Vlytige Lewenslustige Vroue op die Langpad

 

Vlytige Lewenslustige Vroue op die Langpad

Posted by VLV in Announcements, Kongres 2012 26 Aug 2012

Petro Greeff skryf oor die pad en haar reisgenote. . .

Op ‘n sonnige Maandagoggend terwyl ander vroue met wasgoed woel of op kantoor sit, het ons die langpad na die kongres in Hartenbos aangedurf.

Met ‘n vrolikheid wat uit die hart kom, het ons sommer gou in ‘n gemaklike patroon van gesels gekom.  ‘n Groot verrassing het egter op my en Hermien gewag. Die dames van Stellenbosch se verrassing was in die vorm van ‘n sakkie met breinaalde en wol, met die opdrag om te begin brei.  Die Stellenbosch tak se vroue brei blokkies vir kombersies vir ‘n ouetehuis en ons moes ons talent wys!  Omdat ons mensliewend is en graag help, het ons weggespring en gebrei met Beulah as ‘n wonderlike voorbeeld en aanvoerder.

Die berge met hul sneeukrone het ons in vervoering gehad en die ramanasvelde het nog ekstra groei bygekry met ons ge-oe en ge-aa.  Hoe wonderlik geseënd het ons nie gevoel nie, ons was amper kinderlik opgewonde oor al die mooi.  By die Blue Crane padstal het ons gestop en nadat ons die stinkhoutstoele besoek het, is ons magies gevul met heerlike braaibroodjies en souttert en natuurlik tee en koffie.  Al geselsende en klikkittie-klik, klikkittie-klik met die breinaalde,  het ons weer die pad onder ons sien verbyrol.

‘n Wonderlike drie dae het ons kongres gehou en weer Donderdagmiddag in die bussie geklim om huiswaarts te keer.  Hendrien het gewys sy kán bestuur én gesels, Hildegard moes so nou en dan die breiwerk neersit om pad te wys terwyl ek, Beulah en Hermien voortgewoeker het met die breinaalde.

Wat ‘n wonderlike gesig om die Paarlvallei te sien toe ons oor Du Toitskloofpas ry!  Toe weet ek, ek is amper tuis. Kan vyf vroue saam ry vir ‘n paar uur sonder om te skinder of lelik te praat of katterig te wees?  Ja, baie beslis!  Vir my was dit ‘n heerlike ervaring saam met mense wat ek nie voorheen geken het nie!  Moenie verbaas wees as daar sommer gou weer ‘n kongres gaan wees nie, ons vyf beplan dit sodat ons weer kan kuier op die lang pad.   Maar nou wonder ek,  wat sal Stellenbosch se vroue sonder die twee van Paarl en Wellington se arbeid gedoen het?  Ja, ons het tussen ons twee so ampertjies vier blokkies gebrei. . . . . ., sal dit maar klaarmaak as ons vir die volgende kongres die pad aanpak !

Hermien du Plessis, Hildegard du Plessis, Hendrien Visser en Beulah Oberholster besig om te knoei sodat ons sommer weer gou kongres kan hou!

Hermien du Plessis, Hildegard du Plessis, Hendrien Visser en Beulah Oberholster besig om te knoei sodat ons sommer weer gou kongres kan hou!

Post a comment

twelve − five =