VLV vroue leer van voëls en ekologie

 

VLV vroue leer van voëls en ekologie

Posted by VLV in Vredendal Tak 12 May 2015

Sirkel:   Namakwaland

Tak:    Vredendal

Portefeulje:  Landbou en Tuinbou

Beriggewer:  A Beelders

Datum:  12 Mei 2015

 

 

Jacques Tredoux van Namaqua Voëlklub het Vredendal VLV lede geboei met sy interessante weergawe van die ekosisteem. Hy haal Einstein aan wat sou gesê het: “Hoe meer ek die natuur en die kosmos in sy geheel bestudeer, hoe meer word ek bewus van ‘n groter krag daar agter.”

 

 

Wiaan Pics Wiaan2 2015 037

 

 

Die Weskus is geseënd met ‘n paar biome of habitats, wat ook dikwels oorvleuel, elk met sy eie endemiese voël- en dierspesies. Daar is die fynbosstreek nader aan die Kaap, met renosterveld tussenin tot by die tipiese Namakwalandse vetplant streek en dan die sukkulente karoo gedeeltes. Menslike aktiwiteite verander of versteur dikwels ook die habitat. So het graanlande groot gedeeltes van renosterveld, wat die habitat van die witkruis arend is, vervang. Die aanplant van palmbome het ‘n habitat geskep vir die windswawel en vir hadidas wat nie endemies van die streek is nie.

 

 

Landbou chemikalieë het wit reiers byna laat verdwyn.  Gelukkig met die toepas van ekologies vriendeliker praktyke kom hul nou weer terug. Die reiers het ‘n belangrike rol om insekte in toom te hou.  Hy gee goeie raad vir die skep van ‘n eko-vriendelike tuin. Soos om bome te plant wat vrugte of bessies dra en om nie ou takke te verwyder nie of ‘n houtkis te maak vir ‘n uil in die tuin. Hulle beheer die muisbevolking. Blomme lok voëls, wat weer  insekte in toom hou. Die koel klammigheid van ‘n tuin is ‘n habitat vir paddas wat ook help om insekte te bekamp.

 

 

Grassnysels tussen die tuinplante skep ‘n klimaat vir erdwurms wat weer kompos in die tuin bevorder en sommer onkruid ook beheer. ‘n Voëlbad in die tuin moet ‘n klip in die middel hê vir die voëls om op te sit as hulle water drink. Die beste raad nog is om endemiese plante te plant, wat ‘n ekologies vriendelike omgewing skep vir voëls, diere en insekte.

 

 

Hy vertel ook van die interessante eienskappe en gewoontes van voëls, soos die bokmakierie wat 14 verskillende roepe het, die janfiskaal se gebruike met sy prooi en die muisvoël se vegetariese eetgewoontes.

 

 

Ander voëls wat volop in die streek is, is onder andere die hoep-hoep met sy kuif, suikerbekkies (of jangroentjies), vinke, mossies, tarentale en kraaie. Diere wat voorkom is onder meer muskeljaatkatte, groukatte, meerkatte, ystervarke, muishonde, bobbejane, rotte, muise, vlermuise en skilpaaie.

 

 

Die lede is aangemoedig om by die Voëlklub se aktiwiteite in te skakel.

 

Post a comment

three × three =