Voëlvlei vier vrolike fees

 

Voëlvlei vier vrolike fees

Posted by VLV in News, Voëlvlei Tak 21 Oct 2019

Sirkel: SWD

Tak: Voëlvlei

Portefeulje: Kuns En Handvlyt

Beriggewer: Elize Locke

Datum: 20 Oktober  2019

 

Voëlvlei VLV-tak het op Saterdag, 12 Oktober, die rype ‘ouderdom’ van 85 jaar bereik en dit behoorlik gevier.

Mev Johanna (Oubaas) Pienaar het die bal aan die rol gesit en saam met ander boervroue in 1934 VLV Voëlvlei gestig. Sy was die eerste Voorsitter en Mev Lena (Willie) Honiball die eerste sekretaresse.  Daardie dae was die dames aan gespreek onder hul mans se name, gelukkig het ons vandag ons eie identiteit!  Tannie Connie Terblanche het tydens die 50jarige verjaarsdagviering die volgende staaltjie vertel wat gebeur het met die amptelike stigting van die Voëlvlei.

 

“Vervoer daardie jare was met ‘n perdekar en op die besondere dag het dit baie gereën en die vroue moes deur die vlei gaan om by die plaas te kom.  Met die terugkom was die vlei (Voëlvlei) in vloed en een van die perde het die loop geneem!  Die dames moes vir lewe en dood klou om bo te bly!  Gelukkig kon ‘n ou bekende plaaswerker die netelige situasie red en die perde tot bedaring  bring.  Tannie Connie sluit af:  Die perde het gaan STAAN, maar moenie dink VLV Voëlvlei het gaan staan nie.”

 

VLV Voëlvlei galop nog steeds voort.  Dit is vanjaar met die tak se 85ste bestaansjaar ons gebed dat ons nog vir baie jare sal voort galop!

 

160 deftige gaste het aangesit by pragtig gedekte teetafels.  Kleurryke versierings, interessant versierde koeke, vrolike servette, heerlike verversings  en pragtige teestelle uit die beste vertoonkaste het  alles bygedra tot die lieflike atmosfeer en was ‘n fees vir die oog.

 

Joma Meyer

 

Hannetjie van Lill, Marianie Rabbits, Lorraine Botha, Jackie Reinink

 

Die  hoogtepunt van die verjaardagpartytjie was egter die optrede van Veronica Bell en Monica Stuchlik van die musiekgroep ZAMAR.

 

 Veronica Bell en Monika Stuchlik (van ZAMAR)

 

Hulle het die gaste op ‘n musikale reis deur die wêreld geneem op die klanke van die viool, die penniefluitjie, mondfluitjie, die trekklavier, klavier, pragtige sangnommers en, as groot verrassing, ook die Switserse klokke.

 

                                                       

Monika Stuchlik                                                                                            Veronica Bell

 

Daar is gedwaal deur ligte klassieke nommers, vrolike dansmusiek, volksliedjies asook egte Suid-Afrikaanse nommers.

 

 

 

Nika Bell

 

 

Klein  Nika Bell, Veronica se sewe-jarige dogter, het ook verras met twee pragtige sangnommers.

 

 

 

 

 

Hierdie dag sal nie maklik vergeet word deur die dames wat bevoorreg was om dit te kon meemaak nie en sal onthou word as ‘n stilhouplekkie op hul lewenspad wat aan hulle ook sielevoedsel gebied het.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  • Lydie Terblanche October 23, 2019 at 9:24 am / Reply

    Baie geluk met julle verjaarsdag Voëlvlei!
    Groete Kleinbrak-tak

  • Vonnie Veldtmann October 27, 2019 at 7:32 am / Reply

    Dit was voorwaar n heerlike dag gevul met fantastiese musiek. Baie geluk met soveel jare! Groete Sedgefield Tak 🌸🌷🌸

Leave a Reply