Wie is die ACVV

 

Wie is die ACVV

Posted by VLV in Kuruman Tak 15 Oct 2014

Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Opvoeding en kultuur

Beriggewer: Petro Spangenberg

Datum: 15 Oktober 2014

 

 

kuruman

 

Op ‘n onlangse algemene vergadering van die Vroue- landbouvereniging op Kuruman het Esmerelda Deelman, maatskaplike werker, die dames kom toespreek en vertel van haar betrokkenheid by die ACVV.

 

Die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging vier vanjaar sy 110de bestaansjaar. Die ACVV  het sy oorsprong na die 2de Wêreldoorlog toe twee vroue met ‘n koei die nood om hulle gesien het, en besluit het om met dit tot hulle beskikking, so veel mense moontlik te help. Hulle het dus met die koei begin trek en langs die pad melk uitgedeel en geruil vir ou klere wat hul  dan op die volgende dorp kon uitdeel.

 

In wese is die ACVV dus ‘n organisasie wat ontstaan het deur die behoeftes óm hulle te identifiseer, en met dit wat tot hul beskikking is, soveel moontlik te doen om te help.

 

Hulle is betrokke by gesondheidsdienste en doen basiese opvoeding in skole en huise asook klinieke. Verder is dit betrokkenheid by opvoedingsbeurse  asook inrigtings waar kinders versorg word, kinderkampe, bejaardesorg en losieshuise vir dames.

 

Die ACVV se visie is om selfversorgende gesinne tot stand te bring. Vir hulle is dit belangrik om die drie basiese beginsels by elke lid van ‘n familie tuis te bring naamlik

1. Regte – gesinslede moet mekaar se regte respekteer en die huisomgewing moet ‘n plek wees waar almal veilig voel en mekaar kan vertrou.

2. Verantwoordelikheid – alle lede van die gesin moet betrokke wees by die skoonmaak, klere was, werf skoonmaak ens. Daar moet ook lede wees wat gaan werk en dus sorg vir ‘n inkomste.

3. Uitreik – Dit is baie belangrik dat elke lid van die gesin moet weet dat daar hulp beskikbaar is – en dat dit ewe belangrik is om daardie hulp te vra indien nodig.

Vandag  staan die ACVV op twee belangrike bene wat bestaan uit die vrywilligers waarvan daar 9000 in die Noord- Oos- en Wes-Kaap is, en die personeel wat bestaan uit 15 maatskaplike werkers asook 42 hulpwerkers. Hulle bestuur onder meer 23 speelgroepe, 3 kinderhuise, 64 tehuise vir ouer persone, 86 wooneenhede, 1 huis vir gestremdes asook 16 na-sorg skooltjies.

 

Kuruman self het een maatskaplike werker, een hulpwerker en 10 vrywilligers. Saam bedien hulle die hele John Taolo distrik.

 

Die ACVV se motto is: SAAM IN DIENS VAN DIE GEMEENSKAP. Juis daarom verwelkom hulle enige inspraak uit die gemeenskap en Esmerelda moedig die lede aan om betrokke te raak en so ook ‘n verskil te maak.

 

kuruman1

 

Oktober is borskanker bewusmakingsmaand en al die lede het pienk aangetrek. Suster Lanie Lamprecht het die lede aangemoedig om vir mammogramme te gaan en beklemtoon die gereelde selfondersoeke wat vroeë veranderings in voorkoms van die borsweefsel kan optel.

 

Retha-Jane Buys, die saamroeper van Opvoeding en kultuur kondig aan dat sy weer vir haar gereelde na-kanker ondersoeke was en dat sy nog skoon is, tot luide toejuiging van die lede!

 

Aldoné Ward is ‘n matriekleerder aan Hoërskool Kalahari en het die lede toegesing met haar kitaar en ‘n pragtige aanbiddingslied. Sy is voorwaar ‘n talentvolle jongmens wat sê dat mens met God aan jou kant en die regte gesindheid, enige moeilike situasie kan oorwin!

 

 

kuruman2

Post a comment

8 + eighteen =