Vrouedag-inspirasie

 

Vrouedag-inspirasie

Posted by VLV in Acqua Tak, News 10 Aug 2017

Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 9 Augustus 2017

 

Acqua se dames en hul vriendinne het hulself op Vrouedag in die geselskap van geesgenote bevind en in ware Vrouedaggees inspirasie geput uit hul vrouwees.

 

Vrouedag herdenk ‘n opmars van 20 000 vroue na die Uniegebou. Met die opmars het hulle hul misnoeë met pasboekwetgewing te kenne gegee. Hulle was dapper vroue wat tot aksie oorgegaan het om ‘n verskil en ‘n beter lewe teweeg te bring. Sedert 1994 word hulle dapperheid met ‘n spesiale dag, bekend as Vrouedag, herdenk. Vroue vandag staan in solidariteit met die 20 000 susters wat in 1956 op stil en gewyde wyse vir ‘n hele uur lank by die Uniegeboue gestaan het om hul beswaar te oorhandig. Vrouedag herinner ons maar net weer dat ‘n vrou se krag nooit onderskat moet word nie.

 

Acqua se gasspreker op die spesiale dag was Ronel Gouws. ‘n Vrou aan wie se voete algar ‘n gemaklike sitplekkie kon vind. Ronel se man was lank predikant in een van die stad se gemeentes, voor hulle by die Belgiese Sendingaksie aangesluit het. Hulle is tans predikantspaar in Jansenville. Ronel het die ent pad en die koedoes aangedurf om by Acqua te kom kuier.

 

Ronel is ‘n vrou wat die soet en die suur van die lewe persoonlik ken. Ten spyte van groot hartseer in hulle lewens, beskik sy steeds oor die vermoë om ander te inspireer en pitkos te gee vir die aanslae van ons dag tot dag bestaan.

 

Moenie toelaat dat ander jou vreugde steel nie, sê sy. Die mense wat met hulle lywe swaar van ongelukkigheid, onvergewensgesindheid, verwyte en onvergenoegdheid jou pad versper, verdien nie ‘n plek in jou lewe nie. ‘n Mens kan nie ‘n verskil teweegbring in jouself of in die lewe van iemand anders, as jy nie lewensvreugde het nie. En dis ‘n keuse wat jy maak om jou nie te laat terughou deur andere en omstandighede nie.

 

Jou huis moet‘n hawe wees vir jouself en almal wat oor jou drumpel tree. As daar donse op jou matte lê en wolmuise onder jou kooi wegkruip, hoef jy nie skuldig te voel nie. Mense kom by jou kuier oor hoe jy hulle laat voel. Nie oor hoe skoon jou huis is nie. Dit moet vir ‘n ander lekker wees om in jou geselskap en in jou ruimte te wees.

 

As jy nie jou omstandighede kan verander nie, moet jy daarby aanpas. Om aan te pas is juis die hoogste vorm van intelligensie. Jy het ‘n keuse om te ly of blydskap te vind. Omstandighede bepaal nie jou lewensvreugde nie. Jy doen.

 

Natania en Ronel

 

Die Kwa-Kwa’s het groot vreugde geput uit Ronel se teenwoordigheid en haar woorde het menige hart in die kol getref. Dit was ‘n aand van gunstige omstandighede en inspirerende samesyn. Vrouedag 2017 was inderdaad ‘n viering van ons vrouwees.

 

Post a comment

seven − 2 =