nie nodig was om blikkies te skud by die rustige aftreeoord nie.

Die bejaardes het die oefening so geniet dat hulle nou alreeds praat van volgende jaar se uitstappie!

image.axd-88

Die egpaar van New Zealand wat saam pannekoek gebak het vir fondsinsameling. Milada (links) en Johan Strydom (Janet West se broer) is van Oakland en staan hier by Inone Vorster. Johan is ingespan om die pannekoeke te rol!

Post a comment

eight − 7 =