WBPV “first timer” kommentaar

 

WBPV “first timer” kommentaar

Posted by VLV in News, SIRKEL NUUS 09 May 2019

Sirkel: Overberg

WBPV-konferensie

Beriggewer: Hermien van Zyl

Datum: 4-10 April 2019

 

Hermien van Zyl, ‘n waarnemer by die onlangse WBPV-konferensie skryf:

 

Wie dink ‘n mens kan nie nog ‘n “ first timer” wees as daar ‘n 50-jaarkenteken op jou bors pryk nie?

 

Dit was ‘n gepaste manier om hierdie mylpaal in my lewe te vier deur saam met + 500 vroue van 70 lidlande op 4 April 2019 te kon registreer vir die 29ste Konferensie van die Wêreldbond van Plattelandse Vroue. Watter belewenis was die verskeidenheid kulture en tale nie, saamgevoeg in die indrukwekkende, ruim Melbourne Convention Centre langs die Yarra-rivier in Melbourne, die hoofstad van die staat Victoria in verre Australië, sesde grootste land op aarde.

 

 

 

 

 

 

 

Daar is gerusstellende bekende gesigte om jou soos VLVK-president en afgevaardigde, Karien van Schalkwyk, mede-waarnemers van VLVK Erika Lubbe en Snoekie Erasmus en dan nuwe vriendinne soos die SAVLU-afvaardiging, die lede van die Bafokeng-Vrouevereniging, van Lesotho en elders uit die Suidelike Afrika-area. Ons deel immers ‘n liefde vir Suider-Afrika.

 

 

VLVK verteenwoordigers by die WBPV-konferensie. vlnr: Snoekie Erasmus, Karien van Schalkwyk, VLVK-president en afgevaardigde, Erica Lubbe en Hermien van Zyl.

 

 

 

 

 

 

Nederig-verwonderd staan ‘n mens dan op Vrydag 5 April met ‘n knop in jou keel as die Suid-Afrikaanse vlag saam met vlae van 60 lande deur jong dogters in Aussie sporthempies ingedra word tydens die opening se vlagseremonie. Op die verhoog is die WBPV-president, Mev. Ruth Shanks, die goewerneur van Victoria, areapresidentes, gasspreker en ander eregaste. Tussen hulle die formidabele twee Suid-Afrikaanse vroue, Mev. Magdie de Kock, voorsitter van die Kommunikasie- en Bemarkingskomitee van WBPV en Mev. Henrietta Schoeman, WBPV-sekretaris en voorsitter van die Konferensiekomitee – beide kandidate vir die pos van WBPV-president waaroor later gestem word. Eintlik wil jou hart bars van trots: ons staan ons man op die verhoë van die wêreld.

 

‘n Bustoer deur die stad het met ons aankoms gesorg dat die ergste nuuskierigheid oor Melbourne bevredig is. Ons mis dus geen besprekingsessie, demonstrasie of verslag wat gelewer word nie. Saans is ons moeg van konsentreer op voorleggings oor die bekamping van hondsdolheid, mensehandel, vernietiging van marinebronne deur plastiek, huishoudelike geweld en ander geslagsongelyke kwessies. Die gesellige verkeer tydens die tee- en etebreke word dus verwelkom en ons geniet die “wraps”, erdebakkies met ‘n warm gereg, tipiese Aussie pasteitjies, indiwiduele slaaitjies en koekies op keurig-uitgepakte buffettafels vir ons voorgesit. Lede van verskillende takke van die Countrywomen of Australia (CWA) beman stalletjies en ons doen ook inkopies. ‘n Fonds is die plakboek wat die taklede van Victoria-Wes in 1962 saamgestel het vir ‘n vorige Wêreldkonferensie in Melbourne en wat daar uitgestal is – ‘n tyd in Suid-Afrika wat was, maar ook ‘n getuienis van hoe ver ons gekom het.

 

Ook op uitstalling was die foto’s vir die kompetisie #We Are ACWW waar die konferensiegangers moes stem vir die beste foto. Die foto van VLVK-Hoofbestuur se volkspele-item van 2014 behaal die derde plek – uit 40 inskrywings! Maar nog beter vaar Emelda Cruywagen van Porterville se gekwilte tissuehouer met ‘n tweede plek! Met die oorhandiging van drie VLVK 85 jaar-gedenkblikkies aan die uitgaande president van WBPV, mev. Ruth Shanks, die Hoofuitvoerende Beampte van WBPV, Tish Collins en die redakteur van “The Countrywoman” en WBPV se mediapersoon, Nick Newland, gee ons vir hulle iets om ons mee te onthou. Binne-in was ‘n kaartjie met ‘n Engelse vertaling deur Lynette Martin.

 

Daar was ook vermaak wat gewissel het van ‘n Spectacular deur die musiekstudente van die Victorian State School in Melbourne, ‘n dokumentêre filmvertoning (met springmielies vir almal!) oor vroue-skaapskeerders in New Zealand saam met ‘n modevertoning deur Creswick Woollen Mills en die vrolike country-orkes wat ‘n paar danspassies geïnspireer het tydens die galadinee. ‘n Dagtoer langs die Great Ocean Road het hierdie WBPV- en Australiese lewenservaring afgesluit.

 

WBPV is 90 jaar oud en watter voorreg om deur VLVK deel te wees van hierdie organisasie met sy ryk geskiedenis. Saam met ons kom die 90 jaar-gedenkboek vir VLVK-hoofkantoor terug en foto’s om ‘n leeftyd se herinnerings aan ‘n eerste wêreld land waar dinge werk, lewendig te hou.

Post a comment