Ware feite oor Skaliegas

 

Ware feite oor Skaliegas

Posted by VLV in News, Suider-Paarl Tak 19 Apr 2018

Sirkel: Paarl

Tak: Suider-Paarl

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer: Elsa Hanekom

Datum: 18 April 2018

 

Dr Kas Hamman was hierdie maand die spreker oor die onderwerp skaliegas.  Dr Hamman was vir meer as 40 jaar verbonde aan Kaapse Natuurbewaring en was na sy aftrede ook voorsitter van die Paarlberg Advieskomitee.

 

Wat is skaliegas en hoe word dit ontgin?

Die Karoo bevat natuurlike gas in die skaliesedimentlae wat tot meer as 4 km diep geleë is. Gas is die resultaat van dooie organiese materiaal afkomstig van vroeë vorme van lewe.  Ontginning behels diep boorgate waarin groot hoeveelhede water, sand en toksiese chemikalieë onder druk ingepomp word.

Dit het dan hidrobreking (“fracking”) van die skalie tot gevolg en die gas ontsnap terug deur die boorgat.

Skaliegas kom in groot gedeeltes van die VSA, Kanada en Suid-Amerika voor.  Dit kom ook in ‘n mindere mate in China, Europa en Australië voor.  Die afsetting in die Karoo is baie minder as wat aanvanklik gedink is.

 

Voorkoms van fossielbrandstofafsettings in die aardkors

  • Steenkool lê na aan die oppervlak
  • Gas kom in komme voor maar nie baie in Afrika nie
  • Skaliegas kom voor onder in die diepste lae.  Dit is die moeilikste en duurste om skaliegas te ontgin.

 

Die Karoo se geologie is uniek.

Die Karoo huisves van die wêreld se belangrikste fossielafsettings.  Dit sluit in ‘n groot verskeidenheid dinosourusse en vroeë soogdierspesies.  Goeie bewyse bestaan van twee massa uitsterwings weens vulkaniese aktiwiteite en gevolglike klimaatsveranderinge 250 en 140 miljoen jaar gelede.

 

Marie de Villiers (Openbare Sake) by dr Kas Hamman.

 

Die tipiese karookoppies en rotsformasies wat ons vandag daar sien, is dolorietgesteentes wat grootskaalse vroeë vulkaniese aktiwiteite bevestig.  Na die opbreking van Gondwanaland 200 miljoen jaar gelede, het groot gedeeltes van die Karoo-bogrond weggespoel weens natuurlike erodering van die sagte materiaal.

Die koppies wat ons vandag sien is hoofsaaklik die harde stollingsgesteentes wat agter gebly het na massiewe eroderingsprosesse.

 

Wat is die ekonomiese realiteite om skaliegas te ontgin?

Water is een van die Karoo se kosbaarste hulpbronne.  Water is skaars in die unieke semiwoestyn landskap van die Karoo.  Hidrobreking (“fracking”) benodig massiewe hoeveelhede water.  ‘n Enkele boorgat benodig tot 20 miljoen liter water – dit sal aangery moet word met 100+ tenkers.  Dit is gelyk aan 4000 x 5000 liter watertenks!  Die groot vraag is waar gaan soveel water in die droë Karoo bekom word en teen watter prys vir die omgewing?  Water, sand en toksiese chemikalieë word onder groot druk in boorgate gepomp om hidrobreking te veroorsaak.

Wat word dan gedoen met die besoedelde gebruikte water na die “fracking” proses?

In die VSA is dit dikwels terug in die grond gepomp – die gevolg was seimiese steurnisse en soms erge besoedeling van grondwater en die omgewing.

Baie dele van die Karoo is seimies onstabiel en dus nie geskik vir hierdie tipe boorgate nie.  Besoedeling van grondwater is ‘n sterk moontlikheid weens klein bewegings van onderliggende rotslae.

Elke gasboorgat het ‘n beperkte leeftyd om gas te lewer – slegs 2 tot 3 jaar waarna aanbeweeg moet word na nuwe boorgate met nuwe infrastruktuur.

 

Enkele ekonomiese realiteite

  • Skaliegasontginning kan wel werk verskaf, maar veel minder in die Karoo as wat aanvanklik geraam is (3000 i.p.v. 400 000).
  • As die boortorings eers in plek is, skaal die werksgeleenthede drasties af en dié tipe werk is nie volhoubaar nie.
  • Soos berig in die pers word die beskikbare ontginbare skaliegas in die Karoo nou beraam op 13 i.p.v. 485 triljoen kubieke voet gas.  Slegs ‘n fraksie van wat oorspronklik beraam is.
  • Groot netwerke infrastruktuur soos paaie, kragtoevoer en pypleidings sal teen groot kostes deur owerhede in plek gekry en onderhou moet word.
  • Groot dele van gevestigde ekonomieë, soos ekotoerisme en landbou, sal nadelig geraak word deur skaliegasontginning.
  • Die “voetspoor” wat gelaat sal word is permanent – geen rehabilitasie is by kosteberamings ingereken nie – dit behels onverantwoordelike omgewingsbestuur.
  • Die Karoo het ongelukkig ‘n geskiedenis van kortstondige opbloei en mislukte ekonomieë.  Voorbeelde hiervan is die volstruisbedryf in die laat 1800’s en vroeë 1900’s, die wolbedryf en gepaardgaande oorbeweiding in die middel 1900’s, ens.

 

Hernubare energie is die antwoord vir ons toekomstige energie behoeftes

Die verbranding van fossielbrandstowwe moet wêreldwyd drasties verminder word om globale verhitting onder beheer te kry.

Windenergie word al jare in die Karoo met groot sukses gebruik om water te pomp en daar is groot potensiaal – ook vir kragopwekking.

Met die oorvloed sonlig en wind, kan die Karoo met al sy plase en dorpe self-onderhoudend wees t.o.v. elektrisiteit.

 

Ons toekoms lê sonder twyfel in die ontwikkeling van volhoubare hernubare energie bronne.

 

Skaliegas is nie volhoubaar nie.

 

 

 

  Die dames besig met die muntlegging.

 

Gonny du Plessis (Voorsitter) en Wilma Kock (Ondervoorsitter) by die bekers, onder andere die Tip Topbeker en Fatti’s & Moni’s beker vir meeste punte behaal, wat Suider-Paarl by die afgelope Konferensie verower het.

Post a comment

twenty − three =