Voltooi die kursus

 

Voltooi die kursus

Posted by VLV in News, Vredendal Tak 22 Sep 2017

Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: A Beelders

Datum: 21 September 2017

 

Adri Strauss van Vredendal Apteek was die gasspreker by Vredendal VLV se onlangse vergadering. Hy verskaf waardevolle inligting oor die verskaf en gebruik van medisyne.

 

 

Hy waarsku dat dit baie belangrik is om die aanwysings op die etikette van medikasie te volg en om nie aanvullers onnodig te gebruik nie. Wees ook versigtig vir die gebruik van pynstillers. Dit plaas druk op veral die lewer en niere wat dit moet verwerk. Raadpleeg ‘n dokter of apteker oor medisyne wat in tydskrifte geadverteer word. Dit mag dalk meer kwaad as goed doen.

 

Medikasie het soms nadele ook. Die voor en nadele word deeglik  deur die dokter oorweeg voor dit voorgeskryf word. Newe-effekte moet aangeteken word. Dit is belangrik dat antibiotika reg gebruik word. Die voorgeskrewe kursus moet altyd voltooi word. Dit help om weerstandigheid te voorkom. Ongelukkig word antibiotika dikwels misbruik deur onnodige of oordosering daarvan, met die gevolg dat groter dosisse nodig word vir dieselfde effek.Daar is nie nuwe antibiotika in die pyplyn nie.

 

Meeste medisyne wat ons gebruik is reeds generiese middels. Oorspronklike middels maak ‘n klein deeltjie van die mark uit. Generiese middels bevat dieselfde werkende  bestanddele as die oorspronklike, word goed gereguleer en kan met veiligheid gebruik word. Hy beskou ‘n positiewe houding by die gebruik van medikasie as belangrik. Dit help die gestel met die opname en effek daarvan.

 

Hy gee verder wenke, soos om nie medisyne wat vir jou werk met iemand anders te deel nie. Dit kan gevaarlik wees.

Maak n lysie van jou kroniese  medikasie om by jou te hou, ingeval van ‘n noodtoestand en pas dit gereeld aan. Dra ‘n bandjie om ‘n allergie aan te dui. Die dokter en apteker moet weet wat jy reeds gebruik. Dit help met die voorskryf van medikasie. Maak seker dat medikasie wat deur die pos gelewer word korrek is. Voorsien die apteker van jou voorskrif om op rekord te hou, dit vergemaklik die voorsien van die regte medikasie. Dis raadsaam om kroniese medikasie elke ses maande met die dokter te kontroleer. Verandering is dalk nodig.

 

Na hierdie baie interessante en leersame praatjie het Adéle de Vries die lede ingelig oor gesondheidsprodukte wat deur Kansa aanbeveel word, asook ander produkte op die mark wat met welslae gebruik kan word.

 

Elaine du Randt het die verjaardag dames gelukgewens met een van Hans du Plessis se pragtige Griekwa psalms.

 

Post a comment

nine + seventeen =