Vrouemaand met Wyn en Woorde gevier

 

Vrouemaand met Wyn en Woorde gevier

Posted by VLV in Kleinmond Tak, News 28 Aug 2019

Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Landbou&Tuinbou

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Fotograaf: Alice Van Rooyen

Datum: 27 Augustus 2019

 

 

“Die Pieke skuil in mis of wit kapok

bo lensie-, ertjie-, spek-en-boontjiesop

wat damp teen vensters en wit gewelmuur.

Bottels rooiwyn warm aan voor kaggelvuur…………………..”

DJ Opperman

(Uit: Grondstowwe by die siklus van seisoene)

 

 

Die afsluiting van die Vrouemaandvierings op 27 Augustus 2019 by die VLV-tak van Kleinmond, het ‘n Overbergse en Afrikaanse geur gehad toe vrouewynmaker Fredine le Roux van Langhoogte-plase tussen Botrivier en Caledon, die lede en talle gaste kom toespreek het oor die maak van wyn, en Essie Groenewald en Susan Marais gedigte soos dié hierbo, beurtelings voorgelees het. Carol Barrows van Villiersdorp Kelder het daarmee saam ’n wynproe aangebied en die gehoor kon proe aan twee wit wyne nl Villiersdorp Kelder se Slowine Sauvignon Blanc 2018 en Chardonnay 2019 (wat nog gebottel moet word) asook twee rooi wyne nl Villiersdorp Kelder se Slowine Pinotage 2017 en Fredine se eie Cabernet wat met sjokolade bedien is. Die twee desertwyne wat geproe is, was die alombekende Hanepoot Jerepigo (Treintjiewyn genoem na die afbeelding van die ou stookketel op die etiket) en Cape Ruby, soos portwyn deesdae bekend staan.

 

 

 

 

 

 

 

 

Carol Barrows (links) en Fredine le Roux (regs) saam met Annie Jooste (vise-voorsitter van VLV-Kleinmond en die skoondogter van CJ Jooste).

 

Volgens Fredine is dit amper onmoontlik om foutiewe wyn te koop, want wyn word tot drie keer voorgelê aan ‘n keuringskomitee vóór dit verkoop mag word. “Dis nie te sê dat as ‘n wyn vir jou persoonlik nie lekker is nie, dit ‘n slegte wyn is nie”, sê Fredine. “Smaak verskil, en miskien verkies jy persoonlik iets soeter of droeër.” Wanneer wyn vir ‘n wynskou beoordeel word, word die 20-punt stelsel gebruik. Die kleur van die wyn tel 3 punte, die “neus”, m.a.w.  hoe dit ruik, tel 7 punte en die palet, hoe dit proe, tel 10 punte. As ‘n wyn ‘n 18+ punt behaal, word dit met ‘n dubbelgoud-toekenning bekroon, 17+ is goud, 16+ is silwer en 15+ is brons. Wanneer ‘n wyn 12 of minder punte kry, word dit as foutwyn geklassifiseer.

 

 

 

 

 

 

 

Anne Bornmann en Mireille Nel was die wenners van die gelukspakkies met Villiersdorp Kelder se wyn.

 

 

Carol Barrows het kortliks die geskiedenis van Villiersdorp Kelder, een van die oudste produsentekelders in die land, geskets. Dit is op 28 Januarie 1922 ingewy as die Villiersdorp Moskonfyt en Vrugtekoöperasie Beperk met die hoofdoel om moskonfyt te maak van die oorskot druiwe. Twee bejaarde seuns van mnr CJ Jooste, die eerste bestuurder van die Koöperasie, woon tans op Kleinmond. In die vroeë tagtigerjare, met die bou van die Theewaterskloofdam en die Elandskloofdam in Kaaimansgat, het die produksie van wyndruiwe gestyg namate water beskikbaar geword het vir besproeiing. Vir die laaste twee dekades produseer Villiersdorp Kelder tafelwyn van buitengewone goeie gehalte. Ná die proeëry, het VLV-lede en gaste die geleentheid gehad om aankope te doen uit die voorraad wat Carol saamgebring het. Vir die oorblywende koue aande voor die kaggelvuur, was die gewildste beslis die Treintjiewyn, veral as mens dit op ‘n someraand ook met ys kan drink!

 

 

 

 Anne Meershoek skink vir Chrissie Kelly.

 

Benewens die glasies wat geklink is op die vroue in die wynbedryf, is ons in Augustus ook bewus van die viering van Afrikaans as landstaal. Met die voorlees van verse uit die Bybel en van die mooiste gedigte in Afrikaans van NP van Wyk-Louw, DJ Opperman en Eitemal wat betrekking het op wyn en wingerd, het Essie Groenewald en Susan Marais almal weer bewus gemaak watter wonderlike taal Afrikaans is.

 

Essie Groenewald en Susan Marais ná hulle voorlesing saam met Annie Jooste.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Jean Landman en Martie de Witt, twee van die Landbou&Tuinbou-groeplede wat die vergadering aangebied het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Heerlike brandy snaps saam met die desertwyne

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 Southappies saam met wit of rooi wyn.

 

 

 

 

 

 

 

Adri Keyser (links) saam met Lynette Loubser.

 

 

 

 

 

 

 

 

Lede het entoesiasties deelgeneem aan ‘n projek om “Eco bricks” te versamel.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Maria Whitehead, takbeoordelaar met die nuwe VLV-Kookboek en Brenda Neethling, wenner van die “Eco bricks-kompetisie” met ‘n verstommende 96 “stene”!!

 

Post a comment